Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Jaco Strydom gesels met Vader Ashe Steenbok wat ingenieur was en toe NG teologie geswot het

In Graad elf het sy hele wêreld in duie gestort.

“Die skool het weer begin na die vakansie. Ek het die eerste dag heel voor links gesit. Jy weet, ek het geslaag net met één punt – en ’n mens sou dit sekerlik kon verstaan met alles wat gebeur het. Toe almal weg is kom Juffrou Schultz, die Engelse onderwyseres, na my toe en sy sê vir my: ‘Ons is baie jammer jou pa het gesterwe’. Nou moet jy onthou, dís ’n juffrou wat heeltemal anders as ek gelyk het. Baie ligter as ek! En sy omhels vir my en sê: ‘Jou pa het gesterwe, maar jy moet twee goeters onthou. Een, jy het nog steeds ’n lewe. En twee, jy het nog steeds ’n pa, ’n hemelse pa.’ Toe loop sy uit. En daar sit ek alleen in die klas en ek besef, maar ék het mos nog steeds ’n lewe en ek het mos ’n hemelse pa, en dit het alles verander,” vertel Ashe Steenbok.

Daarna het hy hard gewerk en van die onnies het gehelp, soveel so dat hy na matriek ingenieurswese kon studeer.

Sy eerste werk was by Volkswagen, later werk hy by Eskom.

“Hoe het dit gebeur dat jy ’n Anglikaanse priester word?” vra ek.

“Wel, toe gebeur God!”sê hy.

Hy vertel van die groot indruk wat die woorde van ’n ryloper op sy lewe gemaak het. Die ou het gegroet toe hy hom aflaai en gesê: “So terloops, jy doen nie wat jy veronderstel is om te doen nie.”

Hy het die vreemdeling op die snelweg opgelaai maar die ou het toevallig net twee strate van sy tannie af gewoon.

“Tienuur daai aand kon ek nie ophou dink aan daai man se woorde nie. My tannie by wie ek gebly het, sy’s ’n skrywer en ’n sekretaresse, ’n baie diep vrou, sê toe ek moet met daai man gaan praat. En ek loop toe daai tyd van die nag na hom toe en ek klop aan sy deur en sê vir hom: ‘Ek tel nie mense langs die pad op nie, en ek kan nie ophou dink aan jou woorde nie!’ En hy vat my hand. En die ou bid vir my. Jy weet, een van daai tipiese pastoor-gebede. En hy sê vir my: ‘Die oes is groot en die arbeiders min!’ Toe sê hy tot siens en maak die deur toe.”

Terug in sy kamer het Ashe ervaar hoe God hom aanraak. Hy sê hy het op sy knieë geval en gehoor hoe God hom roep. Al wat hy kon sê was: “Ja, Here, ek sal U volg, en ek sal predikant word.”

Kort daarna skryf hy in vir Ou en Nuwe Testament by Unisa. Maar skielik was dinge deurmekaar.

Op ’n dag bedank hy, pak sy hele lewe in sy karretjie en ry na die Teologiefakulteit in Pretoria. Hy het dadelik ’n afspraak met professor Wethmar, die destydse dekaan, gekry. Toe hy instap sê hy: “Ek is ’n ingenieur, maar die Here het my geroep!”

Die volgende dag sit hy by Tuks teologie in die Nuwe Testament klas. “En vir die eerste keer in my lewe voel ek tuis! Vir die eerste keer voel ek, ek is hier waar ek hoort!” sê hy.

Om die pot aan die kook te hou, het hy as ’n kelner by Spur gewerk. Die NG Kerk het hom ook ’n klein beurs gegee.

Na sy studies werk hy in ’n VGK-gemeente, maar toe kry sy vrou ’n verplasing na Bloemfontein en hy kon nie by die gemeentes daar werk kry nie. Maar op Erfenisdag praat hy by ’n skool oor Jesus se liefde en kort daarna stel die skool hom aan as onderwyser en pastorale hulp. Hy was vir tien jaar by die laerskool in Bloemfontein.

