Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Boek | Waardevolle wenke oor organisatoriese kultuurverandering vir kerklike gehoor


The power of culture deur Laura Hamill

Uitgewer: Pegasus Books, 2024

Resensent: Nina Müller van Velden

Die kerk is oor die algemeen maar skugter om skouers te skuur met die besigheidswêreld, en tereg so: ons is immers nie ’n korporatiewe instelling nie. Hierdie titel het egter my oog gevang en ek was nuuskierig om te sien of die boek, met die klem op organisatoriese kultuur, wel waarde kan inhou vir gemeentes, kerklike strukture en leierskap – gegewe ons voortdurende gesprekke oor identiteit, verandering en werkswyse in kerklike kringe.

Lees ook: Boek | Treffende geloofslens op werkverwante pyn

Hamill skryf toeganklik en prakties, gegrond in haar eie ervarings. Sy dek die tafel met ’n goeie inleiding tot organisatoriese kultuur: die realiteit tussen werklike en geïdealiseerde kultuur in organisasies; die merkers van organisatoriese kultuur; en waarom dit so ’n groot rol speel. Sy benadruk die noodsaaklikheid van bewustelik omgaan met organisatoriese kultuur, ten einde gesonde en waardegedrewe ekosisteme te verseker waarvan almal in die betrokke organisasie deel voel en gevolglik aktief wil deelneem.

Die grootste deel van die boek word gewy aan prosesse van organisatoriese kultuurverandering. Sy stel onder meer ’n proses genaamd “Intentional Culture Circle” voor, wat uit agt komponente bestaan vir bewuswording, skuiwe en volhoubare verandering. Die organiese aard van kultuur word toegelig aan die hand van ’n “culture change maturity model”, wat die moontlikheid van verdieping en groei benadruk. Sy maak dit duidelik dat kultuurverandering nie ’n eenmalige proses is nie, maar dat gesonde organisasies juis bereid is om konstant hulle kultuur in oënskou te neem en aanpassings te maak. Meer nog, hierdie aanpassings kan nie bloot met bestuursbesluite afgeforseer word nie; deelnemende prosesse is van begin tot einde nodig, onder leiding van verantwoordelike en toeganklike leierskap.

Sy sluit af met ’n besonderse klem op die waarde van mense, wat dikwels verlore gaan in nadenke oor organisasies, leierskap, verandering en kultuur. Vir haar is dit juis noodsaaklik in ’n toenemend tegnologies-gedrewe wêreld om “human-centred culture” aan te moedig; die tipe kultuur wat heel-persoon sorg, inklusiwiteit, behoort (“belonging”), integriteit, meegevoel en medemenslikheid voorstaan. Sy stel “culture care stairs” voor as manier om vas te stel hoe ’n organisasie op ’n bepaalde oomblik hiermee vaar, en hoe hierdie mensgesentreerdheid verder kan ontwikkel.

Alhoewel nie in die eerste plek vir ’n kerklike gehoor geskryf nie, is hier beslis waardevolle wenke te vind vir diegene wat bewustelik wil omgaan met die kultuur van geloofsgemeenskappe.

Beskikbaar by Takealot.

 

Dr Nina Müller van Velden is dosent in Nuwe Testament, verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top