Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Dié gemeente se leraars vertel van die geestelike impak wat die passiespel het op die deelnemers sowel as die kykers. Foto's: Sulet Brummer

Gemeente vertel: Jongste deelnemer was 4 en die oudste 82 … Passiespel bring generasies bymekaar


Die passiespel van Suider-Strand-gemeente speel ’n belangrike rol in die bediening van die gemeente en sterk vriendskapsbande word gebou tussen die spelers in die drie maande wat daar gewerk word aan die produksie. Christo Benadé vertel meer. Sulet Brummer het die foto’s geneem. 

 

Jonk en oud lag, werk en bid saam gedurende hierdie tyd. Wat veral opvallend is, is die vriendskapsbande wat oor generasies heen gevorm word. In die konsistorie waar spelers wag vir hulle beurt op die verhoog, sit oud en jonk op klein kleuterkerk-stoeltjies en stories vertel. Daar is ook ’n aantal gesinne wat saam deelneem. Hierdie jaar het 56 gemeentelede deelgeneem en ook ’n kinderkoor bestaande uit 28 stemme. Vir die gemeente se leraars, dr Christo Benadé en prop Sulet Brummer het die tyd groot waarde om dieper verhoudings met die gemeentelede te bou.

Die passiespel is van 10-12 April by Suider-Strand-gemeente aangebied en op 15-16 April by NG Gemeente Kuilsrivier-Suid. Dit is die vierde jaar wat die passiespel, wat geskryf en opgevoer word deur ds John Smit, plaasgevind het. Die passiespel kry dit jaarliks reg om akteurs te betrek oor ouderdom- en gemeentegrense. Hierdie jaar was die jongste deelnemer vier en die oudste 82. Ds Trevor Links, VGK-leraar verbonde aan die Vloot speel een van die hoofrolle en ds Ankia du Plooy, ds Dolf du Plooy en lidmate en leraars van NG Gemeente Kuilsrivier-Suid neem ook deel.

Die gemeente sien die passiespel ook as ’n belangrike deel van hulle getuienisroeping. Sowat 700 persone kyk die passiespel oor die drie aande.

Ds John Smit het al elf Passiespele geskryf en aangebied. Hy het begin in Die Strand-gemeente, later in Klawer en nou in Suider-Strand waar hy en sy vrou Martie afgetree het. Elke passiespel word uit ’n nuwe hoek geskryf. Hierdie jaar se verhaal word uit die perspektief van Maria, Jesus se moeder, vertel. Haar vreugde, pyn en verwondering oor haar babaseun, wat die lydende Christus was, maar ook die opgestane Here.

LEES OOK: Vrou rig houtkruis op na mislukte selfdood: ‘Dis ’n wonderwerk en genade dat ek leef’

Die gemeente se leraars vertel van die geestelike impak wat die passiespel het op die deelnemers sowel as die kykers. Elke passiespel is ’n geloofsreis waar daar in groot afhanklikheid gewerk word met spelers wat geen ervaring het van toneelspel en stelbou nie. In die drie maande word verhoë gebou voor in die kerk, met toepaslike agtergronde wat geverf word vir die verskillende tonele en nuwe amateurtoneelspelers word gevorm, wat hulle rolle met passie en oortuiging speel. Die passiespel is vir drie aande opgevoer, waarna die produksie na NG Gemeente Kuilsrivier-Suid geskuif het waar dit ’n verdere twee aande opgevoer is. Die samewerking met Kuilsrivier-Suid het nuwe sinergie ontsluit en nuwe verhoudings gevorm waarop hulle wil voortbou.

Die gemeente sien die passiespel ook as ’n belangrike deel van hulle getuienisroeping. Sowat 700 persone kyk die passiespel oor die drie aande. Hierdie jaar is daar ’n kollekte opgeneem wat onder andere gaan vir die Projekt Flamingo, ’n projek begin deur die chirurg dr Lianna Roodt wat hulle beywer vir die behandeling van borskanker by staatshospitale.

LEES OOK: Christus se opstanding saam gevier in Ekurhuleni (ou Oosrand)

Tegnies word die passiespel moontlik gemaak deur ’n klankbaan wat vooraf opgeneem word. Dit sou baie duur wees om vir elke speler ’n koordlose mikrofoon te gee. Die feit die klankbaan met die akteurs se stemme vooraf opgeneem word, haal baie druk van die spelers af om elke aand met oortuiging hulle rolle te speel. Phillip du Toit, die gemeente se klankingenieur, is verantwoordelik vir die opname en meng al die klank. Saam met prop Sulet Brummer skep hulle ook agtergronde wat teen die muur geprojekteer word om die tonele op Jesus se lydensweg te skep. Ds John Smit droom al klaar oor die volgende passiepel, hoe die wonder van Christus se opoffering op ’n nuwe wyse oorgedra kan word.

 

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top