Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Pienaar se lang loopbaan as predikant het begin as predikant aan die Oos-Rand, waarna Witrivier en Potchefstroom gevolg het. In 1985 het hierdie oud-Tukkie in Pretoria gevestig om Arcadia en later Riviera-Jakaranda as gemeentes te bedien. Gedurende hierdie tyd het hy ook vir ses jaar as voorsitter van die NG Kerk se Noordelike Sinode gedien. 

Johan Pienaar sterf – Laaste woorde van geliefde kerkman bemoedig vele


Dr Johan Pienaar se boeke, radiopraatjies en sy blote menswees vorm alles deel van die mooi nalatenskap van hierdie geliefde kerkman en skrywer wat op 20 Mei op 74 in sy huis in Pretoria-Oos oorlede is.

 

Dit blyk uit die talle huldeblyke deur kollegas, lidmate en familie wat in die dae ná sy dood op Facebook gedeel is. Dr Arnau van Wyngaard skryf die verlies van sy “vriend en mentor” laat ’n diep leemte.  Ds Paul Grobler, direkteur van Noordelike Sinode, het by navraag gesê Pienaar se dood is ’n groot verlies nie net vir die NG Kerk nie, maar vir die breër gemeenskap van Pretoria.

“Hy het altyd wyer gekyk as die dogma en die grense van denominasies. Hy het graag hande gevat oor kerk-, kultuur-, geografiese- en taalgrense heen,” het Grobler bygevoeg.

Vele maak melding van Pienaar se laaste inskrywing van sy eie Facebookblad, gemaak enkele ure voor sy dood. Dit lui: 

“Ek het vannag lank wakker gelê en dink aan ons land en haar mense, die diep onsekerheid by ons almal en sommer die neergeskryf: Hoe groot behoefte is daar in ons land aan Christene wat uitbundig wys dat dit wel moontlik is om in hierdie land en in hierdie tyd in ons land se geskiedenis te LEWE;

Is daar ’n beter manier om Jesus te verkondig as om te LEWE?

Is daar ’n sterker demonstrasie van die opstanding van Jesus as wanneer sy kinders LEWE?”

Bring hoop, maak ’n verskil

Pienaar se lang loopbaan as predikant het begin as predikant aan die Oos-Rand, waarna Witrivier en Potchefstroom gevolg het. In 1985 het hierdie oud-Tukkie in Pretoria gevestig om Arcadia en later Riviera-Jakaranda as gemeentes te bedien. Gedurende hierdie tyd het hy ook vir ses jaar as voorsitter van die NG Kerk se Noordelike Sinode gedien. 

Grobler vertel Pienaar het in 2010 afgetree, maar nooit uitgetree nie. “Hy het deur sy hele bediening die Noordelike Sinode se roepingsverklaring, nl. Bring hoop, maak ’n verskil, hande en voete gegee. Ons eer die Here vir hierdie toegewyde dienaar!”

Pienaar was ook ’n gereelde gas op joernalis Lizelle de Bruin se Sondagoggendprogram Binnekamer. “Sy gereelde bydraes tot Binnekamer, RSG se godsdiensjoernaalprogram, het my program – en my lewe – op ’n besondere manier verryk. Daar is altyd iemand wat sê: ‘Johan het gesê…’ – ’n aanduiding van hoe diep sy woorde gewortel was in mense se harte,” is De Bruin aangehaal in ’n huldeblyk van ’n plaaslike koerant.

Dr Nioma Venter, algemene sekretaris van die NG Kerk, bring in dieselfde berig ook hulde. Sy noem die NG Kerk-familie het met groot hartseer van sy skielike dood kennis geneem.

Pienaar is die skrywer van boeke soos ondermeer Die dag na die rowers opgedaag het. Hy laat sy vrou, Rita, twee seuns en ’n dogter asook agt kleinkinders agter.

Sy begrafnisdiens is Maandag 26 Mei by die NG Kerk Lynnwood.

 

Vriende van Kerkbode

Ondersteun Kerkbode, die amptelike blad van die NG Kerk – én die oudste bestaande Afrikaanse blad in Suid-Afrika – ter wille van betroubare nuus in die kerkgemeenskap…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

2 thoughts on “Johan Pienaar sterf – Laaste woorde van geliefde kerkman bemoedig vele”

  1. Rita Du Plessis

    Sal julle sodra die diens van Johan Pienaar beskikbaar is die link deel indien moontlik, of waar dit beskikbaar gaan wees. Groete

  2. Ockie Raubenheimer

    Stuur asseblief die skakel na Johan Pienaar se afskeiddiens in Universiteitsoord.

Comments are closed.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top