Die kuratorium op Stellenbosch het op Maandagaand 14 April diensleraars tydens ’n spesiale diens in die NG Moederkerk op Wellington gelegitimeer.
Hierbenewens is sertifikate uitgedeel aan studente wat die Bedienaarskursusse by Hugenote Kollege voltooi het. Hulle is Mike Garbers, Veona Janse van Vuuren, Hester Spies, Johan Swart, Walter Sutton, Joslynn Booysen en Faranaaz Stofberg.
Diensleraars

Leon Heinrich Coetzee is gebore op 27 Desember 1976 in Uitenhage. Hy het gematrikuleer in 1995 aan die Hoërskool Oosterland. In 2003 het hy ervaar dat die Here hom geroep het na die sendingveld in Suid-Afrika. Hy het eers gewerk in Natal onder die Indiër-gemeenskappe, asook by ’n Christen-radiostasie GNCR. In 2004 het Leon geroepe gevoel om aan te sluit by die sendingstasie Adullam. Gedurende sy jare daar het hy ’n sertifikaat in teologie en later ook ’n diploma in Teologie voltooi. In 2024 studeer hy by Hugenote Kollege waar hy sy BTh-graad in teologie voltooi het.
Hy het ’n sterk gereformeerde grondslag. Leon het die afgelope paar jaar uitgehelp by NG Kerk Kinross en hoewel Leon steeds ’n passie vir sending het, ervaar hy dat die Here hom roep om sy missionale roeping uit te leef binne die NG Kerk. Hy het ’n passie vir gemeentebou en dissipelskap. Hy wil graag sy ervaring in die bediening gebruik om die kerk te help herstel en groei. Die bevordering van missionale leierskap binne die kerkstruktuur sowel as ekumeniese samewerking met ander kerke in die omgewing is vir hom belangrik en hy wil dit graag ontwikkel.
Leon is baie lief vir die buitelewe, veral kamp saam met sy familie en goeie vriende. Hy is getroud met Madaleen Vermaak, wat skoolhoof is van Adullam Christenskool. Hulle het vier kinders, Miriam, Andreas, Rebekka en Noah.

Abel Erasmus is op 16 Junie 1969 gebore in Krugersdorp, waar hy grootword en matrikuleer in 1988 aan die Hoërskool Jan de Klerk. In 1989 begin hy met Nasionale Diensplig, waarna hy ’n Diploma in Teologie gaan studeer aan die Nazarene Theological College. In 1992 tree hy in die huwelik met Isabella, ’n seun en dogter word gebore.
In 1997 verhuis die gesin na Pietersburg waar hy op versoek van die Nasarener Distriksuperintendent ’n diverse Nasarener-gemeente vestig en daar as leraar dien.
In 2012 verhuis die gesin na Klerksdorp in Noordwes waar hy as hulpleraar by die Kerk van die Nasarener Klerksdorp dien. In Oktober 2013 word hy verkies as senior leraar van die gemeente.
Sy seun sterf in 2014 in ’n motorongeluk. Dit inspireer hom om sy BTh-graad te voltooi wat hy in 2016 behaal. Hy word in Januarie 2017 verkies as streeksleier en dien ook op die Raad van Geloofsvorming vir opkomende studente. Hier dien hy tot met voltrekking van sy diens by die Nasareners, wat gebeur as gevolg van sy diagnose met Parkinsons (PD) in 2021.
Abel verruil die gemeentewerk om sy aandag toe te spits op mentorskap en opleiding. In 2023 vra Flimieda Gemeente hom om die gemeente op Sondae te bedien waarna hy ook die pastorale sorg van die NG gemeente begin behartig. Dr WJ Schoeman tree op as konsultant. Na verskeie geprekke met beide die kerkraad en die ring skryf hy in by Hugenote Kollege vir die Kern Kerklike Modulekursus wat hy vanjaar voltooi het.
Tans dien Abel as ouderling wat die Woord op Sondae bedien en hy sien om na die gemeente se pastorale behoeftes. Abel is passievol oor mense en hulle moontlikhede in die Here se diens. Sy leierskap en gemaklike persoonlikheid maak hom iemand wat inpas en deel word van ’n plan. Sy gesondheid is goed met sy PD onder beheer. Hy is lief vir die buitelewe, kamp graag en hou van lering. Hy wil homself graag bekwaam as ’n volwaardige predikant in die NG Kerk as die Here wil. Abel is beroepbaar en kan gekontak word op 073 371 7566 of Abel@excelgrow.co.za.

