Gestuur om te getuig deur Hermie van Zyl, saam met Nico Smit
Uitgewer: Bybelkor, 2024
Resensent: René Potgieter
As ’n mens die boek Handelinge opneem, dink jy miskien dat die boodskap net gaan oor die opdrag om die evangelie te verkondig. Dit is inderdaad ons opdrag as kerk. Maar in die besondere boek, Gestuur om te getuig, breek prof Hermie van Zyl ’n ander kant van die boek Handelinge oop, naamlik dat ons eintlik na onsself in die spieël moet kyk. As kerk moet ons vra: Wie moet ons wees wat God uitstuur na Judea en Samaria en tot aan die uithoeke van die wêreld? Hierdie boek help ons om dié vraag te beantwoord.
Ons as gestuurde kerk word opgeroep om ons vooroordele, gedagtes oor ander, woorde vir ander en dade teenoor ander in oënskou te neem. Handelinge roep ons as kerk om eerlik te wees met onsself. Is ons die kerk wat God wil uitstuur om die evangelie te gaan verkondig? Het ons nie dalk ook eers bekering van ons hart, gedagtes en woorde nodig nie? Gestuur om te getuig roep die kerk om te besin oor wat die fokus is van ons kerkvergaderings, hoe ons as kerk se visie en missie lyk en sluit dit dan aan by Handelinge se opdrag aan die kerk. Ons as kerk moet ingestem wees om baie fyn te luister na wat die wil van God is, voordat ons die wêreld invaar en vir hulle probeer vertel wat God van hulle verwag.
Hierdie boek konfronteer ons met verskeie opvattings wat dalk diep in ons DNS vasgelê is. Dit vra dat ons ons sal oopstel vir die verterende werk van die Heilige Gees, voordat ons dit waag om as getuies van Jesus Christus se koninkryksplan op te tree.
Beskikbaar by Bybel-Media.
Ds René Potgieter is ’n gemeenteleraar by Stellenberg-gemeente.