Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Wêreld met ‘veelvuldige krisisse’ begroet nuwe pous


“Habemus Papam.” Met hierdie Latynse woorde het kardinaal Dominique Mamberti vroegaand op Donderdag 8 Mei vanaf die bekende balkon van die St Petrusbasilika in die Vatikaanstad aangekondig dat die Rooms-Katolieke Kerk ’n nuwe pous het. 

 

Kort hierna het kardinaal Robert Francis Prevost op dieselfde balkon verskyn. Die eerste Amerikaner in die geskiedenis om verkies te word tot geestelike leier van die meer as ’n miljard gedoopte Katolieke wat deel vorm van die wêreld se grootste Christelike kerk.

LEES OOK: Brief: Mag die NG Kerk hande vat – met Rome, met Jerusalem, met almal wat die vrede van Christus soek

Prof dr Jerry Pillay van die Wêreldraad van Kerke het in ’n gelukwensingsboodskap genoem dit is nie ’n maklike taak wat vir die nuwe pous voorlê nie. Hy het gesê dit is ’n posisie van geestelike leierskap wat nie net tot die Rooms-Katolieke Kerk beperk is nie, maar een is waarna die hele wêreld opkyk vir wysheid en leiding. “We trust that he would continue to strengthen ecumenical collaboration, Christian unity, justice and peace in the world. We live in a world of multiple crises; together we can make a difference through the transformative power of the Holy Spirit,” het Pillay bygevoeg.

Foto: @Vatican Media via vaticannews.va

Pous Leo XIV is die naam wat hierdie 69-jarige vanuit die Augustynse Orde met ondervinding onder meer as biskop in Peru vir hom gekies het. Die naam wat ’n pous kies dui gewoonlik aan waar sy fokus sal val. In hierdie geval word gemeen sy aandag sal wees op die tema van maatskaplike geregtigheid, berig Reuters.

Hy was sedert 2023 in ’n invloedryke posisie by die Vatikaankantoor. Sy verkiesing kom na minder as twee dae se stemmery deur 133 kardinale in die konklaaf.

In sy eerste boodskap as pous het hy ’n oproep tot vrede gemaak terwyl duisende mense, sommige met hulle land se vlag omhoog, hom vanaf die St Petrusplein toegetuig het – gebeure wat nog duisende in eie tyd oor skerms in hulle huise gevolg het.

Die nuus van sy verkiesing is wyd deur politieke sowel as geestelike leiers verwelkom. President Donald Trump het dit “a great honor” vir die VSA genoem. Plaaslik het president Cyril Ramaphosa op die sosiale platform X geskryf Pous Leo XIV se vroeë beklemtoning van vrede resoneer met die meeste mense en eer die nalatenskap van sy voorganger, Pous Franciskus, wat verlede maand oorlede is.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top