Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief: Gereformeerde identiteit staan op vaste fondamente

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Theo Danzfuss van Nelspruit skryf: (Die brief ‘Ons identiteit is eerste in Christus, nie die NG Kerk nie’ verwys). Ons NG identiteit staan nie teenoor ons identiteit in Christus nie, maar is juis ’n getuienis van wat ons daarmee bedoel. Die inhoud lê veel dieper as die post-modernistiese teologie waar jy maar kan kies en keur hoe om die Here te dien, solank jy net sê jy glo in Christus.

LEES OOK: ‘Ek wil deel wees van ’n identiteitskeppende NG kerk in ’n komplekse, veranderende wêreld’

Sinvolle vernuwing deur teologies verantwoorde reformasie lyk anders as deformasie deur bloot pragmatiese dekonstruksie. Ons aanvaar die gereformeerde belydenisse nie net in soverre (quatenus) dit met die Skrif ooreenstem nie, maar juis omdat (quia) dit met die Woord ooreenstem. Ons gereformeerde identiteit staan dus op vaste fondamente wat nie willekeurig soos die wind waai kan verander nie, juis omdat dit met die Here se Woord ooreenstem.

So ’n klompie jare gelede kon ’n mens nog as jy by ’n erediens instap dadelik weet of dit ’n NG Kerk is of nie. Vandag moet jy eers die naambordjie buite gaan lees om te weet. Ons gereformeerde identiteit is grootliks reeds “dismantle”.

Natuurlik is (of was?) ons NG identiteit in Christus:

  • Juis daarom mag ons nie sy kerk “dismantle” nie.
  • Juis daarom weet ons die hele Skrif is deur God ingegee, nie net Johannes 3:16 nie.
  • Juis daarom aanvaar ons die inhoud van ons gereformeerde belydenisskrifte, nie net “in soverre” nie, maar juis “omdat” dit met die Bybel ooreenstem.
  • Juis daarom mag ons eredienste en kerkregering nooit ’n solo-vertoning wees nie, maar ’n getuienis van Christus se drievoudige ampswerk in sy kerk.
  • Juis daarom moet sy Wet steeds in ons eredienste en kategese ’n duidelike rol vervul om ons van sonde te oortuig, na Christus te dryf en as reël vir ons heiligmaking en dankbaarheid te dien. God het dit met sy eie vinger geskrywe. Jesus het gesê dit staan vir ewig.
  • Juis daarom is deeglike kategese en openbare geloofsbelydenis noodsaaklik vir ons NG identiteit.
  • Juis daarom is selfondersoek voor die nagmaal so belangrik.
  • Juis daarom is ons eredienste nie die plek om mense te vermaak nie, maar ’n heilige vergadering waar God sy volk ontmoet.
  • Juis daarom is daar ’n groot verskil tussen teologies verantwoorde reformasie en soos die wind waai, eiewillige pragmatiese dekonstruksie van ons gereformeerde identiteit. (Brief verkort – Red).

Op al Kerkbode se gespreksblaaie moedig ons oop, respekvolle en opbouende gesprek aan. Lees hier wat ons daarmee bedoel: https://kerkbode.christians.co.za/kommentaarbeleid/

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Brief: Gereformeerde identiteit staan op vaste fondamente”

  1. Hi, Theo.

    Jy sê dat ons identiteit in Christus staan nie teenoor ons indentiteit in NG Kerk nie, iets waarmee ek saam kan stem. Die probleem kom egter in wanneer ons identiteit in die NG kerk veroorsaak dat ons mense wat nie deel in daardie identiteit nie begin uitsluit (en dit is presies wat besig is om te gebeur). Daaroom moet ons nou ons identiteit in Christus bo ons identiteit in die NG kerk stel sodat dit ‘n plek kan word waar ALMAL welkom VOEL. As dit beteken dat ek sekere gedeeltes van my NG identiteit moet prysgee is ek meer as bereid. Hoekom? Want my identiteit is EERSTE (dit beteken nie alleenlik nie) in Christus, nie die NG Kerk nie.

Comments are closed.

Scroll to Top