Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief | Namibië – Moet ons juig of ween?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Philip Coetzee van die Strand skryf:

Ek lees onlangs die verklaring van die Sinode van Namibië, en onmiddellik ontstaan daar twee prominente vrae midde hierdie verhaal. Moet ons juig omdat hulle verklaar dat hulle eerder volle erkenning gee aan die Heilige Skrif soos vervat in die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB), die oudste belydenisskrifte van die Gereformeerde kerk (7. Die volkomenheid van die Heilige Skrif; “Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat – mag ook niemand, selfs die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word – ja, al was daar ook ’n engel uit die hemel, soos apostel Paulus sê (Gal 1:8). En aangesien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat (Deut 12:32), blyk dit duidelik dat die leer daarvan heeltemal volmaak en in alle opsigte volkome is”.

Of moet ons ween oor die skeuring as gevolg van dwaling binne die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) as gevolg van die Algemene Sinode se onverbiddelike voortstroming van omgekeerde hervorming en miskenning van 5.; 7.; en 14. in die Nederlandse Geloofsbelydenis? Omgekeerde hervorming in die sin van lynregte besluite teen dit wat die Skrif, God se storie, ons leer.

Ja, dit is so, daar moet reformasie plaasvind. Reformasie as ’n aksie wat die voortbestaan van die Skrif beskerm en ten doel staan om ’n breër konteks aan die Skrif te verleen, dus ’n duideliker verstaan vir die persoon in die straat, en nie teenstrydige uitsprake of “bevindings” nie. Soos byvoorbeeld dat die skeppingsverhaal en die eerste drie hoofstukke, en vir sommiges die eerste 11 boeke, van die Bybel net mites is, dan is dit mos nie ’n volle Godsbegrip nie, en dan is sonde, die Satan en Hel relevant en nie absoluut nie, “dit is opsioneel of jy daaraan wil glo.”

In onlangse studie het ek die volgende in een van ons opdragte teëgekom: “Wright (2010:50), in sy boek The mission of God’s people, skryf die volgende: “The Bible begins and ends with creation. It opens with the words, “In the beginning God created the heavens and the earth” (Gen 1:1), and its final great vision opens with the words, “Then I saw a new heaven and a new earth” (Rev 21:1). The trouble is that some Christians seem to have Bibles that begin at Genesis 3 and end at Revelation 20”. Hy beskryf dit as hartseer, en my kommentaar daarop is dat God se storie dan onvolledig is, dus ’n halwe waarheid.

Om terug te keer na “reformasie”: Martin Luther het die moed van oortuiging gehad om die Heilige Skrif te openbaar aan die man in die straat deur sy artikels vas te spyker aan die deur van die Kasteelkerk in Wittenberg, die volle waarheid het gevolg. Die kontemporêre “Martin Luthers” (Namibië, Koinonia) het die volle Skrif aan die deur van die Algemene Sinode van die NG Kerk vasgespyker, en ’n “revolusie” teweeggebring, maar die “Katolieke Kerk” skop vas; is daar ’n nuwe revolusie aan die broei, en gaan dit die kerk van God skade berokken, wat alreeds in ’n gevorderde stadium is, EN gaan God dit toelaat?

Mense, medebroers en -susters, ons moet besef ons gaan voor ’n Regterstoel verskyn, hoekom begin ons nie met daadwerklike introspeksie nie en besef wat ons besig is om te doen, is teen God se Wil, Weg en Waarheid? (1 Tim 1:3-7; 2 Tim 4:3-4), of wil ons God “ontneem” van sy alleenreg? “Bekeer julle want die koninkryk van die hemel is op hande” (Matt 3:2).

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top