Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Düring Cornelius van Kleinmond skryf: Dis belangrik dat die ware rede vir die NGKN se uittrede uit die Algemen Sinode (AS) nie nou in wollerigheid verdoesel moet word deur kommentatore op openbare media nie.
Die NGKN het die tugweg soos in Matt. 18 uitgespel is, met die Algemene Sinode Moderamen (ASM) geloop soos besluit is op die Maart 2022 sinodesitting in Windhoek. Hierdie weg is gekies omdat die Algemene Sinode afgedwaal het van die Gereformeerde belydenis en Skrifgesag, wat daartoe gelei het dat dit wat die Bybel sonde noem, in sommige AS-besluite ontsondig word, soos dit bv sigbaar word in die AS se besluite oor selfdegeslagverhoudings.
KYK OOK: Uiteenlopende reaksie: NG Kerk in Nam maak bande los met Algemene Sinode
LEES OOK: NG Kerk Namibië tree ná jarelange proses uit verband met NG Kerk se Algemene Sinode
Dis tog die eenvoudige waarheid oor Namibië se uittrede. Die helder getuienis hiervan is krities belangrik vir Namibië se lidmate, maar veral belangrik vir duisende lidmate in die RSA wat steeds nie weet wat lê aan die wortel van Namibië se uittrede nie, lidmate wat steeds in goeie trou dien met die gerustheid dat hul kerkleiding die Woord steeds eerste stel soos dit vir dekades altyd gedoen is.
Die krag van Namibië se getuienis om ter wille van die eer van Christus en die Waarheid in Gods Woord as enigste rigsnoer vir ons lewe, uit te tree, moet nou sterker as ooit beklemtoon word. Dit mag vir duisende lidmate in SA die noodsaaklike wekroep wees om bewus te word van die moeras van sondige wêreldkompromie waarin hul hulself mag bevind.
Dis BAIE TRAGIES (sad) dat d AS d NGK nou, byna soos ook d ANC d land in “d grond in” bestuur!!
Voort met die kompromië! Wat wil die ASM en die Namibiese afgevaardiges nog aangaan om n skiking te bedink in n eindelose maalkolk om mekaar nog “broeders en susters” te mag noem? Alleen in die Waarheid lê ons krag!
As iemand wat self persoonlik betrokke was by hierdie proses wat my broer Cornelius beskryf kan ek maar net ten sterkste bevestig dat dit die korrekte perspektief is wat hy uitspel. Die NGKN het weggestap van die Algemene Sinode omdat daardie liggaam ondanks herhaalde oproepe en duidelike Skrifgetuienis botweg geweier het om tot bekering te kom. Reeds sedert 2015 was daar ‘n opwelling van verontrusting en ‘n stroom van getuienis vanuit Namibië (en natuurlik ook ander oorde) wat direk en indirek die NGK terug geroep het na God se Woord, maar dit het op dowe ore geval soos wat ekself en ander afgevaardigdes na 2023 se AS dit persoonlik ondervind het.
Nog ‘n perspektief verdien ook vermelding. Met ons afskeiding van die AS is die reformasie proses vir ons hier in Namibië nog glad nie afgehandel nie. Vir gelowiges in Namibië is ons bevryding van die AS ‘n nuwe geleentheid om sonder verhindering opnuut die wil van God in sy Woord te soek en toe te pas in elke plaaslike kerk. Voortdurende reformasie – semper reformanda – beteken nie allerhande nuwighede en menslike uitdinksels nie, maar ‘n terugkeer na die Woord en belydenis van die kerk van alle eeue. Dit kan ongemaklik wees, veral as ons besluit om weer eerlik na die Woord te luister oor sake soos die vrou in die lerende en regerende amp om nou maar een voorbeeld te noem. Mag die Here van sy kerk ons almal hierin lei deur sy Heilige Gees!
Ds. Johannes de Koning
NGK Tsumeb
So jammer dat baie swak Skrifuitleg vir jare deur kerkleiers gebruik word om nou iets sonde te noem wat nie sonde is nie. So maklik om meerderwaardig te praat dat een party (alleen) “die waarheid” beet het.
Skeur die liggaam uit mekaar en pleit dan dat die geskeurde stukke nóú by mekaar gehou moet word?
Die ondersoeke en verslae oor Skrifgesag en -interpretasie is oor vele dekades deur almal meegegaan – maar skielik pas dit een saak nie en word die AS se gesamentlike pad sonde en dwaling en wêreldgelykvormigheid genoem?
Ek kry deurgaans géén behoorlike Skrifgebaseerde stukke en gesprekke by sovele wat hierdie skeuring verheerlik nie.
Hóé gaan ons mekaar vashou as die arms en kop en hart uitmekaar geruk is?
Indien die waardes van die Woord van sorg en liefde en nederigheid en diensbaarheid en deernis en eenheid so maklik weggesmyt word, bly daar nie veel oor om oor te praat nie.