“Later kry ek ’n pos by St Andrews ten spyte van die feit dat ek ’n NG dominee was,” sê hy. Om gelegitimeer te word as Anglikaanse priester, moes hy slegs ’n jaarkursus loop.

Wat is anders in die Anglikaanse kerk as die NG Kerk of VGK?

“Weet jy, dis nie vreeslik anders nie. Net twee dinge. Jy funksioneer onder ’n biskop. Hy bestuur vir jou, hy geestelik-begelei vir jou, hy adviseer vir jou én hy korrigeer vir jou. En dan is daar die nagmaal. Jy praat van tegniese goed, soos die transsubstansiasie. Jy moet die nagmaal inseën. Dit word nie fisies die liggaam en bloed van Jesus Christus soos by die Katolieke nie, nee, maar dis ’n geseënde brood en ’n geseënde wyn. En dis hoekom jy dit nie sommer na die tyd kan weggooi in die tuin of in ’n vuilisdrom nie! Jy moet die brood bewaar in ’n spesiale kabinet. En jy moet seker maak dat die wyn – wat klaar geskink en geseën is vir die nagmaal – alles opgebruik word, want dis ‘geseënd’.”

Ek vra hoe lyk sy dag by St Andrews.

“Ons het twee assemblies elke dag. Ons sing. Ek steek ’n tien minute preek af. Dan praat die skoolhoof en dan is daar ’n stille gebed. Op ’n Vrydag loop ek na die kleuterskool en ons sing liedjies soos, ‘ek is nie ’n stapsoldaatjie nie’ en ek vertel vir hulle van Saggeus, wat die boom geklim het en amper uitgeval het, maar Jesus het hom raakgesien, en so aan.”

Hy is ook die pastorale hoof met die primêre taak om saam met ’n span mense onder hom te kyk na die geestelike en emosionele welstand van die kinders.

Dis vir hom die lekkerste om te preek. En al is hy nou ’n Anglikaan, preek hy vandag dikwels by NG gemeentes soos NG Pellisier in Bloemfontein.

Hy vertel van ’n preek van sy pa, wat ook destyds ’n predikant was.

“Dit was net ek en my pa, die koster en nog een persoon. En hy preek 45 minute! Agterna sê ek, maar pa hoe kan pa dan so lank preek? Ons is net vier mense! En my pa sê, my kind wanneer jy preek, kan jy iemand se hele lewe verander. En dís hoekom ek so lief is vir preek. Want ek kan basies iemand se lewe verander, ook sy huisgesin, ook sy of haar kinders se lewe!”

Ons gesels oor sy toekomsdrome.

“Ek het ’n plan gehad om my PhD te doen, maar toe slaan die pandemie mos vir ons. So ek het nou weer aansoek gedoen,” sê hy.

Hy wil ook ’n boek skryf oor die water-metafoor wat ons oral in die Bybel kry. En hy raak erg passievol as hy hieroor praat: “Waar is mense die gelukkigste? By die see, wanneer hulle in die water baljaar en wanneer hulle visvang. En selfs die baarmoeder is gevul met water!”

Een van sy grootste vreugdes is om elke dag te swem.

Wat maak jou kwaad en ongelukkig? vra ek.

“Toe die NG Kerk my miskyk, en my nooit beroep het nie. Al het ek by Tuks geswot, met ’n M in Nuwe Testament. Ek kon soveel diversiteit vir die kerk bring en mense verbind met mekaar!”

Wat is sy droom vir die Kerk in Suid-Afrika?

“Dat elke gemeente ’n Engelse én Afrikaanse én Afrikataal diens sal hê. Soggens en nie net saans nie. En in dieselfde gebou.

Waarom volg Vader Ashe Steenbok vandag steeds vir Jesus?

“Jesus het my lewe gered,” sê hy. “God het vir my ’n pa geword toe ek nie een gehad het nie.”

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top