Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die klein gemeente NG Laeveld het ’n mooi storie hoe ’n pou se foto op hulle kerkkalender gelei het tot ’n nuutgeverfde kerkgebou. Hierdie foto is verlede jaar voor die herstelwerk gedoen is geneem. Foto's: Verskaf

Elders gesien | Klein Laeveldse gemeente skep nuwe moed na pou-foto tot opknap lei

Hierdie Forumbydrae is geskryf en regstreeks deur 'n Kerkbode-blogger opgelaai.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Hoe gemaak as julle kerkgebou, wat elke jaar julle kerkkalender versier, mooimaak nodig het waarvoor daar nie fondse is nie? 

Ds Francois Schwalb het in ’n onlangse Yskasstories-nuusbrief van Oostelike Sinode vertel hoe dit gebeur het dat hulle klein Laeveldse gemeente die jaar eindig met ’n nuutgeverfde kerkgebou. Hulle het nie fondse of hande gehad het vir die nodige herstelwerk nie, maar dit is tradisie dat die kerkgebou die jaarlikse kerkkalender versier. Toe laat hy vir Hudson die pou poseer in die voorgrond met sy stertvere oopgewaaier om die verweer van hulle kerkgebou weg te steek … dis hierna wat dinge begin gebeur het.

So het hy hierdie storie vertel …

Teen einde 2023 besluit ons om ’n foto van ’n pou voor ons gebou as voorblad-foto te gebruik.

NG Gemeente Laeveld in Modjadjiskloof (voorheen bekend as Duiwelskloof alhoewel ons eerder praat  van Bybelskloof) het hierdie jaar 95 jaar van amptelik kerkwees gevier! Sedert die 1880’s was hier reeds ’n kerk, asook ’n monument met grafte van die 1899-1902 oorlog, op ons terrein. Dis eers sedert 4 Mei 1929 dat die kerk amptelik as NG Laeveld bekendstaan.

Hier is soveel kosbare verhale deur dekades wat getuig van die Here se genade en seën in die gemeente – loer gerus op ons aktiewe Facebookblad vir die mooi stories wat tans afspeel. Een so ’n onlangse verhaal is dié van die herstel en mooi maak van ons kerkgebou en terrein in Oktober 2024.

Ons het ’n tradisie om ’n mooi foto van ons kerk se gebou as voorblad vir ons jaarlikse kalender te gebruik. Ons is ’n klein gemeente met min beskikbare hande, omdat meeste lidmate voltyds van Maandag – Saterdag werk. Die enigste dominee is ook op ’n 25% deeltydse pos aangestel en dus net Sondae en vir noodgevalle beskikbaar. 

Twee agterkleinkinders van oom Theo Dicke is onlangs gedoop in die gemeente. Hier word Marcel Louw,gedoop terwyl sy ouers Marike en Henry toekyk.
Kylie le Roux luister saam het haar ouers, DJ en Lize na ds Francois Schwalb.

Teen einde 2023 besluit ons om ’n foto van ’n pou voor ons gebou as voorblad-foto te gebruik. Ons was net té skaam vir ons verf wat afdop en broodnodige herstel- en opknapwerk wat aan ons gebou en tuin nodig was. Baie mense het oor hierdie voorblad-foto gekla, maar die opknappingstaak was net té groot om self aan te pak.  

Die Here het ’n plan gehad! ’n Lewenslange lidmaat van ons gemeente het die tydelike met die ewige verwissel in September 2024 – Johann Gottfried Theodor Dicke. Sy naam se betekenis – God se genade, God se vrede, geskenk van God, regverdigheid. 

Sy ouers is in 1938 in ons gemeente getroud. Hy word in 1940 in ons gemeente gedoop en sy agterkleinkinders wat onlangs ook by ons gedoop is, is die sesde generasie van hierdie wonderlike familie. 

Vandag voel dit steeds soos ’n droom – want die opgradering en verskil is groot – ons het nuwe moed!

Onder leiding van oom Theo se dogter en kleindogter, besluit hierdie familie om ons kerkgebou en terrein op te knap – as eerbetoning vir die Here en oom Theo – voor die gedenkdiens. Twee weke werk hulle saam met ’n span van die plaas en niks is vir hulle onmoontlik nie. Hulle skep ’n lys van dertig-plus donateurs wat elk iets vir die projek skenk, vanaf verf, houtplanke, sink, plante, kompos tot vaardighede en dienste. Elke dag loer ons in om die vordering te aanskou en te help waar nodig. Donderdagmiddag 19 Oktober, toe die gedenkdiens om 14:00 begin, is die verf letterlik nog nat.  Vandag voel dit steeds soos ’n droom – want die opgradering en verskil is groot – ons het nuwe moed!    

  • Ds Francois Schwalb het by navraag laat weet die pou het aan die vorige predikant behoort en sy naam is Hudson.
  • Berig aangepas na plasing.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top