Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Boek | Treffende geloofslens op werkverwante pyn


When work hurts deur Meryl Herr

Uitgewer: IntervarsityPress, 2025

Resensent: Rethie van Niekerk

Ek het When work hurts gekoop op die dag wat dit uitgekom het. My daaglikse kontak met mense getuig dat hierdie ’n uiters relevante onderwerp is waarvan ons eenvoudig moet kennis neem.

Lees ook: Boek | Waardevolle wenke oor organisatoriese kultuurverandering vir kerklike gehoor

Herr kyk na verskillende tipes werkverwante “seerkry”, van teleurstelling en ontnugtering tot by uitbuiting en onderdrukking. Werksverlies en werkloosheid, slegte werksverhoudings en toksiese werksplekke, werksonsekerheid en verlies aan roeping is alles sake wat bespreek word. Selfs geforseerde arbeid kom onder die loep.

Die skrywer is die direkteur van navorsing en ontwikkeling by Fuller Seminarium se Max De Pree sentrum vir leierskap, waar sy spesifiek navorsing doen en bronne ontwikkel wat Christene help om hulle geloof en werk te integreer. Haar kundigheid is duidelik en kragtig in When work hurts. In elke hoofstuk verbind sy mense se persoonlike verhale van werksverwante pyn met relevante teorieë, asook Bybelse lense. Die werk bly deurgaans prakties en toeganklik, met ’n opsommende “kliniek” aan die einde van elke hoofstuk, waar diagnostiese “simptome” en moontlike stappe vir sorg gelys word.

Die Bybelse verhaal van ballingskap bied die teologiese grondslag vir Herr se geloofslens op werksverwante pyn. Vanuit elke hoek wat werk benader word, word daar ook na die verhaal van Israel se ballingskap en terugkeer uit ballingskap gekyk. Dit bied ’n interessante, praktiese lens op hedendaagse werksuitdagings. Hierdie lens kan die leser help om anders te dink oor hulle werkverwante pyn, veral wanneer mense ontmagtig of vasgekeer voel en hulle blind staar teen hulle omstandighede.

When work hurts fokus baie op roeping en die proses van onderskeiding, asook die rol van daaglikse getrouheid (“everyday faithfulness”). Herr se gedagtes oor roeping as ’n tweesnydende swaard, asook die feit dat hoop terugkyk, is treffend.

Dalk het ek wonderwerke van die skrywer verwag, antwoorde waar daar eenvoudig nie antwoorde is nie. Met die lees van When work hurts het ek die hele tyd meer gesoek – oplossings vir mense wat vasgekeer is. Moontlik word daar sulke oplossings vir sommige gebied. Vir ander word daar hoop gebied, of gereedskap om te floreer in pynlike omstandighede – of gewoon toestemming om “onheilspellende gebede” (“imprecatory prayers”) te bid. Die grootste waarde is egter die lens van geloof, die herinnering dat ons storie deel is van ’n groter storie van gelowiges oor millennia, deel van ’n nóg groter storie van God wat in ons en ons wêreld werk. Herr help my om te onthou dat dít die gesprek is wat ons moet hê: hoe ons ook werkverwante pyn met ons getrouheid aan God integreer.

Herr skryf as Noord-Amerikaner in ’n welvarende Noord-Amerikaanse konteks. Haar bydraes oor sake soos werkloosheid, onderdrukking en uitbuiting kom duidelik vanuit ’n buitestander se perspektief. Tog bly dit waardevol.

Ek is reeds aan ’t werk aan maniere om die inhoud van hierdie boek met my gemeente te deel, want dit is té relevant en belangrik om op ’n rak (of Kindle) te los. sê

Beskikbaar op Kindle.

Ds Rethie van Niekerk is predikant by die NG Kerk Driehoek in Vanderbijlpark.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top