Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Die MIV/vigsaktivis Zackie Achmat vra dat kerke saam met ander die nood help verlig wat deur die skielike afsny van Amerikaanse fondse aan hulporganisasies geskep is.
Hy hoop kerke sal help om die nood te verlig wat veroorsaak is deur die skielike afsny van Amerikaanse befondsing aan hulporganisasies in Afrika sê die MIV/vigsaktivis Zackie Achmat (links) wat hier Aneleh Fourie le Roux van CABSA se hand skud. By hulle is ds Riaan de Villiers van Groote Kerk. Foto: Heléne Meissenheimer

Ons het die kerk se hulp nodig met MIV/vigskrisis, vra aktivis


Soos meer as 20 jaar terug, toe kerke saam met ander in die voorste linies geveg het vir mense met MIV/vigs se toegang tot antiretrovirale mediese behandeling, so is geloofsgroepe se hulp nou weer nodig.

So meen die MIV/vigsaktivis Zackie Achmat, wat self ’n vigslyer is en in die laat 1990’s tot vroeë 2000’s as stigter van die Treatment Action Campaign (TAC) die veldtog gelei het om antiretrovirale medikasie (ARV’s) vir alle mense wat met MIV/vigs leef maklik bekombaar te maak.

Nou neem hy weer saam met vennote soos die Desmond Tutu-gesondheidstigting en Unite Behind hierdie selfde stryd weer op, het hy op Maandag 17 Maart vir ’n groepie kerk- en NGO-leiers vertel wat sy jare lange vriend ds Riaan de Villiers vir dié doel na die konsistorie van die Groote Kerk in Kaapstad genooi het. 

Lees ook: ELDERS gesien | Teoloë stel petisie op teen narratief wat Trump oor SA dryf

Met verwysing na die miljoene rande in Amerikaanse finansiering aan oorsese hulporganisasies wat sedert Februarie in opdrag van president Donald Trump opgeskort is, het Achmat begin deur te sê daar was nog nie ’n sterk geloofstem hieroor nie.

Hy het verduidelik nie net hulpprogramme wat ARV’s verskaf word hierdeur geraak nie, ook subsidiëring aan projekte rakende malaria, tuberkulose en ander hulpprogramme oral in Afrika is drasties gesnoei.

Lees meer: Nuusflits | Vries van fondse uit VSA, wat glo miljoene lewens bedreig, ook gevoel in Eswatini

Soos ander, het die gebeure hom bekommerd dat ’n gesondheidskrisis op pad is tensy daar opgetree word. Wat hy en sy vennote in gedagte het, som hy op in hierdie drie hooffokuspunte: 1) Om druk op die regering te sit om MIV/vigsbekamping as begrotingsprioriteit te hanteer; 2) Om alternatiewe finansiering te vind vir MIV/vigsprogramme wat hul Amerikaanse geld kwyt is; en 3) Om gemeenskappe te mobiliseer om plaaslike hulporganisasies by te staan wat hul deure moes sluit.

Hy hoop dat kerkleiers en gemeentes hiermee sal kan help, het Achmat aan die groep gesê wat die St. Georges-katedraal se deken Terry Lester en eerw. Sikawu Makubalo, leraar van die Central Methodist Mission, ingesluit het. Die getal is volgemaak deur emeritus-ds Willa McKay, wat onlangs ingeval het by die organisasie Societas for ECD, asook Aneleh Fourie le Roux van CABSA (die Christelike Vigsburo van Suid-Afrika), ’n plaaslike NGO wat gemeenskappe bedien wat swaar getref word deur maatskaplike kwessies meegebring deur MIV/vigs.

De Villiers het ná afloop hiervan vir Kerkbode gesê hy meen die kerk se fokus moet wees om saam te staan met hulle wat swaarkry.

Vriende van Kerkbode

Ondersteun Kerkbode, die amptelike blad van die NG Kerk – én die oudste bestaande Afrikaanse blad in Suid-Afrika – ter wille van betroubare nuus in die kerkgemeenskap…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top