Robin Furniss is op 18 November 1985 gebore en het op Tulbagh grootgeword. Hy matrikuleer in 2004 by Hoërskool Tulbagh en behaal daarna verskeie kwalifikasies in klank- en videoproduksie. Sy passie vir tegnologie en bediening lei hom na ’n pos as tegniese bestuurder by NG Gemeente Helderberg, waar hy sedert 2021 verantwoordelik is vir klank, uitsendings en digitale bediening.
Robin het uitgebreide ervaring in media, insluitend werk as TV-produsent vir kykNET NOU en as tegniese bestuurder vir verskeie groot produksies en korporatiewe geleenthede. Hy beleef ’n sterk roeping om ’n digitale bediening binne die NG Kerk te vestig en mense deur tegnologie met die evangelie te bereik. Hy is ’n toegewyde leier met ’n passie vir dissipelskap en tegnologiegedrewe geloofsvorming. Robin is beroepbaar en kan gekontak word by robin.furniss@nghelder.co.za of 082 228 4820.

Vicus Kruger (Augustin Vicus / Krokkie) is in 1984 gebore op Vanderbijlpark. Op vier verhuis hy saam met sy gesin na die VSA maar kom betyds terug om sy laerskoolloopbaan te voltooi by Laerskool DF Malherbe. Vicus matrikuleer by Hoërskool Transvalia in 2002 en verhuis na die Wes-Kaap om deel te word van ’n Diensjaar vir Christusspan. Hier is Vicus se liefde vir gemeenskap, kerk en avontuur verder ontgin.
In 2004 begin hy jeugwerk studeer by Hugenote Kollege en voltooi sy graad in 2006.
Vicus begin werk in 2007 by NG Kerk Oostersee waar hy sy passie vir jeug, sport en musiek uitleef. Hy trou in 2012 met die sangeres Rachelle Kruger. ’n Jaar later in 2013 begin werk hy as jeugwerker by La Rochelle Gemeente in Bellville.
Hy spring volstoom in met die begin van #imagine as deel van produksiebestuur, projekbeplanning en is deel van die nasionale dinkskrum.
In 2017 verhuis hy en Rachelle na die Paarl waar hy by Suider-Paarl Gemeente jeugwerker word en vandag steeds so dien. Vicus leef sy roeping en passie vir tieners in die Paarl uit met kerk, sport, skool en musiek. Hy doen ook graag uitreike saam met sy vrou – volg gerus hulle reis deur Sumatra Indonesië: www.thekruinkrui.com

Mart Leonard is op 27 April 1975 gebore en het op Secunda grootgeword. Sy matrikuleer in 1993 aan die Hoërskool Secunda. In 2014 behaal sy ’n BTech-graad in Menslike Hulpbronbestuur. Sy bedank na 17 jaar uit die korporatiewe wêreld omdat sy die oortuiging het dat God ’n ander plan met haar lewe het. In 2019 voltooi sy ’n leierskapprogram aangebied deur die “John Maxwell Leadership Team” sowel as verskeie lewensafrigtingprogramme. Mart ervaar in 2021 die roeping vir die Christelike bediening. Sy behaal in 2024 ’n BTh-graad met Christian Counselling by die South African Theological Seminary (SATS). Mart is tans besig met die diplomakursus vir bedienaars met preek- en erediensleidingvaardigheid.
Sy dien as pastorale berader en ouderling by NG Gemeente Middelburg-Suid. Die welstand van mense se liggaam, gees en siel is vir Mart na aan die hart en daarom is sy passievol oor lewensafrigting, berading en Woordbediening. Verder geniet sy dit om te lees en na aan die natuur te wees. Mart is geseënd met George Leonard as haar lewensmaat, ’n man wat saam met haar die Here dien en bereid is om te gaan waar die Here hulle roep. Mart kan by 082 457 1347 of mart.leonard75@gmail.com gekontak word.

