Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief: ‘Ons vergeet dat ons almal vreemdelinge en bywoners is; slagoffers maar ook oorwinnaars’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Ds Rudi Swanpoel van Johannesburg skryf: Soos ek hier skryf, weet ek baie goed dat jou nuus anders lyk as myne. Ons lewe mos nou lankal nie meer in die tyd van TV1, TV2 en TV3 nie. Ons radio’s is ook nie meer almal ingestel op Radio Suid-Afrika of Afrikaans Stereo nie.

Wat ons glo het ook ongelooflik uiteenlopend geword.

Ek wil jou vra: dink jy dat dit wat ons beleef en voor hoop en begeer ewe uiteenlopend geword het?

 Ek skryf hier uit Johannesburg uit. Almal van ons wat hier bly (álmal) beleef elke liewe dag ‘n wye spektrum dinge: van geweldige mede-menslike vriendelikheid tot die heel slegste wat uit mense kan skei.

 Almal van ons hoop dat die water-krisis sal ophou en dat meer lewensgevaarlike gate in die strate reggemaak sal word.

 Ons begeer sonder uitsondering dat ons stad vir meer mense veilig sal wees, dat elke werksoeker werk sal kry en dat kinders ongehinderd en met genoeg kos en koki’s sal kan skoolgaan.

En nog.

 Ek wonder of wat ons beleef, waarvoor ons hoop en wat ons begeer soveel anders is as enigiemand anders elders in Suid-Afrika?

Ook ons broers en susters wat op plase bly.

Ek weet nie van jou nie, maar die afgelope twee tot drie weke se skielike belangstelling van die Amerikaanse president in ons land en sy gepaardgaande dekrete, het my nie bly gemaak nie.

En voor jy ophou lees: as jy iemand is wat opgewonde en bly is daaroor, belowe ek jou dat daar iets (dalk baie) in my is wat verstaan hoekom jy so voel.

Dit wat my ontstel het, sou ek kon beskryf as verdraaiings van die waarheid, vreesgedrewe propaganda of goedkoop politiekery. Maar daai opmerkings bring ons nêrens nie.

Wat my dieper as diep ontstel het, is om te sien hoe ons agteruit boer as dit by ons dissipelskap kom.

Ons volg nie meer vir Jesus nie.

Ons sukkel om te hoor wanneer dit die Prins van Vrede is wat praat en wanneer dit Mammon is wat verleidelik fluister.

Ons vergeet dat ons deel is van die opgestane Liggaam van Christus, maar vind eerder ons heil in groepe wat ons eie soort pyn deel.

Ons vergeet dat ons almal vreemdelinge en bywoners is; slagoffers maar ook oorwinnaars.

Ons vrees die moontlikheid dat ons grond weggeneem kan word, maar ondersteun lande, persone en projekte wat blatant besig is om hulle grondgebied uit te brei, dikwels terwyl hulle hulle geensins aan aanvaarde norme (wat nog te sê wette!) steur nie.

Ons vertrou op menslike prinse.

Ons is soos skape, maar ek weet nie of ons agter die Goeie Herder aanloop nie.

Ons het (weer) begin glo dat dit maar OK is om mense te gradeer, mense netjies te kategoriseer in groepe: sekeres wat meer plek en aansien en respek en besittings as ander verdien.

Dis nie reg nie.

Daar is nie ’n wit volksmoord aan die suidpunt van Afrika nie.

Dis nie reg om te sê dat daar een is nie.

Dit sal nooit ooit reg wees nie.

 

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top