Henning Mostert is dominee op Ghanzi, ’n klein dorp in Botswana, maar ook ’n meganiese ingenieur met ’n Meestersgraad in Veeartsenykunde en hy kan orrel en klavier speel en hy hou van seil – and that’s just scratching the surface!
Hy is een van daai mense wat jou beter laat voel oor die wêreld, die kerk, jouself en sommer die hele lewe.
“Ghanzi is net mooi in die middel van alles,” lag hy. “Ons is 1 000 km van Swakopmund af en 1 000 km van die Victoriameer af, 1 200 km van die Vrystaat, 1 000 van Johannesburg en 1 500 km van die Kaap af.”
Ons gesels oor die pad wat hom tot hier gebring het.
’n Graad een-juffrou het besef Henning is doof
Dit was ’n Graad een-juffrou destyds in Potchefstroom wat met ’n skok besef het die klein Henning is hardhorend.
“Ek het Graad een geslaag deur lippe te lees,” sê hy. “Van Graad twee tot Graad vier was ek in C Louis Leipoldt in Lyttleton, waar ek deel was van die skoolkoor en ek het ook deelgeneem in die operette. In 1980 het ons Reitz toe getrek en vir die res van my skoolloopbaan was ek in Reitz Hoërskool.”
Lees ook: Uit my kerkdagboek: Die teerste reis is die een na mekaar toe …
Ek het Henning destyds op ’n uitreik van die studentegemeente in Potchefstroom ontmoet. Later loop ek hom weer raak by Tuks waar hy teologie studeer, terwyl hy besig was met ’n PhD in bio-mediese ingenieurswese.
“Die studentelewe was so lekker dat ek sommer vir 13 jaar aanmekaar geswot het,” lag hy.
Hy het aanvanklik ’n beurs by Krygkor gehad en vakansies daar gewerk. Maar toe kry hy ’n beurs by die perdenavorsingsentrum op Onderstepoort waar hy lank betrokke was.
Hy wou van jongs af dominee word
Hoe het jy in die teologie beland? vra ek.
“Ek was nog altyd lief vir die Here, van kleins af,” sê hy en vertel, hy was maar ses jaar oud toe hy die eerste keer gevoel het die Here roep hom en vir almal vertel het hy gaan eendag ’n dominee word.
In 1996, op ’n bewolkte dag, in die motreën, met die son wat deurbreek, het hy ’n diep geestelike belewenis gehad wat sy roeping bevestig het.
“Dit was tydens die Biddag vir Versoening by die Uniegebou,” sê hy. “Daardie Maandag ry ek Teologiefakulteit toe om te gaan inskryf. Ek het by Onderstepoort gewerk en my baas, Alan Guthrie, vir wie ek baie respek het, het gesê ek kan in die oggende gaan studeer en in die middae kom werk.”
Hy hoor vir die eerste keer voëltjies sing
Iets wat ’n mens opval van Henning is sy fyn waarneming en verwondering vir die lewe.
“’n Groot ervaring in my lewe was toe ek as negejarige seuntjie vir die eerste keer gehoorapparate gekry het. Tot op daardie punt kon ek slegs die klinkers van die alfabet hoor – ek sou baie keer my eie woorde opmaak omdat ek nie kon hoor wat mense sê nie. Die dag toe ek die apparaatjies aansit, het ek vir die eerste keer voëltjies hoor sing. Met middagete het ek vir my ma gesê sy moet asseblief vir my boeties sê hulle moet sagter eet, want vir die eerste keer het ek die geluid van messe en vurke op ’n bord gehoor.”
Hy was nooit veel van ’n sportman nie, sê Henning, maar musiek was sy lewe op skool.
“Ek het in die koor gesing en klavier- en kerkorrelklasse geneem. Op hoërskool was ek in die kadetorkes waar ek trompet gespeel het.”
Só lyk gemeentelewe op Ghanzi
Ons gesels oor die gemeente in Botswana waar hy tans dominee is. Ghanzi is geleë naby die Sentrale Kalahariwildtuin aan die noord-westekant van Botswana en is hoofsaaklik ’n boeregemeenskap. Hulle naaste groot dorp is Maun, ongeveer 280 km se ry.
“Die gemeente is seker so 250 lidmate groot en van die lidmate bly so ver as 180 km van die kerk af. Om by die mense op die plase uit te kom moet jy swaar sand kan ry – en jy moet nie bang wees om hekke oop te maak nie! Ghanzi se mense is mense met omgeeharte en mense wat met hulle hande kan werk. Hier moet jy als kan doen, want jy kan nie sommer net gou ry om iets te gaan koop nie. Die vroue doen die mooiste handwerk en hulle kan alles doen van kerrieboontjies maak tot afval kook.”
Hy sê hy geniet dit nog altyd om dominee te wees – voorheen was hy vir 21 jaar predikant in Krugersdorp – en alles wat daarmee saamgaan. Hy sê hy was nog nooit spyt dat hy destyds die sprong gemaak het na die teologie nie.
“Die DRCB Ghanzi is ’n multidenominasionele gemeente, want ons is die enigste gemeente in Ghanzi wat in Afrikaans bedien. Aanvanklik was die gemeente ’n wyk wat deur Gobabis-Suid bedien is, en die Gereformeerde lidmate is deur die Gereformeerde Kerk op Gobabis bedien. Dit was eers in die 80’er jare dat Ghanzi as volwaardige gemeente geregistreer is en deel geword het van die Dutch Reformed Church in Botswana.”
Moeilike tye, groot genade
Ons gesels oor donker tye en uitdagings.
“Dit was nie altyd maklik in ’n hoofstroomskool nie, baie mense verstaan nie die uitdagings van gehoorgestremde mense nie. Maar ek het geleer dat God my uniek gemaak het. Dat hy my fisiese ore doof gemaak het, sodat ek sy stem beter kan hoor! ’n Ander baie moeilike tyd in my lewe was toe ek en Annine destyds na ’n kort huwelik geskei het. Dit was vir ons albei ’n baie donker tyd en na vele beraders en dokters ensovoorts het ons besluit om die huwelik te beëindig. My grootste vrees was dat ek uit die bediening geskors sou word, want dominees mag mos nie skei nie. Wat ek in daardie tyd geleer het, is dat jou beste vriendin nie noodwendig jou lewensmaat is nie. Annine is ’n jaar later weer gelukkig getroud en tot met haar skielike dood in 2022 was ons op goeie voet met mekaar.”
Lees ook: Dana Snyman | Gedagtes by Cottesloe: Kerk moet nooit museum word nie
Hy vertel van nuwe seisoene, groot genade, van wonderlike vriende deur die jare en die mooi mense van Ghanzi wat voel soos familie. En hoe lekker dit vir hom is om met ’n koppie koffie op sy stoep te sit en kyk hoe die hase sy gras vreet, en die meerkatte en die Botswana se mooi sonsondergang.
“Dis nog wild in die omgewing,” sê hy. “Soms is daar luiperds op die plase, die mense hier praat van ‘tiers’, of leeus, of hiënas wat hulle ‘bontwolwe’ noem, of kom die olifante deur.”
Wat is daar wat min mense van jou weet? vra ek.
“Min mense weet dat ek op sesjarige ouderdom vir Kerkbode ’n briefie geskryf het waarin ek sê dat ek eendag ’n dominee wil word! Vandag, 48 jaar later, kan ek vir Kerkbode sê: ‘Ek het toe ’n dominee geword en ek is baie gelukkig in wat ek doen!”
Ds Jaco Strydom is verbonde aan die Echo-jeuggemeenskappe en die NG Gemeente Villieria.