Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief | ’n Gelykenis vir vandag: Die wagtende Ma

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Freek Swanepoel skryf: ’n Egpaar het vier kinders gehad; twee seuns en twee dogters. Saam het hulle hulle kinders met liefde alleen grootgemaak. Later het die Pa ’n groot erf op die dorp gekoop en ’n huis daarop gebou, om so nader aan die skool te wees. So het die gesin die lewe ten volle geniet en gelukkig geleef.

Toe Pa ernstig siek word, het hy op ’n dag sy vrou en kinders gevra om rondom sy bed te kom staan. Hy het hulle meegedeel dat hulle na sy afsterwe saam in die dorp gaan bly. Hy het ook gesê: “My vrou, die plaas is joune. Kinders, Ma het die Testament wat bepaal wat julle van die eiendom op die dorp kan erf.”

Ma het op die dorp gaan woon. Die kinders het grootgeword. Ouboet was die eerste om te trou en met die hulp van Ma het hy op die groot erf sy eie huis gebou en met ’n gesin begin. Ousus het ook getrou en op die buurdorp gaan woon. Op ’n dag staan Ousus voor die voordeur, met haar baba in die arms. Sy huil en word deur Ma omhels.

“Ma, kan ek ook op die erf kom bly, my man gaan van my skei.” So het Ousus en haar kind ook hulle huis op die erf gekry. Op ’n dag het Jongsus ook om ’n blyplek kom vra. Sy en haar vriend is lief vir mekaar, maar wil nie nou al trou nie. So het Kleinsus en haar vriend ook hulle huis gekry. Kleinboet het lank sy eie pad geloop, maar op ’n dag het hy sy huis kom vra, vir hom en sy lewensmaat, ook ’n man. Hy het ook sy huis gekry. Later het hulle die oulikste seuntjie aangeneem. Ma het vanaf haar stoep oor die vier huise uitgekyk en gevoel dat hulle weer, soos op die plaas, in liefde saam kon woon. Sy het erns gemaak om eenders teenoor haar kinders en kleinkinders op te tree, soos Pa dit sou wou hê.

Op ’n dag kom Ouboet by haar sit. Hy vra dat Pa se Testament nou aan die orde moet kom. Toe die Testament gelees word in die teenwoordigheid van al vier kinders, blyk dit dat Pa net een voorwaarde gestel het en dit is dat ’n kind getroud moet wees om in aanmerking te kom vir sy of haar erfenis. Ouboet het ’n paar dae later weer by Ma kom sit en vir haar gesê: “Ma, gee my die deel van die erfenis wat my toekom; en volgens my prokureur is dit net ek wat aan die duidelike bepaling van Die Testament voldoen. Daar is net een maatstaf, Die Testament alleen. Dit was Pa se wens.”

Sy het  by hom gepleit om nie die samesyn te verbreek nie en gepleit vir genade alleen.

Toe Ma besef dat Ouboet nie van standpunt gaan verander nie, het sy teruggetrek plaas toe. Sy het weer in haar huis gaan woon en die twee ruim chalets en die rondawel vir haar drie kinders, wat volgens Die Testament alleen, gefaal het. Hulle het mooi saamgewerk en gou aangepas met die lewe op die plaas. Die skoolkinders het mekaar nog by die skool gesien en dan vir Ma nuus gebring. Ouboet het huurders vir die huise gekry, almal getroudes.

Ma het ter wille van haar eie gemoed vrede gemaak met die onnodige verdeeldheid. Sy glo steeds dat die band van liefde sterker moet wees as die eis van die reg. Dalk sal Ouboet op ’n dag sê: “Ma, ek wil terugkom na Ma toe.”

Daarom sit sy elke aand op die stoep van die plaas vanwaar sy van ver af die plaashek kan sien. As Ouboet daar inkom, wil sy na hom toe hardloop en hom omhels. So sal haar kinders weer saam onder haar sorg bly* en sal liefde alleen weer heers. Sy het immers alles vir die groot fees beplan sodat almal saam bly kan wees.

*Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie (Luk 13:34).

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top