Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

'Daar, op die rugbyveld, het ons iets beleef van Kerk met ’n hoofletter K, nie ’n gebou of ’n denominasie nie, maar die veelkleurige volheid van die liggaam van Christus,' skryf Ian van Niekerk. Foto's: Facebook

Christus se opstanding saam gevier in Ekurhuleni (ou Oosrand)


Op Paassondag het iets besonders op Hoërskool Kemptonpark se rugbyveld gebeur. Gemeentegrense het vervaag, kerktradisies het hande gevat, en Christus het sentraal gestaan tydens ’n gesamentlike Opstandingdiens. Dit was ’n viering van eenheid en hoop vir die kerk in Suid-Afrika, skryf Ian van Niekerk.

Ons gemeente, NG Gemeente Kempton-Kruin, en die volgende gemeentes in Ekurhuleni (ou Oosrand) was betrokke: Beleef Gemeente (Alberton), El-Shamai Gemeente (Benoni), Kaleideo Benoni (AGS), Kaleideo Glen Marais (AGS) en NG Gemeente Bonaeropark.

Die erediens het begin met die woorde wat ons deur die eeue verbind: “Hy het opgestaan!” Soos een liggaam het almal geantwoord: “Hy het waarlik opgestaan!”. Daarna het ons almal mekaar gegroet en vir mekaar gesê: “Hierdie is nie jóú kerk nie.” Nie om uit te sluit nie, maar om te onthou: Die kerk behoort aan Christus alleen.

Ons het elkeen op ons eie unieke maniere die Here geloof en aanbid. Iemand het gesê: “Ek wonder of dit nie is hoe dit sal lyk in die hemel nie.” En inderdaad, iets van die koninkryk het daar sigbaar geword.

Gemeentegrense het vervaag, kerktradisies het hande gevat, en Christus het sentraal gestaan.

Lees ook: Jan Lubbe | Uit my Kerkdagboek : Die Vrydag vóór Palmsondag

Daar, op die rugbyveld, het ons iets beleef van Kerk met ’n hoofletter K, nie ’n gebou of ’n denominasie nie, maar die veelkleurige volheid van die liggaam van Christus. Dit was ’n heilige oomblik van eenheid, lofprysing en nuwe lewe. Ons kon in eenheid saam ons geloof in die opgestane Here bely.

Mag sulke oomblikke ons herinner waarvoor ons as “heilige, algemene, Christelike kerk” geroep en getaak is. Mag die wêreld die lig sien wat gelowiges in eenheid uitstraal en die ware oorwinning en lewe van Jesus daardeur ervaar, soos wat ons dit op Opstandingsondag bely:

“… wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;

wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,

van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.

Ek glo in die Heilige Gees.

Ek glo aan ’n heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;

die vergewing van sondes;

die opstanding van die vlees

en ’n ewige lewe.”

  • Ds Ian van Niekerk is leraar van die NG Gemeente Kempton-Kruin.

 

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top