Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Nico de Klerk van Wellington skryf: Dr Nadia Marais se rubriek “Wat beteken dit tog om gelukkig te wees?” het my ’n rukkie besig gehou. Hoeveel meer betekenis kom uit die ou vertalings met woorde soos “welgeluksalig”, “goedertierenheid” en “vergenoegdheid”. Afrikaans bly mooi.
Op ’n trein van San Francisco na Silicon Valley waar van die wêreld se “gelukkigste” mense woon, sien ek graffiti op ’n wit muur wat my nou al jare besig hou. Dit is diep woorde in die enkele kort sin:
Are you happy?
Dalai Lama
Die res van die dag in Silicon Valley bly die vraag spook as ek met mense vergader. Wat sien ek? Gelukkige mense? Ek besluit nie oor hulle nie, ek dink net.
In Indië agter in ’n taxi, ry ons by ’n stegie verby en in daardie oomblik sien ek ’n ou man met net ’n doek om hom gevou wat ’n karretjie uit die Bybelse tyd trek met hooi op. As ek kon skilder, het ek sy gesig gedoen wat gespreek het van “welgeluksaligheid”. Ek beduie die Hindi-drywer om om te draai, want ek wil met die ou man gaan praat, maar die drywer verstaan ek sê hy moet vinniger ry.
Dit is twee beelde wat opkom in my besinning oor welgeluksaligheid. Veral toe ek leer hoe Augustinus begin wonder het oor die konsep. Augustinus is genooi as spreker by ’n groep ryk, invloedryke mense en nooi sy partytjievriende saam vir ’n rit in die koets waarmee hy vervoer word na die geleentheid. Deur die klein venstertjie van die koets se deur, sien Augustinus in die ry vir ’n vlietende oomblik die gesig van ’n arm, dronk bedelaar. Hy sit terug en besef op daardie oomblik dat die dronk bedelaar se gesig van veel meer vreugde spreek as wat hy ken in sy eie lewe. Vandaar sy besinning oor geluk. (Uit Augustinus se Confessions 6.6.9, trans. Maria Boulding, New York: New City Press, 1997, 101. Asook uit David Rylaarsdam se hoofstuk, “Theological reflections on Augustine’s Confessions”, p 95.)
Die insig in geluk, welgeluksaligheid, ens, het soms net ’n oomblik nodig in ons lewe om ’n groot verskil te maak. Maar dan moet ’n mens nogal bereid wees om te dink. Anders gaan die oomblik verlore.
Ander kere kan dit ’n langdurige situasie wees wat ’n mens in staat stel om geluk te ontdek. Vat nou maar twee mistieke figure uit die Middeleeue soos Anna-Maria van Schurman en Madame Jeanne Guyon. Eersgenoemde uit die gereformeerde tradisie en laasgenoemde van die Katolieke tradisie. Beide ontwikkel ’n geloofsbenadering wat gerig is om die “self” af te breek, met ander woorde daarmee saam die ego. (Uit Sacrifice and delight in the Mystical Theologies of Anna Maria van Schurman and Madame Jeanne Guyon (Studies in Spirituality and Theology) University of Notre Dame Press; 1st edition (November 7, 2014).
Beide ontdek en getuig van die hoogste vorm van geluk onder die moeilikste omstandighede. Beide word deur hulle geloofstradisie beskuldig en veroordeel vir kettery en word toegesluit in eensame afsondering tot die dag van hulle dood. Maar daar in eensame afsondering, vind hulle ’n vlak van vreugde, geluk, welgeluksaligheid, wat nie een van hulle sou verruil vir enige Sillicon Valley nie.
“Love is not a feeling, it’s an act of your will,” sing Don Francisco. “Love” can vervang word met “happiness”. Dit is waar geloof, emosionele intelligensie en selfdissipline, saam inskop en waar die drie in wisselwerking, ’n mens op enige plek of oomblik beheer kan laat neem van jou geluk, hoe jy voel, hoe jy lyk en hoe jy situasies hanteer.
Dit is hoe ek besluit het om net so gelukkig te wees in Sillicon Valley as in townships van Suid-Afrika. Welgeluksaligheid is nogal ’n voorreg en ’n gawe van Bo.