Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Leon Venter van Graafwater skryf: Theo Danzfuss se brief oor die “dismantling” van ons gereformeerde identiteit en JG de Bruin se antwoord daarop verdien aandag.
Die tema van die institusionele verval en verlies van identiteit in die NG kerk is kompleks. Die institusionele verval van die NG kerk word al dekades beskryf. Talle skrywers verduidelik die storms binne die groter Christelike kerk waarvan die NG kerk deel is. Die NG Kerk se proses is uniek, maar dit is deel van ’n wêreldwye intuimeling van institusies.
Die NG Kerk het oor eeue mense se identiteit, waardes en oortuigings gevorm. Haar identiteitskeppende rol as instituut kan nie ontken word nie.
Wêreldwyd lei dekonstruksie van institusies soos die NG Kerk – hoewel goed bedoel –tot onbedoelde resultate. Die uitdaging vir die NG Kerk is om te verseker dat enige dekonstruksie en veranderinge die stabiliteit, vitaliteit en identiteit van die NG kerk se geloofsgemeenskap versterk, nie afbreek nie.
Prakties is die NG Kerk ’n menslike organisasie (instituut) met ’n tradisie, kerkorde en teologiese raamwerk. Gesonde institute bied kontinuïteit en skep identiteit deur hul gedeelde tradisies en praktyke. Wanneer die NG kerk se tradisies en praktyke gedekonstrueer word, moet ons verstaan wat ons in die plek daarvan plaas. Dekonstruksie is maklik. Verstaan ons wat die nuwe identiteit is wat ons bou?
Dis naïef om te dink die magte van ons tyd – wokeness, individualisme, dekonstruksie, relativering van waarheid, kanselering van ander, ens. nie ook die NG kerk se identiteitskeppingsvermoë erodeer nie. Die NG kerk ervaar die erosie intens: Konflik en verdeling. Kerklos jongmense. Afnemende kerkbywoning. Gemeentes sluit. Huwelikke vind nie meer plaas in kerke nie. Begrafnisse uit die kerk word al minder. Ons lidmate se identiteit, selfverstaan en selfbelewing skuif. Ek is oortuig dat sommige dekonstruksies van NG kerk tradisies “knee-jerk” bewegings is midde in ’n see van sekularisasie. Ons is nie almal ’n Calvyn of Luther nie!
Theo vra tereg: “Wat sal oorbly as ons klaar afgebreek het?” Hierdie vraag hou my wakker in die nag. My identiteit is in Christus gewortel, maar die NG kerk as institusie met haar praktyke het my gehelp om die identiteit te ontwikkel. Slaag ons dekonstruksie van die NG kerk instituut daarin om mense se identiteit in Christus beter te bou? Die tyd sal leer. Nie alle dekonstruksie sal die toets van die tyd deurstaan nie! Om te dekonstrueer net omdat jy nie die diepte, rykdom en wysheid van die tradisie waardeer nie, is onverstandig.
Ek het nie die antwoord nie, maar ek weet ons het ’n reuse uitdaging wat ons eerlik in die oë moet kyk. Ek wil graag deel wees van ’n suksesvolle identiteitskeppende NG kerk in ’n komplekse, veranderende wêreld. Nie vir die handhawing van die NG kerk as instituut nie, maar vir die voortgang van ons verbondenheid en identiteit in Jesus Christus. Maklike antwoorde en kanselasie van kritiek sal nie deug nie. Konstruktiewe dialoog is nodig.