Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Amélie drup heuning op roosterbrood. Met Wêreldbyedag (20 Mei) om die draai vier haar ma, Fay van Eeden, hierdie wonderinsek, en deel wenke oor wat ons kan doen om hulle te help bewaar.
Amélie drup heuning op roosterbrood. Met Wêreldbyedag (20 Mei) om die draai vier haar ma, Fay van Eeden, hierdie wonderinsek, en deel wenke oor wat ons kan doen om hulle te help bewaar. Foto: Fay van Eeden

Wat as die gezoem stil raak? As jy gedink het jy weet by-na alles oor bye …


Meer as een derde van die wêreld se gewasproduksie is afhanklik van bye-bestuiwing. Met Wêreldbyedag (20 Mei) om die draai vier Fay van Eeden hierdie wonderinsek, en deel wenke oor wat ons kan doen om hulle te help bewaar.

Kleintyd was gaskoeldrank-drink ’n gevaarlike besigheid, want daar het altyd ’n klomp bye om jou koeldrankblikkie gezoem. Soveel so dat ’n mens op ’n stadium plastiese deksels vir koeldrankblikkies gekry het. Ek was verbaas toe ek nou die dag by ’n buitelug-byeenkoms ’n blikkie gaskoeldrank drink sonder een enkele by om my. Waar is die gezoem?

Die Verenigde Nasies het in 2017 die 20ste Mei tot Wêreldbyedag verklaar. Die dag val saam met die verjaardag van Anton Janša, wat in die 18de eeu baanbrekerswerk rondom moderne byeboerderytegnieke in sy geboorteland Slowenië gedoen het. Die dag poog om die belangrikheid van bye, die bedreigings wat hulle in die gesig staar en hulle bydrae tot volhoubare ontwikkeling, onder mense se aandag te bring.

Sou bye uitsterf, of selfs net in dramatiese getalle afneem, sal dit ’n indringende effek op verskeie ekosisteme hê. Sommige plante, wat uitsluitlik deur spesifieke bye bestuif word, sal sonder menslike ingrype uitsterf. Buiten plante sal baie voëls en diere hulle hoofbron van kos verloor. Foto: PJ van Eeden

Heuningbye is ’n noodsaaklike deel van voedselproduksie wêreldwyd, en bestuif die meeste van die wêreld se vrugte, groente, neute en meer. Meer as 50 gewasse in Suid-Afrika, en meer as 90% van blomplante wêreldwyd, maak staat op heuningbye en ander bestuiwers om te groei. Maar die verlies aan habitat, monokultuur-boerdery, die gebruik van sintetiese plaagdoders en onetiese byeboerderypraktyke bedreig hulle voortbestaan.

Volgens onlangse navorsing is die byebevolking in die VSA sedert die Tweede Wêreldoorlog aan die krimp. Die verlies word toegeskryf aan moderne boerderypraktyke, onder andere die grootskaalse gebruik van plaagdoders. Navorsing by Penn State Universiteit in Pennsylvania het spore van plaagdoders in die stuifmeel, wat bye na hulle korwe neem, gevind. In die stuifmeel is minstens ses waarneembare plaagdoders, wat vir bye dodelik is, gevind.

Lees ook: Sorg vir die aarde: Herwinning is soveel meer as bewaring van primêre hulpbronne

Sou bye uitsterf, of selfs net in dramatiese getalle afneem, sal dit ’n indringende effek op verskeie ekosisteme hê. Sommige plante, wat uitsluitlik deur spesifieke bye bestuif word, sal sonder menslike ingrype uitsterf. Buiten plante sal baie voëls en diere hulle hoofbron van kos verloor. Wat landbou betref, sal die verlies aan bye ’n dramatiese effek op die beskikbaarheid van voedsel hê. Dit sal wel nie tot hongersnood lei nie, omdat die meerderheid mense se kalorieë uit graan, wat deur die wind bestuif word, bestaan.

