Sy indrukwekkende agtergrond in kerkmusiek en orrelspel, sowel as sy ervaring in onderrig en radio, maak hom die ideale persoon om hierdie belangrike rol te vervul, skryf Wilmi Wheeler van Kaapkerk. Sy het vir hom ’n paar vrae gevra.
Wilmi Wheeler (W): Wat is jou professionele agtergrond?
Diederick Basson (D): Ek het in Bellville grootgeword en aan die Hoërskool DF Malan gematrikuleer. Na matriek studeer ek aan die universiteite van Pretoria en Stellenbosch met spesialisering in kerkorrel (uitvoerende kuns) en kerkmusiek. ’n NZAV-beurs stel my in staat om in 1997 in Amsterdam te studeer waar ek navorsing vir my M-graad gedoen het, asook onder leiding van wyle prof. Ewald Kooiman my verder toegespits het op die uitvoeringspraktyk van Franse en Duitse Barokorrelmusiek. In 2016 behaal ek ’n PhD in kerkmusiek aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroom).
Ek was vir byna 30 jaar ’n onderwyser verbonde aan o.a. die Hoërskool Stellenberg en Somerset College. Ek het by geleentheid ’n module in himnologie by die Kweekskool aangebied en ek was vir 10 jaar deeltyds aan die US Musiekdepartement as musiekteorie-dosent verbonde.
As orrelis was ek voorheen werksaam by die NG gemeentes Welgemoed, Stellenbosch-Sentraal, Stellenbosch-Wes en Tafelberg. Tydens my verblyf in Nederland was ek as ’n hulp-orrelis betrokke by die Engelse Kerk op die Begijnhof en die VU Ziekenhuis-kapel in Amsterdam.
Een van my groot liefdes is radio en ek is sedert 2003 by Fine Music Radio in Kaapstad as ’n vryskutomroeper verbonde.
W: Hoe het jy hier beland?
D: Die onderhoud met my voorganger, dr. Andrew Kok, in die Kerkbode van 14 Augustus 2024 het my aandag getrek. Met die lees daarvan was my eerste gedagte: Hoe kan iemand so gelukkig wees om só ’n werk te kan doen? Onderaan die artikel was daar ’n skakel na die advertensie vir die pos van Argiefbestuurder. Die res is geskiedenis.
W: Wat het jou aangetrek tot die rol in die Argief-span?
D: Ek was gelukkig om op talle historiese orrels in Europa te kon speel, veral instrumente waarop Bach, Mozart, Handel en Mendelssohn gespeel het. Dit was ’n unieke ervaring om op so ’n wyse letterlik aan die geskiedenis te kon raak. As ‘n mens by ’n argief instap, kry jy dieselfde ervaring.
Verskeie aspekte het my na die pos toe aangetrek, waaronder die mense – wat ek toe nog net op die webblad gesien het – maar ook die unieke geleentheid om betrokke te kon raak by die bewaring van ’n belangrike deel van ons land se geskiedenis. Die feit dat my voorouers se inligting in die Kerkenboek van de Caap van goede hope (1665-1695), wat in die Argief bewaar word, opgeteken is, het natuurlik ook ’n rol gespeel.
W: Hoe sien jy die rol van die Argief in die groter konteks van die kerk?
D: Lied 577:1 se woorde kom by my op: “Hou Christus self sy kerk in stand…” As ons oor die kerk praat, praat ons oor Christus wat mense as sy gemeente vergader, beskerm en onderhou (HK, Sondag 21). Die Argief kan dus gesien word as die gedokumenteerde bewys van hoe Christus sy kerk hier in stand hou.
Argiewe het baie om te vertel van hoe mense geleef het. Verskillende generasies kyk deur verskillende lense na hierdie verhale. Elkeen, ongeag ouderdom, agtergrond en opleiding, gaan iets anders raaksien wanneer daar na dieselfde voorwerp gekyk word. Die geleentheid en ruimte moet dus geskep word om met hierdie feite in aanraking te kom sodat die verhale geskryf en oorvertel kan word –’n proses wat reeds met groot sukses deur my voorgangers begin is. Dit is verder belangrik dat ons voortdurend jongmense aan die Argief moet blootstel. Dit is immers die jeug van vandag wat môre die bewaarders van ons geskiedenis sal wees.
W: As jy enige historiese figuur of geloofsleier vir ’n koppie koffie kon ontmoet, wie sou dit wees en hoekom?
D: Ek dink dit sou die Duitse komponis Johann Sebastian Bach wees. Nie net was Bach een van dié belangrikste komponiste en kerkmusici gewees nie, hy was ook ’n diepgelowige mens. Dit verg ’n besonderse persoon om die lydingsverhaal van Jesus só te verklank dat dit selfs vandag nog tot ‘n ongelowige kan spreek.
Bron: Kaapkerk.co.za