Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief: Namibië sê totsiens vir die NG Kerk se Algemene Sinode

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Gerhard Mahne van Kaapstad skryf: Op 20 Maart het die NG Kerk in Namibië die 63 jarige Algemene Sinode (AS) waarvan hy sedert 1962 deel was, gegroet. Ons kan dit metafories voorstel as ʼn gesin in die familie wat vir oupa sê dat hulle nie langer sy besluite gaan volg nie. En al sê oupa ook dat sy besluite nie afdwingbaar is nie, dra hulle steeds oupa se van, en raak sy besluite dus ook hulle naam. Nou sal oupa sien dat Namibië nie meer elke 4de jaar by hom gaan kuier nie.

LEES OOK: Die rede vir NGKN se uittrede uit AS

Wat Namibië gedoen het, was nie om van die NG Kerk af weg te breek nie, maar om die AS se eie kerkorde Art. 37 toe te pas wat sê dat ʼn samestellende kerk (sinode) met behoud van alle regte, wat die naam van die kerk insluit, uit die AS kan tree. Die AS is nie die NG Kerk nie, dis ʼn vergadering van die NG Kerk. Wanneer ander selfstandige, volwasse gemeentes, ringe en sinodes dalk dieselfde pad as Namibië gaan loop, sal dit dus nie die einde van die NG Kerk beteken nie.
Gemeentes, ringe en sinodes kan steeds hulle identiteit en onderlinge eenheid behou. Hulle het immers die Drie Formuliere van (Gereformeerde) Eenheid wat hulle saamsnoer. Hulle sal ook steeds saam met die kerk van die eeue die Drie Algemene Geloofsbelydenisse bly onderskryf. En dís wat die naam Nederduitse Gereformeerde Kerk beteken. Elke kerk moet aanhou reformeer, maar dit beteken nie om stadig maar seker van die wesenlike Skrifwaarhede in belydenisskrifte en geloofsbelydenisse weg te beweeg nie.
Dis nie nou tyd vir tong-uitsteek nie, maar Oupa AS, jou era is waarskynlik verby. Jy het oor baie jare ook goeie werk gedoen. Dankie daarvoor. 

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

4 thoughts on “Brief: Namibië sê totsiens vir die NG Kerk se Algemene Sinode”

  1. Dries Coetzee

    Is dit moontlik dat die vesluit van die NGKN, waarin ek self vir baie jare gedien het, die sluise vir ander Sinodes oopgetrek het? Die moderatuur van die AS het ongelukkig klaarblyklik geen idee van hoe groot die weerstand teen die gewraakte besluite rakende SVG verbintenisse en die akkomodering van alle menings, opinies en leefstyle op die grond in die NGK is nie. Die tyd het gekom dat die AS aan die hand vanvsy eie reglement, sy regmatige plek inneem as navorsingsliggaam wat die kerk op die grond met bevindinge – lw nie eers aanvevelings – begin bedien. Dit sal waarskynlik die AS se enigste behoud wees.

  2. Dis interessant dat die skrywer van opinie is dat die NG Kerk in Namibië steeds NG Kerk bly nadat hulle die pad van Art. 37 gekies het. Hoe kan jy jouself losmaak van ‘n organisasie en steeds deel bly daarvan. Die twee sake weerspreek mekaar mos ooglopend. Daar is ook ‘n regsbeginsel dat jy nie ‘kan handel dryf’ onder ‘n organisasie se naam as jy nie aan die organisasie behoort nie. Die NG Kerk in Namibië is dus wetlik, en ook kerkregtelik nie meer deel van die NG Kerk nie en sal vir hulle ‘n ander naam moet kry om as kerk aan te gaan.

  3. Kirstein Combrink

    Tragies hoe die AS voeling verloor en nie geluister het na gemeentes en lidmate se diepe kommer en hartseer oor besluite wat lynreg bots met die Woord en ons belydenisskrifte!
    Dit is sonder twyfel ‘n Babelse verwarring as twee NG buurgemeentes verskillende skrifwaarhede toepas. Dit kom neer op twee evangelies, twee Jesusse waarvan net een Waarheid is en die ander vals? Daar is geen manier waarop die AS uit hulle selfgeskepte ‘vasgelooptheid’ kan kom nie!
    Daar MOET ‘n breuk kom tussen waarheid en valsheid in sinodes en ringe – wat NIE kerkskeuring sal wees nie. Kerkskeuring is slegs moontlik in Christus se kerk (die selfstandige gemeente) en moét ten alle koste verhoed word, die Skrif verbied dit.

Comments are closed.

Scroll to Top