Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Hierdie berig spruit voort uit die Slypskool vir Skrywers 2023. Dit is ’n jaarlikse kreatiewe leergeleentheid waar leraars en ander woordmense in die kerk se kommunikasie-ekosisteem die kans kry om in ’n rustige omgewing en met kundige begeleiding te skryf aan aktuele artikels. Die slypskool word aangebied in samewerking tussen Kerkbode en die Taakspan Navorsing. Vanjaar se tema was die inhoud van die agenda van die Algemene Sinodesitting.

Slypskool 2023: Predikante, diensleraars en bedienaars is die toekoms van bediening in die NG Kerk

Verslae oor kwynende lidmaatgetalle, predikantsposte en legitimasiesyfers wat afneem skets ’n somber prentjie van hoe dit lyk binne die NG Kerk die afgelope paar jaar. Máár … daar is ’n ander storie wat besig is om te ontvou, skryf Estian Mentz.

Dit is weliswaar ’n groot “maar” wat ons hopeloos te maklik miskyk: die groei in die ampte van die bedienaars van die Woord en diensleraars.

Hierdie skuiwe in hoe ons as kerk dink oor die ampte het vanaf 2019 begin plaasvind toe die Algemene Sinode vir die eerste keer die dokument “Raamwerk vir Missionale Bedieningsontwikkeling in die NG Kerk” aanvaar het. Die verslag sê onder meer dat die kerk in lyn met ’n meer missionale denkrigting die klem met bediening verskuif het na roeping van mense tot deelname aan en in die koninkryk van God.

Lees ook: Slypskool 2023 | ‘Teologie het ’n lyf nodig om werklik teologie te wees’

’n Diensleraar, en ook ’n bedienaar, word teologies opgelei om die bediening voort te sit op plekke wat nie noodwendig ’n predikant kan bekostig nie. Hierdie groep mense, wat geroep word om die kerk van die Here so te dien, se rol gaan in die toekoms al hoe groter en nodiger word. Veral op die platteland.

In die sinodale streek van Noord-Kaapland sien ons al heelwat bedienaars van die Woord wat aktief besig is om binne hulle gemeentes te bedien en te werk. Die rol wat hierdie lidmate speel is astronomies. Ek dink die idee dat die persoon wat die boodskap in die kerk bring, plaaslik is en die konteks verstaan waarin daar gepreek en gewerk word op ander terreine van kerkwees, speel ’n groot rol in die sukses van hierdie bane in die NG Kerk. In ’n opname wat gedoen is onder gelegitimeerde diensleraars, wys die data dat 34% van die respondente in plattelandse gemeentes staan. Uit daardie 34% kom die “amper skokkende” persentasie dat byna 77% van hulle in leiersposisies staan binne hulle gemeentelike konteks. Dit wys vir ons baie duidelik hoe daar gemeentes van die NG Kerk is wat wil bly voortbestaan en ook dat ons dalk die veerkragtigheid van gemeentes om aan te pas geweldig onderskat.

Hierdie syfers word duidelik uiteengesit in die verslag wat die Algemene Kuratorium (AK) voorberei het vir die Algemene Sinode wat in Oktober 2023 gaan plaasvind. Die verslag vermeld ook hoe die 2019-besluit oor nuwe bane in teologiese opleiding ontvang is in die groter kerklike samelewing:

“Die diversifisering van bane in teologiese opleiding het almal belangstelling ontlok van geroepe lidmate en is opgeneem as studente by die onderskeie opleidingsentra. Die onderskeie bane gee die moontlikheid dat veel meer studente teologie kan studeer en ampswerk in die kerk kan doen as in die periode 2015-2019 toe daar slegs een baan moontlik was. Indien die kerk hierdie praktyk sou toepas oor die volgende dekades, sal die teologiese gaping tussen “lidmate” en “predikante” betekenisvol verklein.”

Lees ook: #AlgemeneSinode2023: Só lyk die agenda vir saamkoms van 15-20 Oktober

’n Mens hoef net na die AK se syfers te gaan kyk om te sien en besef hoe belangrik hierdie skuif was en ook steeds is vir die kerk van vandag.

Geregistreerde teologiese studente in 2023:

Bedienaar: 91

Diensleraar: 70

Predikant: 103 (Jaar 1-6)

As ’n mens net na hierdie syfers kyk, is dit duidelik dat daar in die eerste plek ’n groot aanvraag was vir sulke bane van teologiese opleiding, maar ook dat daar ’n geweldige belangstelling is vanaf persone wat geroepe voel om in die kerk te dien maar nie noodwendig as voltydse leraar nie. Net so ’n bietjie meer as 50% van die huidige diensleraars staan in ’n ander beroep.

Lees ook: Slypskool 2023 | Lidmaattal: Die 60-plussers staan sterk in die kerk

Die NG Kerk is nog al die jare ’n kerk waarin haar lidmate ’n geweldige groot en belangrike rol gespeel het, en dit sal so aanhou in die toekoms. Die vraag is uiteindelik, hoe gaan dit oor 10, 15 of 20 jaar lyk van nou af?

Ons weet nie altyd wat die toekoms inhou nie, maar een ding waaroor ons sekerheid kan hê is dat God vandag en in die toekoms sy kerk onderhou. Op watter manier dit ook al mag wees.

  • Ds Estian Mentz is leraar by NG Gemeente Kimberley-Harmonie. Hy skryf ook graag stories oor die mense van die Noord-Kaap en is deel van die Noord-Kaapland se afvaardiging na die Algemene Sinode 2023. Sy e-posadres is: estian@ngkharmonie.co.za 
  • Hierdie berig spruit voort uit die Slypskool vir Skrywers 2023. Dit is ’n jaarlikse kreatiewe leergeleentheid waar leraars en ander woordmense in die kerk se kommunikasie-ekosisteem die kans kry om in ’n rustige omgewing en met kundige begeleiding te skryf aan aktuele artikels. Die slypskool word aangebied in samewerking tussen Kerkbode en die Taakspan Navorsing. Vanjaar se tema was die inhoud van die agenda van die Algemene Sinodesitting.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top