Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Rudi Swanepoel: Die radikale Jesus, en ons sukkelende navolging van Hom

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

 

Soms wonder ek of Jesus sy boodskap nie maar ’n bietjie eenvoudiger kon gemaak het nie. Maar wanneer ek my betrap dat ek só dink, besef ek dat Hy dan waarskynlik ook ’n minder gruwelike dood sou gesterf het, en dat minder mense dan sou besef presies hoe groot en geweldig (én gewelddadig) sy liefde is, skryf Rudi Swanepoel.

 

Sien, Jesus was radikaal. Alles aan Hom was radikaal: sy skerp woorde; sy oënskynlik onskuldige fiktiewe illustrasies; die uitsprake wat Hy aan die erg vromes van sy tyd gerig het. Ook sy dade was radikaal: die nader trek van die verworpenes; die openlike deel van ruimtes met randfigure. Wat ’n skande! het baie gesê. 

LEES OOK | Brief: Ernstige vrae oor Skrifverdraaiing

Tot vandag toe bly Hy en sy woorde en sy optrede ’n uitdaging vir die hele mensdom. En veral vir sy volgelinge. Want hoe volg ons Hom hierin? Hoe moet ons Hom gehoorsaam? Hoe raak dit wat Hy geleer het ons? Hoe wys ons dat ons Hom ernstig opneem? En dat ons Hom nodig het? 

Dalk het ons, die mense van Planeet Aarde, Hom in hierdie tyd nodiger as ooit … 

LEES OOK | Cas Wepener: ’n Liturgiese balansstaat (vir aanlyn eredienste)

Een van die baie radikale dinge wat Jesus kom doen het, en wat die Gees steeds in en by en tussen ons doen, is om ons te herinner aan die gelykwaardigheid van alle mense. 

Terwyl ek hier sit en skryf, is daar voormalige Suid-Afrikaners, wit en Afrikaanssprekend, Afrikaners, wat besig is om nes te skrop in Amerika. Hulle is vlugtelingstatus gebied nadat nuwe bepalings deur die Amerikaanse president uitgevaardig is. Dis mammas, pappas en kindertjies. Daar is dalk oumas of oupas tussen hulle. 

Terselfdertyd is daar mammas en pappas en kindertjies en oupas en oumas wat in lang rye in Gasa sit of staan of slaap terwyl hulle vir kos wag. Hulle word stelselmatig verhonger, hul huise is platgeskiet, hulle hoop is min. Sover ek weet, is daar geen land op aarde wat vir hulle, Gasa se mense, vlugtelingstatus gebied het nie. Hulle kan nêrens heen gaan nie. Nêrens nie. 

LEES OOK | Brief: Waaroor het Jesus wél gepraat?

Volgens die evangelie (die “goeie nuus”) van Jesus Christus is alle mense se lewe ewe belangrik vir God. As daar ’n skaal sou wees wat die waarde van ’n lewe kon bepaal, sou elke mens ewe veel werd wees in God se oë. Dis nie ’n eenvoudige boodskap nie. Dis radikaal, ja. Én ingewikkeld én buitengewoon uitdagend. 

En nou wonder ek of Jesus sy rug gedraai het vir die mense van Gasa. 

Ek wonder of Hy dan minder omgee vir hulle.

En ek wonder hoekom daar nie méér Christene is wat hieroor praat nie, wat hieroor kwaad is nie.


Rudi Swanepoel is voltyds predikant by die gemeente Aan-die-Berg in Johannesburg. Hy geniet en waardeer kreatiwiteit in enige vorm. En hy hoop op ’n wêreld waar meer mense ’n plek het.

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top