Die NG Kerk se kerkeie opleiding wil mense wat geroep is om teologie te gaan studeer, om te bedien in die kerk, nie net kopkennis met hier en daar ’n ‘praktiese ervaring’ gee nie, skryf Hestie Hay-Blaauw.
’n Dominee in Namibië het altyd te veel werk, die afstande is wyd en die mense min. Jy help daarom waar jy kan. So beland ek onlangs by die Namibiese Kuratorium (die groep wat verantwoordelik is vir teologiese opleiding in Namibië) met die spesifieke taak: bevordering van kerkeie opleiding.
Ek probeer toe terug dink aan die tyd toe ek self kerkeie opleiding ontvang het. Die betekenis en die inhoud daarvan is vervat in die naam self: Jy word geleer oor die unieke belydenisse, kenmerke en inhoud van die kerk waaraan jy verbind is. Ek onthou dat die klasse vir my lekker was en dat ek baie respek gehad het vir die dominee wat dit vir ons aangebied het. Tot my skande was dit al wat ek kon onthou. Dit het nie van my kop na my lyf gesak nie.
Lees ook: Slypskool 2023 | Lidmaattal: Die 60-plussers staan sterk in die kerk
Ek sit een oggend in my kollega se spreekkamer. Ons gesels oor verskeie kwessies. Ek deel met hom my wens dat ek hierdie goed al op universiteit kon leer wat ek nou eers leer. Hy sê toe vir my dat ek wel daarvan geleer het, ek loop net nou eers in dit in. Ek besef net daar dat teologie ’n lyf nodig het om werklik teologie te wees. Dit is presies wat die kerkeie opleiding wil bereik. Ons wil mense wat geroep is om teologie te gaan leer, om te bedien in die kerk, nie net kopkennis met hier en daar ’n ‘praktiese ervaring’ gee nie. Die kerkeie baan moet die student ontmoet daar waar hy of sy is en dan vorm, omvorm en hervorm tot die teologie van jou kop in jou lyf in beweeg en dan uit na die wêreld.
Die Algemene Kuratorium se verslag wat gaan dien by die Algemene Sinode stel voor dat die pad van teologiese opleiding as volg moet lyk: John of Liz wil teologie gaan leer. Hulle sal dan registreer vir ’n duplekse kursus. Die eerste baan bestaan uit ’n akademiese kwalifikasie wat by ’n geakkrediteerde opleidingsinstelling aangebied word. Die tweede baan is dan die kerkeie baan wat gestandaardiseer en geakkrediteer is en dus dieselfde sal wees vir alle teologiese studente. Behoeftes en kontekste verskil en daarom is daar buigsaamheid in terme van die aard wat die kerkeie baan aanneem. John en Liz sal gelegitimeer word wanneer hulle beide van hierdie twee bane voltooi het.
Lees ook: #AlgemeneSinode2023: Só lyk die agenda vir saamkoms van 15-20 Oktober
As daar na die geskiedenis van teologiese opleiding gekyk word, is dit duidelik dat daar tye kom wat ’n goeie in-diepte herdink van opleiding nodig is. Ons aanvoeling is dat ons nou weer in so ’n tyd is, dat die tyd ryp is, dat ons amper in ’n kairos-tyd is.
In Romeine 12:2 gebruik Paulus die woord kainos wat vernuwing aandui. Daar is egter twee woorde in Grieks vir ‘nuut’: kainos en neos waarvan neos die mees algemene gebruik is. Neos beteken dat iets nuut is. Byvoorbeeld, ek het ’n nuwe paar skoene gekoop, maar na vyf jaar se loop is hulle nie meer nuut nie en hulle sal nooit weer splinternuut wees nie. Kainos aan die ander kant vertel van ’n vernuwing. Alhoewel ek nog op dieselfde plek gebore is en moontlik dieselfde lyk, is ek nie meer dieselfde nie. Ek word van vooraf oorgemaak.
Ons begin verstaan dat presies dít die taak van teologiese opleiding is. Om besig te wees met die skryf van God se storie met mense. Hoe wonderlik om te dink dat God ons met hierdie opwindende werk vertrou.
- Hestie Hay-Blaauw is ’n leraar by NG Kerk Windhoek-Oos en dien op die Namibiese Kuratorium.
- Hierdie berig spruit voort uit die Slypskool vir Skrywers 2023. Dit is ’n jaarlikse kreatiewe leergeleentheid waar leraars en ander woordmense in die kerk se kommunikasie-ekosisteem die kans kry om in ’n rustige omgewing en met kundige begeleiding te skryf aan aktuele artikels. Die slypskool word aangebied in samewerking tussen Kerkbode en die Taakspan Navorsing. Vanjaar se tema was die inhoud van die agenda van die Algemene Sinode se sitting.
