Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die idee van ’n nasionale dialoog geniet reeds geruime tyd wye steun. Ook vanuit kerkgeledere. In April het ’n afvaardiging van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) tydens ’n gespreksgeleentheid met Ramaphosa uitgelig hoe noodsaaklik dit is vir inklusiewe gesprekke met mense op grondvlak oor die land se maatskaplike uitdagings en morele verval. Foto: Argief

NG Kerk verwelkom Nasionale Dialoog wat burgerlike samelewing betrek

Die NG Kerk is lank reeds besig om plaaslike gemeenskappe in dialoog te mobiliseer en verwelkom daarom president Cyril Ramaphosa se aankondiging dat Suid-Afrika se langverwagte Nasionale Dialoog gaan begin, sê dr Nioma Venter, algemene sekretaris van die NG Kerk se Algemene Sinode.

Te midde van wye onsekerheid oor of die werkswyse wat gevolg gaan word inklusief genoeg gaan wees, het sy genoem dit is ’n aspek waaroor hulle as kerkleierskap ook onsekerheid het. “Die hoop is dat die gesprek wel ’n oop gesprek sal wees,” het sy bygevoeg.

Die president het op Dinsdagaand 10 Junie bekendgemaak dat Suid-Afrika se Nasionale Dialoog op 15 Augustus sal begin met ’n nasionale konferensie wat hy as staatshoof belê. Hy verduidelik in sy verklaring dit sal deel vorm van ’n inklusiewe landswye proses om ’n nuwe gedeelde nasionale etos en waardesisteem te vind.

’n Tweede konferensie word beplan vir vroeg in 2026.

Hy het ook ’n wyduiteenlopende groep, soos hy dit verwoord het, “eminent persons”, aangewys wat die proses sal lei en versterk. Die groep van meer as 30 sluit in politici, akademici, sportlui en kunstenaars. Slegs drie kerkleiers is ingesluit, by name eerw Thabo Makgoba, aartsbiskop van Kaapstad, biskop Barnabas Lekganyane, leier van die Zion Christian Church en biskop Engenas Lekganyane, leier van die St Engenas Zion Christian Church.

Agtergrond

Die idee van ’n nasionale dialoog geniet reeds geruime tyd wye steun. Ook vanuit kerkgeledere. In April het ’n afvaardiging van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) tydens ’n gespreksgeleentheid met Ramaphosa uitgelig hoe noodsaaklik dit is vir inklusiewe gesprekke met mense op grondvlak oor die land se maatskaplike uitdagings en morele verval.

Lees ook: Elders gesien | Kerkleiers ontmoet met president Ramaphosa en kabinet

Venter was saam met ds Jan Lubbe, moderator van die NG Kerk, deel van hierdie afvaardiging. Sy noem dat ’n nasionale dialoog al meermale op die agenda van hulle leierskapvergaderings was. Daar is ook inisiatiewe soos dr Braam Hanekom se ‘Honderd Dorpe’-proses en die Citywide Dialogue in die Oos-Kaap waarin ds Danie Mouton ’n prominente rol speel.

Belangrike beginsels

Daar is na berig word by politieke partye en burgerlike organisasies soos Solidariteit kommer dat die staat die gespreksproses kan oorheers. Venter sê dit is iets waaroor hulle as kerkleierskap ook onseker is, maar dat hulle wel hoop dat die proses meer oopgemaak sal word vir deelname soos dit verder ontvou.

Sy het verduidelik dat daar beginsels is rondom so ’n nasionale dialoog wat vir die NG Kerk belangrik is. Dit sluit in dat dit ’n oop en deelnemende proses moet wees met baie spesifieke klem op die stem van die burgerlike samelewing. “Hulle wat dikwels uitgelewer is aan mense en sektore in magsposisies,” het sy bygevoeg.

Sy het genoem sy en Lubbe het saam met die SARK-afvaardiging “onderstreep dat die nasionale dialoog se proses nie gekaap moet word deur enige elite-groep insluitend politici nie”. Die versoek aan die president was dat die verteenwoordiging by dialooggeleenthede divers sal wees om die samestelling van die land se samelewing so goed moontlik te verteenwoordig.

Rondom die feit dat die NG Kerk nie spesifiek ingesluit is by die president se groep nie, sê sy dat die NG Kerk deel is van die eenheid van Christelike kerke in die land en as sulks nie uitgesonder hoef te word nie

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top