Kerkbode het PSD ds Christo Jonck gevra oor die predikantenood in die Noord-Kaap en wat gedoen word om dit aan te spreek. Hy vertel meer.
Die Noord-Kaap is die grootste provinsie in Suid-Afrika (beslaan 30,5% van die land), maar het die kleinste bevolking. Slegs 2,2% van die land se bevolking woon hier. Die ekonomiese groeikoers is een van die laagste in die land.
In die NG Kerk in Suider-Afrika word die aanbod van beskikbare voltydse predikante al minder. Aan die een kant is daar ’n beduidende getal (348) predikante wat tussen 60 en 65 jaar oud is, wat beteken hulle moet almal binne die volgende vyf jaar aftree.
Verder neem die getal teologiese studente af. Daar studeer tans 112 studente om predikant te word.
Die NG Kerk in Noord-Kaapland is die sinode met die derde minste gemeentes. Hierdie situasie dra daartoe by dat gemeentes wat vakant is en ’n leraarspos adverteer, baie min aansoeke ontvang.
Dit gebeur ook toenemend dat leraars beroepe na gemeentes in ander provinsies aanvaar.
Verder is byna 30% (19 van die 64) van die leraars in hierdie streeksinode 65 jaar of ouer.
Om oor ’n pad vir kerkwees vorentoe te besin, is die laaste paar jaar kursusse aangebied met tema’s soos: Kerkwees in die Noordkaap, die kerk van die toekoms, en onlangs, ’n werkswinkel met die tema: ’n Nuwe bediening vir ’n nuwe toekoms.
Lees meer: Slypskool 2023: Predikante, diensleraars en bedienaars is die toekoms van bediening in die NG Kerk
Hierdie kursusse het ons meer bewus gemaak van ons identiteit, van wie ons is in God die Vader. Daaroor word trinitaries gedink. Ons dink opnuut oor die verskillende ampte, veral die amp van gelowige.
Die opleiding van lidmate as bedienaars van die Woord en die aanbieding van ’n pastoraatkursus sien ons as stappe om gereed te wees vir die toekoms. Ons prentjie van die toekoms is dat ons al hoe meer van diensleraars en bedienaars van die Woord gebruik sal moet maak.
Ons is kerk binne bepaalde gemeenskappe. Dit is hier waar die Here die plaaslike gemeente roep en wil gebruik. Ons gee tans klein eerste stappe. Ons bou prototipes en toets modelle. Ons besef dat die drie-enige God met ons op ’n nuwe, opwindende pad na die toekoms is.