Baie vrugte en groente word egter deur insekte bestuif en sal nie op so ’n groot skaal, of bekostigbaar, sonder bye verbou kan word nie. Bloubessies en kersies, byvoorbeeld, maak staat op heuningbye vir tot 90 persent van hulle bestuiwing. Alhoewel handbestuiwing ’n moontlikheid is vir die meeste vrugte- en groentegewasse, is dit baie arbeidsintensief en duur. Die klein robotbestuiwerhommeltuie wat in Japan ontwikkel is bied ’n moontlike alternatief, maar bly buitensporig duur om hele boorde of landerye met tyd-sensitiewe blomme mee te bestuif. Sonder bye sal die beskikbaarheid en verskeidenheid van vars produkte aansienlik afneem, en menslike voeding sal waarskynlik daaronder ly. Gewasse wat nie koste-effektief met die hand of robot bestuif kan word nie sal waarskynlik nie meer beskikbaar wees nie.

Oorweeg natuurlike of tuisgemaakte alternatiewe tot plaagdoders. Daar is baie resepte op die internet beskikbaar. Plante soos kruisement, salie, laventel en malvas (geraniums) hou ook peste weg. Foto: Verskaf

Wat kan ons doen om bye te help?

  • Plant blomme. Plant endemiese en bye-vriendelike plante en blomme waar jy ook al kan – in jou tuin, op jou sypaadjie en in gemeenskaplike areas.
  • Vermy die gebruik van plaagdoders. Oorweeg natuurlike of tuisgemaakte alternatiewe tot plaagdoders. Daar is baie resepte op die internet beskikbaar. Plante soos kruisement, salie, laventel en malvas (geraniums) hou ook peste weg.
  • Sorg vir water. Plaas houers of emmers water in jou tuin waaruit bye kan drink. Moenie suiker daarby gooi nie.
  • Skep ’n veilige tuiste vir bye in jou tuin. Oorweeg om strukture in en om jou tuin te skep waarin bye kan nes maak. Maak seker dat dit op plekke is waar mense of troeteldiere nie ’n gevaar is nie.
  • Koop plaaslik geproduseerde heuning of rou heuning. Probeer boere wat op ’n kleiner skaal boer ondersteun.
  • Borg ’n korf. Jy kan by HoneyBee Heroes ’n korf borg. Hulle Adopt A Hive-inisiatief bied aan individue die geleentheid om heuningbye te help deur ’n korf aan te neem. Loer gerus op hulle webblad vir meer inligting.
  • Praat met mense. Deel met ander mense die lot van bye en hoe ons kan help.

Vyf feite oor bye

As jy gedink het jy weet “by-na” alles van bye, dink weer.

  1. Meer as net heuningbye

Daar is ongeveer 20 000 spesies bye in die wêreld. Baie van hierdie bye spandeer die grootste deel van hulle lewe onder die grond of binne hol boomstompe. Baie min van hierdie spesies het die gevorderde sosiale sisteme van heuningbye.

  1. Eerstes om antibiotika te gebruik

Heuningbye sement die taai hars (resin), wat hulle van plante se blare afskraap, in hulle korwe in. Hierdie hars, wat propolis genoem word, is ’n natuurlike ontsmettingsmiddel en antibiotika wat die kolonie se gesondheid versterk deur bakterieë dood te maak.

  1. Die geskenk van heuning

’n Heuningby sal nie meer as 0,8 gram heuning in ’n leeftyd produseer nie. Dit neem ongeveer een miljoen blomme en 50 000 vlugte om 1 kg heuning te produseer.

  1. Bye het vier vlerke en vyf oë

’n By het twee vlerke weerskante van hulle liggaam. Hierdie vlerke haak by mekaar in om een groter paar vlerke te vorm wanneer hulle vlieg. Bye het ook twee groot oë wat uit duisende klein lense bestaan, en drie kleiner oë wat ’n driehoek vorm bo-op hulle kop.

  1. Dans-dans deur die lewe

Bye kommunikeer met mekaar op ’n manier wat vir ons na dans lyk. Hulle dui onder andere met hulle ‘dansery’ aan waar die beste voedselbron in die omgewing is.

  • Ds Fay van Eeden is leraar by die NG Kerk Stellastraat en ekoblogger. Volg haar op Facebook en instagram by @enroutefoodie vir meer ekowenke.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top