Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Paasfees by die Premiermyn-gemeente op Cullinan
’n Pelgrimstap deur gemeentelede na die kerkterrein met ’n houtkruis was deel van Premiermyn-gemeente op Cullinan se Paasfeesvieringe. Foto's: Verskaf

Gautengse gemeente vertel oor Paasnaweek | Kruisiging: Stuiptrekkings van kort bediening of hoogste offer van God se liefde?


Paasfees by die Premiermyn-gemeente op Cullinan was ’n besondere ervaring. Drie geleenthede is gevier wat die drie momente van die kruisigingsgeskiedenis gedenk het: Sterwensvrydag, Stil Saterdag en Opstandingsondag, skryf Magdaleen du Toit.

 

Vrydagoggend vroeg was daar ’n pelgrimstap van gemeentelede in swart geklee na die kerkterrein met ’n houtkruis. Dit is neergelê op die klippe aan die voet van ’n 5 meter hoë wit kruis wat in die kerktuin opgerig is. Die Goeie Vrydag-nagmaaldiens is deur ds Leon Westhof gelei uit Lukas 23. Hy het klem gelê op die verskil van mening wat daar rondom Jesus bestaan het: Was die kruisiging die laaste stuiptrekkings van ’n kortstondige bediening, of was dit die hoogste offer wat ná al die eeue steeds getuig van God se liefde? Uiteindelik kan ons die kruisgebeure net sien as die lens van liefde waardeur God na ons kyk.

Deelnemers in diep nadenke oor wat die transformasie van die Paasgebeure in hulle eie lewe beteken.
Deelnemers is genooi om oor hulle eie lewe en die eis van transformasie na te dink en joernaalwerk te doen, op grond daarvan ’n gebed te skryf, en ten slotte ’n element van dít wat hulle getref het, uit te beeld in ’n skeppende werk, collage of pasteltekening.

Om Stil Saterdag te gedenk was daar ’n drieuurlange geleentheid waar daar in stilte oordink is wat die geslote graf beteken. Ek het die lewensiklus van die vlinder gebruik as metafoor vir die sterwe en opstanding van Christus. Die graf word versinnebeeld deur die papie en die radikale transformasie wat daar in ’n skynbaar lewelose toestand plaasvind. Deur sy sterwe en opstanding leef Jesus vir ons ’n proses voor van aflê, afstand doen, en vernuwing – en skep vir ons elkeen die moontlikheid om voortdurend radikaal te transformeer in die lig van sy opstanding. Deelnemers is genooi om oor hulle eie lewe en die eis van transformasie na te dink en joernaalwerk te doen, op grond daarvan ’n gebed te skryf, en ten slotte ’n element van dít wat hulle getref het, uit te beeld in ’n skeppende werk, collage of pasteltekening. Die terugvoering en kreatiewe uitbeeldings het getuig van diep ervarings in die stilte.

Lees ook: Gemeente vertel: Jongste deelnemer was 4 en die oudste 82 … Passiespel bring generasies bymekaar

Opstandingsondag was ’n fees in wit. Gemeentelede was geklee in wit of ligte klere en die liturgiese ruimte is in wit getooi. Tydens die diens het die hele gemeente vorentoe gekom en wit blomme in glase op die tafel geplaas. Opstandingsliedere is jubelend gesing. Die Emmausgangers was die tema van Westhof se opstandingspreek: die verydeling, vertwyfeling en hooploosheid waarmee die twee manne uit Jerusalem wegstap – die kruisiging en die verwarrende gerugte dat Jesus leef het hulle so ontstel dat hulle Jerusalem verlaat en huis toe gaan. Wanneer hulle Jesus uiteindelik self herken, keer hulle haastig terug na Jerusalem om die nuus te deel.

Vir ons elkeen is dit ook ons keuse op ons geloofspad: simbolies weg van Jerusalem in hooploosheid, of terug na Jerusalem – en verder – om die goeie nuus van die opstanding te deel en uit te leef.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top