Jan Stadler is gebore op 18 Februarie 1966 op Beaufort-Wes in die Wes-Kaap. Hy het op die volgende plekke gebly in sy grootwordjare: Beaufort-Wes, Cradock, Keetmanshoop (Namibië), Durban en George. Jan het op Keetmanshoop begin skoolgaan en gematrikuleer by Outeniqua Hoërskool in George in 1983. Na skool het hy by die SAPD aangesluit en is heen-en-weer oor die land verplaas. In 2000 het hy hom op Beaufort-Wes gevestig as sakeman. Hy is sedert 2009 voorsitter van die kerkraad by die NG Moedergemeente. Jan het die Bedienaarsdiploma verwerf by Hugenote Kollege en daarna ook ’n BTh-graad in 2025. Hy is in 1999 getroud met Issie Zietsman. Hulle het nie kinders nie. Jan dien tans in sy derde termyn as kerkraadslid vir die Ring van Beaufort-Wes op die Moderamen van die Wes-Kaapse sinode. Sy passie is diens aan die gemeenskap en samewerking met ander kerke. Hy wil graag die kerk met volle oorgawe dien. Sy kontaknommer is 082 336 2066.

Cecile Steyn is in Oberholzer, Carletonville, gebore op 4 Januarie 1963. Sy matrikuleer in 1980 aan die Afrikaanse Hoërskool Germiston. Behaal ’n voltydse Transvaalse Hoër Onderwysdiploma aan die Goudstadse Onderwyskollege. Na vyf jaar in die onderwys studeer sy verder deur SAPD aan Unisa en die Universiteit van Potchefstroom. Sy behaal ’n graad in Kriminologie en Opvoedkunde, ’n BEd (Honneurs) in volwasse leer en ’n nagraadse sertifikaat in Funksionele Terapie. In 2025 behaal sy haar Nagraadse Honneurskwalifikasie in Teologie met die mini-tesis “Verhef julle stemme en loof Hom! ’n Praktiese Teologies- en musikologiese verkenning van aktiewe deelname in en aan voorafsang binne die liturgie van die NG Kerk”.
Cecile het ’n langdurige betrokkenheid by musiek, en neem aktief deel aan musiekbediening in haar kerk en gemeenskap. Haar komposisies sluit onder meer in ’n werk vir die 50-jarige verjaarsdagfees van die NG Kerk Margate.
Sy beweeg mense met haar toewyding, empatie en weergawe van die evangelie. Cecile is ’n geestelike en diensbare persoon met ’n sterk passie om ander te ondersteun en aan te moedig. Sy glo dat musiek ’n kragtige medium is om God se liefde en waarheid te deel, en sy is gewillig om haar gawes en talente in diens van die gemeente en sy mense te gebruik.
Cecile is beroepbaar en kan by 063 253 5441 of ccsteyn@hotmail.com gekontak word.

Lizelle van der Merwe is op 18 Februarie 1979 in Johannesburg gebore, en het in Kemptonpark en Somerset-Wes grootgeword. Sy matrikuleer in 1997 aan die Hoërskool Strand en begin in 1998 studeer aan Hugenote Kollege. In 2002 behaal sy haar BDiac-graad in Jeugwerk. Lizelle was tydens haar studies die voorsitter van die Geestelike Ontwikkelingsaksie. Sy het ’n beginners- en gevorderde kursus in Spelterapie in 2004 by die Sentrum vir Spelterapie en opleiding voltooi.
In 2006 kwalifiseer Lizelle as ’n geregistreerde dosent in Jeug EE3 by EE3 internasionaal. Lizelle was vanaf 2002-2003 werksaam by die kinderhuis op Robertson en was daarna van 2003-2005 jeugwerker by Eros-gemeente in Windhoek, en daarna van 2005-2009 jeugwerker by NG Gemeente Vredenburg. Daarna het sy uit die bediening uitgegaan en in IT en projekbestuur gewerk. Haar passie en roeping vir jeugbediening het haar weer laat terugkeer. Lizelle is tans jeugwerker by NG Gemeente Hopetown. Verder stel sy ook belang in geskiedenis, stambome, kosmaak en musiek. Lizelle is beroepbaar en kan gekontak word by 065 194 6539 of lizvdm79@gmail.com.