Hierdie Forumbydrae is geskryf en regstreeks deur 'n Kerkbode-blogger opgelaai.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Plaaslike Christenleiers het Woensdag 12 Februarie in ’n verklaring onlangse optrede deur die Amerikaanse regering, soos die onttrekking van steun aan ondermeer MIV-programme in Suider-Afrika via USAID, ten sterkste veroordeel.
Die skrywers sê die narratief van die Amerikaanse regering onder leiding van pres Trump is gebaseer op “verdigsels, verdraaiings en blatante leuens” oor die situasie in Suid-Afrika en “doen ook afbreuk aan die belangrike werk om veiliger, gesonder gemeenskappe te bou en die komplekse geskiedenis van grondonteiening deur wit Europeërs van swart Afrikane, wat ’n meerderheid van die land vorm, aan te spreek.”
Die verklaring is intussen deur meer as 300 mense, waaronder heelparty NG dominees, onderteken en werf nog steun aanlyn.
Die groep lig uit dat hulle uiters bekommerd is oor die onttrekking van Amerikaanse hulp en die nadelige impak wat dit in besonder sal hê op die MIV-gemeenskap wat op antiretrovirale medikasie staatmaak, en vir wie toegang tot hierdie medikasie lewensnoodsaaklik is.
- Opgedateer na publikasie.