Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
André Mouton van Otavi in Namibië skryf: Is dit nie nou tyd vir ons almal om ons ideologiese vertrekpunte eerlik te erken en te herbedink nie? So ’n selfondersoek kan ’n deurslaggewende rol speel om meer Christosentries te funksioneer met ’n oortuigende fokus op Christus as die middelpunt van geloof eerder as op ons ideologiese pole. Ons moet vir eens besef dat die kerk nie eenkant staan nie maar die versameling van ons almal is.
Ons bevind ons tans in ’n teologiese spanningsveld tussen fundamentalisme en liberalisme. Ja, ons moet dit op die naam noem voor ons enige vordering gaan maak! Hierdie posisies funksioneer dikwels as meta-narratiewe, wat die manier waarop Skrif en tradisie geïnterpreteer word, beïnvloed. Terwyl ’n fundamentalistiese vertrekpunt fokus op dogmatiese sekerheid en die letterlike interpretasie van die Skrif, beklemtoon die liberale uitgangspunt kulturele aanpassing, pluralisme en ’n meer simboliese lees van die Skrif. Hierdie verteenwoordig ’n spektrum van sienings en dit is tyd om te erken dat die oomblik as ek meer oop is vir enige standpunt as iemand anders, is ek meer liberaal as daai persoon. Hoe verder ons op hierdie spektrum beweeg, hoe meer liberaal of fundamentalisties raak ek – afhangende van die rigting van verskil van die argument.
Ons moet hierdie polarisasie openlik erken voordat ons sal begin vorder na ’n meer Christosentriese kerk en weg beweeg van etikette wat verdeling aanwakker. Erkenning van ons eie feilbare vertrekpunte skep ’n platform vir eerlike gesprek oor hoe geloof in die hedendaagse konteks uitgeleef kan word. Dit help om die kernmissie van ons as kerk te herbevestig as ’n liggaam wat gefokus is op Christus.
’n Christosentriese benadering plaas Jesus Christus in die middelpunt van geloof, interpretasie en praktyk met Jesus as Fokus van ons teologie wat die Skrif en tradisie interpreteer deur die lens van Jesus se lewe, dood en opstanding. Ons fokus op die praktiese uitlewing van Christus se liefde en geregtigheid en volg Jesus se model van versoening en bou brûe tussen verskillende sienings.
Ek is van die oortuiging dat as ons as lidmate nie hierdie selfondersoek aanpak nie, die risiko van verdere verdeling hoog sal bly en daartoe bydra dat die kerk ’n slagoffer van interne konflik en eksterne irrelevansie bly. Daarenteen, as ons onsself toespits op ’n Christosentriese visie, kan ons as kerk ’n getuienis van eenheid bied in ’n verdeelde wêreld, maar bo dit alles kan dit genesing bring binne gemeenskappe wat verskeur is deur ideologieë en kulturele polemiek.
Nou is die tyd vir ons almal wat onsself as lidmate van die NG Kerk ag om sy ideologiese vertrekpunte eerlik te beskou en te hervorm in die lig van ’n Christosentriese visie en kan ons ons missie herontdek as ware agente van versoening, liefde en waarheid te word deur te fokus op wat werklik saak maak—die persoon en boodskap van Jesus Christus.
’n Laaste versoek: “Hou asseblief op om van hulle te praat, die kerk is net ons!”
Ek stem saam met André dat ons ‘n Christosentriese kerk moet wees. My aanvoeling is dat die verskille in die kerk juis gaan oor wat ons onder ‘n Christosentriese kerk verstaan.
Paulus het hierdie vraag só geantwoord: “Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ‘n aanstoot en vir die ander is dit onsin, maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God.”
Dis duidelik dat Paulus nie bekommerd was oor “eksterne irrelevansie” nie, want hy het geweet: die verlossingsboodskap van Jesus lyk irrelevant vir Jode en Grieke in die wêreld, maar die Here roep deur sy Gees nou nog mense na Hom toe wat dit relevant vind omdat hulle in Jesus van hulle sondes verlos word. Hy leer ook vir Timoteus: “Dit is ‘n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos….” (1 Tim. 1:15)
Verder: die kerk is nooit ‘n slagoffer nie. Selfs in vervolging is ons in Christus meer as oorwinnaars (Rom.8:37) – mits ons bereid is om vir Hom te sterf
Geagte Danie, Jy haal Paulus aan wat presies Christus in die middel plaas. Nog iets daaroor is dat die Jood en Griek wat Paulus hier na verwys al reeds Christene is, nie heidene nie. Hulle verskil oor hulle verskillend verstaan omdat hulle van verskillende kulture af kom wat hulle eie verstaan beïnvloed en nie belangrik vir Jesus is nie.
Ek praat oor ons persoonlike ideologieë wat ons as vertrekpunt van interpretasie gebruik. Net soos jy nou hier maak en dieselfde fout wat Kerkbode gemaak het toe hulle die opskrif gekies het. Ons wil die konflik soek waar dit nie is nie en kies die gedeelte van die brief wat ruik na iets wat ons kan gebruik om kanselasie toe te pas en twis aan te wakker. Ons hou op om te luister! Ons moet juis hoor wat ons kan doen deur net te begin met wat ons van en vir Christus kan doen. Nie om ‘n ideologiese styd aan te wakker nie. Danie, ek wil graag hoor wat jy dink die meeste nodig is in ons kerk. Oordeel van ‘n broer wat anders dink of om nederig te luister met die doel om eenheid in Jesus aan te moedig. Dan gesels ons dalk met mekaar op ‘n manier waar ons van mekaar kan leer en so onsself kan verloën en eerder Christus te volg.