Sy besighede befonds sy tentmakerpos
“Ek het altyd vir my ouers gesê, ek wil eendag net vir myself werk. Na skool het ek letterlik alle tipe besighede probeer terwyl ek swot. Van ’n karwas, tot dromdienste, van besproeiing installeer tot groente verkoop – noem dit en ek het dit probeer! Vandag is ek mede-eienaar van twee suksesvolle besighede in die skrootmetaalbedryf en ek dank die Here vir alles wat ek geleer het uit my vorige probeerslae,” sê Erick van Breda wat onlangs bevestig is as diensleraar by NG Florauna in Pretoria.
Toe hy op skool was het hulle dikwels getrek en hy onthou een van die eerste goed wat sy ouers sou doen, was altyd om die kerk op ’n nuwe dorp op te soek. Dit is van daai tyd af dat hy lief is vir die Here en die kerk, sê hy.
Vroeër die jaar gesels ek met my ou sending-prof, Dons Kritzinger, op Clarens. Destyds het hy van sy grootste kritiek gekry toe hy geskryf het oor die belangrike rol wat tentmakers kan speel in die toekoms van die NG Kerk. Daai kritiese stemme raak nou al meer stil, want vandag kan ons sien hoe dit werk.
“Ek het twee besighede wat vir my genoegsame inkomste genereer sodat ek my tentmakerpos by NG Florauna kan behartig – ek moet sê dit voel steeds vreemd om dominee genoem te word! Die bediening in die kerk is die werk waar ek die grootste beloning ooit ontvang, en dit sonder om ’n sent te verdien,” lag hy. “Ek is verantwoordelik vir die lidmate van 13 tot 30 jaar oud en in besonder die belydenisgroep. My passie is die liefde van Jesus en die kerk help my om dit uit te leef, ek is ewig dankbaar dat die diensleraarbaan oopgegaan het in die NG Kerk.”
Lees ook : Predikantenood | ‘Ons sal meer diensleraars moet gebruik’
Erick sê dit is die grootste voorreg van sy lewe. Hy word volledig aanvaar deur die leiers en gemeentelede as deel van die leraarspan. Hy is bewus van enkele ander diensleraars wat beleef voltydse dominees of kerkraadslede kyk effe neer op hulle, maar hy ervaar presies die teendeel.
Hy praat met groot lof oor drie jaar se deeltydse studies by Hugenote Kollege op Wellington om ’n diensleraar te word, en veral oor die wonderlike mense wat so oor sy pad gekom het.
“Ek het só baie geleer,” sê hy, en vertel van Annette Potgieter, Anandie Greyling, Tom Smith en ander se groot invloed op sy geestelike vorming.
Lees ook: Resensie: Ivor Swartz skram nie weg van moeilike vrae nie
Ook sy klasmaats. Een van sy nuwe vriende, Gerald Kamfer, is pas bevestig op Oudtshoorn en Erick sê hy het trane in sy oë gekry toe hy later die dag met hom oor die foon praat.
Ons gesels oor sy pad tot hier.
’n Krisis en ’n ontdekking
“Ek het so ’n bietjie church hopping gedoen in 2008/2009 en vir ’n ruk lank by ’n kerk vasgebrand omdat baie van my vriende ook daar was. Daar was ’n hele paar insidente by die kerk wat my laat besef het dat maklike antwoorde op moeilike vrae nie hoort nie. Verantwoordelike teologie is broodnodig, en soos enige jong man wat aan die brand is vir die Here het ek gedink dat ek my deel sal moet doen. En waar beter om te begin as by goeie opleiding.”
Een van die grootste draaipunte in sy lewe was toe hy sy vrou, Suretha, destyds ontmoet het. Hulle woon in Pretoria-Noord, teen die Magaliesberg saam met hulle drie hondekinders.
Ons gesels oor hoe nie net die mooi dinge nie, maar ook die uitdagings en krisisse ons tot nuwe geestelike ontdekkings lei en Erick vertel van een van die grootste krissise – en ontdekkings – in sy lewe.
Dit het gebeur in 2017.
“Suretha was vir werk op pad Amsterdam toe en het op die vlug ’n bloedklont ontwikkel wat later deur haar hart en longe geskiet het. Daar was drie dokters en ’n suster op die vlug wat dadelik aan haar begin werk het. Ja, dis ’n wonderwerk. Dr Hugo Tempelman het letterlik vir Suretha aan die lewe gehou van Libië tot in Marseilles, Frankryk, waar sy vir ’n maand lank in die hospitaal was.”
Dit het die Vrydag gebeur. Erick het eers daarvan gehoor toe ’n dokter hom uit Frankryk bel, en hy kon eers die Maandag vlieg.
“Die Maandagoggend het ds Herman Carelsen saam met my gebid en vir my gesê dit is natuurlik om kwaad te wees in hierdie tipe situasie. Al wat ek vir hom gesê het, is ek is nie kwaad is oor wat gebeur het nie, ek is net so teleurgesteld dat ek nie saam met haar was in daai moeilike oomblik nie. Dat sy alleen is. Dit het my nogal gebreek.”
’n Paar dae later kom ’n jong Franse meisie in die hospitaal in Marseilles na hom. In haar hand was ’n briefie, wat haar broer vir hom moes vertaal, want sy kon nie Engels praat nie. Haar naam was Noëlie.
“Dit was vir haar belangrik dat ons moet weet dat Suretha nooit alleen was nie. Dat Noëlie by haar was vandat die vliegtuig geland het in Marseilles tot Suretha meer stabiel was. Hoe ongelooflik is God nie, dat Hy my antwoord oor die een ding waaroor ek werklik teleurgesteld was! Wat ek geleer het, is dat God altyd by ons teenwoordig is en dat Hy ’n manier sal vind om dit vir ons te wys.”
Ek vra wat hom frustreer, en wat hom hoop gee vir die kerk en sien hoe hy worstel om iets te sê wat hom frustreer.
“Ek dink ek is nog in my honeymoon-fase,” lag hy. “Daar is regtig amper niks wat my frustreer nie. Ek is so dankbaar vir die geleentheid en die ondersteuning om my roeping uit te leef. Dit verander alles as ’n mens dit kan doen. Die kerk is ’n plek waar ons saam bid, eet, lag, huil, baklei, stry, feesvier en treur – solank ons dit net saam as ’n gemeenskap van gelowiges beleef, dan doen ons kerk reg, en dit gee my hoop!”
Ds Jaco Strydom is verbonde aan die Echo-jeugontwikkelings en die NG Gemeente Villieria.