Maria’s Keepers: One woman’s escape from the Jehovah’s Witnesses Church in South Africa deur Sam Human.
Uitgewer: Penguin Books, 2024
Resensent: Aneleh Fourie Le Roux
Maria’s Keepers is ’n komplekse boek – nie omdat dit moeilik lees nie, maar omdat die skrywer soveel moeilike onderwerpe probeer verweef rondom een vrou se lewensverhaal. Haar belewing as kind wat grootgeword het as ’n Jehova se Getuie, gee ’n mens insig in die trauma en isolasie wat daarmee saamgaan, die manipulasie, dreigemente en praktiese implikasies wat haar daarvan verhinder om weg te stap.
Die boek gaan ook oor geslagsgebaseerde geweld, patriargale leierskap, argaïese letterlike Skrifinterpretasies wat ’n kultuur in stand hou waarin seksuele oortredings klaarblyklik die maklikstes is om mee weg te kom. Hierdie tendense is natuurlik nie beperk tot Jehova se Getuies nie en ’n mens moet jou bly afvra: Watter van hierdie praktyke is ook deel van ons praktyke? Hoeveel kerke doen mee aan die toesmeer, wegsteek of wegpraat van seksuele oortredings in eie geledere? En watter maniere gebruik ons om vrouestemme stil te maak?
Human het deeglike navorsing gedoen oor die Jehova se Getuies en wys herhaaldelik die diskepansies uit tussen die amptelike posisie van die kerk en die werklike praktyke.
Beskikbaar by LAPA.
Aneleh Fourie Le Roux is die uitvoerende hoof van CABSA (die Christen-Vigsburo) en betrokke by verskeie taakspanne van die NG Kerk.