Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
“Goeie môre en baie welkom in die erediens, ook aan almal wat vanoggend aanlyn inskakel.”
Grendeltyd het gegaan. Aanlyn eredienste het gebly.
So ongeveer vyf jaar gelede het heelparty gemeentes noodgedwonge begin om video-opnames van eredienste te maak en op digitale platforms beskikbaar te stel. Daar was goeie redes om dit te doen. Binne die konteks van ’n globale gesondheidskrisis soos die Covid-19-pandemie en ’n harde grendeltyd was die sielkundige, terapeutiese en pastorale waarde van hierdie aanlyn dienste, wat die bediening van die Nagmaal ingesluit het, enorm. Daar was te midde van daardie skrikwekkende tyd wat soveel mense se lewe geëis het en predikante en gemeentes met aanlyn eredienste probeer het om lidmate pastoraal met troos en hoop te bereik, ook diegene wat gereken het die tyd is gepas om dan en daar as liturgiese en sakramentele polisie op te tree.
LEES OOK: Leraars praat oor pandemie se straf én geskenke
Met filosofiese, historiese en teologiese argumente is die liturgie gepatrolleer. Dit was dan ook hulle goeie reg en, gedagtig aan Paulus se oproep dat alles gepas en ordelik moet geskied, is dit seker sinvol dat die liturgiese polisie ’n ogie oor ons hou.
Tyd vir bestekopname oor eredienste?
Die pandemie is lankal verby en dit is daarom dalk tyd om die pause knoppie te druk en ’n voorlopige aanlyn erediens balansstaat op te stel met kolomme vir debiet en krediet. Dus, nie ’n liturgiese in-hegtenis-neming omdat dinge gedoen word wat nie gedoen mag word nie, inteendeel, net ’n voorlopige oudit om bestaande praktyke te verbeter. Indien daar een ding is wat die teologie ons leer, veral die Bybelwetenskappe, is dit dat elke teks en elke praktyk (soos aanlyn eredienste) binne sy heel spesifieke omstandighede beoordeel moet word. Dit is juis hoekom ek nou ’n voorlopige liturgiese balansstaat optrek. En ek glo my gereformeerde liturgiese balansstaat moet anders lyk as hoe byvoorbeeld ’n Ortodokse of Katolieke rekenmeester hierdie liturgiese somme sal doen.
LEES OOK | Verdeeldheid: As die pole juig en die middel swyg
Wat is die voordele en nadele?
Wat ons in die kredietkolom plaas, is redelik voor die hand liggend – lidmate wat op ’n gegewe Sondag, om watter rede ook al, nie fisies kan inskakel nie, kan nou so inskakel; eredienste kan later in die week of weer gekyk word; mense in aftree-oorde wat in die verlede net ouditiewe uitsaai-eredienste gekry het, kan nou alles ook visueel beleef; meer mense as slegs die betrokke gemeente se lidmate kan bereik word; diegene wat lang afstande moet aflê kan petrol spaar; ek kan die begrafnis, doop, huwelik van iemand oor ’n ver afstand so bywoon.
LEES OOK: Wat sê die Bybel oor die duiwel en die Bose?
Die kredietkolom van hierdie balansstaat was tydens die pandemie heelwat langer as wat dit vandag is, want ons was ingekerker en daardie aanlyn dienste het ondeurdringbare mure van steen en sement liturgies geperforeer, mense laat beleef dat hulle nie alleen is nie en preke en die sakramentsbediening was spesifiek afgestem op die grendelsituasie. Die pandemie is verby en aanlyn het gebly. Bogenoemde krediete geld steeds tot ’n groot mate, al kan diegene wat vóór die pandemie eredienste fisies bygewoon het dit nou weer doen.
Moet ‘n preek dan nie plek-spesifiek wees nie?
Wanneer ek na die debietkolom op hierdie balansstaat kyk, is ek ook opgewonde oor die data wat wys dat derduisende mense uit Kanada en Australië en Engeland elke Sondag aanlyn eredienste uit Suid-Afrika bywoon. Maar weerhou ek nie met my plaaslike aanlyn erediens mense in ander lande, stede en dorpe om dáár plaaslik in te skakel by geloofsgemeenskappe nie? Verder is een van die mees basiese eienskappe van ’n goeie preek dat dit vir baie spesifieke mense op ’n baie spesifieke tyd voorberei is – byvoorbeeld vir lidmate in Britstown wat van skaapboerdery afhanklik is te midde van ’n droogte. En hier sit ek in my huis in Perth en ontvang dáárdie preek.
LEES OOK: Help! My ma is ‘n narsis
Ek het gehoor daar is darem in Australië ook skape, maar sal ek nie beter af wees met ’n “Perth-preek” nie? En nog beter, ’n preek in Perth gelewer deur iemand wat weet dat ons huis toe verlang nie. Verder vertel my dominee-vriende wat in groter gemeentes is waar hulle al heelwat data het oor aanlyn bywoning vir my dat hulle kan sien hoe aanlyn kykers fast forward verby die eerste deel van die liturgie na die preek en na die preek afskakel. Vir my hoort dit tot die debietkolom op ons balansstaat, want hier skuil potensiële liturgiese bloedarmoede of wanvoeding.
Die meriete van ‘n preeklose erediens?
In baie NG gemeentes oorheers die preek alreeds die hele erediens. En wanneer ek só kan fast forward is daar letterlik niks van die res van die liturgie oor nie. Die Switserse liturgis, Jean-Jacques von Allmen, het al in die sestigerjare van die vorige eeu daarop gewys dat wanneer prediking begin om só erg gereformeerde eredienste te oorheers, dit eintlik beteken dat dominees, dat predikers selfs en ons persoonlikhede, ons begin dan eintlik om ook eredienste te oorheers. Hulle het selfs in Von Allmen se tyd in Switserland vir ’n tyd met preeklose eredienste geëksperimenteer (die idee was dat die Skriflesing as sodanig ’n soort Woordverkondiging behels het) om sodoende die predikant net weer ’n slag “op sy of haar plek te sit”. En “op sy/haar plek” het gewoon behels ’n gesonde teologiese balans tussen die liturgie en die preek, omrede ’n vaste liturgie tradisioneel ’n raps minder afhanklik is van iemand se persoonlikheid as wat ’n preek is. Gaan ons in die lig van aanlyn eredienste op die lange duur enige liturgie oorhou in die NG Kerk benewens Skriflesing en prediking? En natuurlik skuil verbruikerisme ook hier, naamlik dat ek soos uit ’n boks Quality Street sjokolades my gunstelinge kan kies en die res net kan los. Ek kan my gunsteling liturgiese elemente kies (gewoonlik net die preek) en ook my gunsteling gemeente (lees prediker). Indien ek vanoggend nie lus is vir Britstown nie, hou ek verby na Hopetown of draai ek af na Prieska of haal ek ’n vlug na Stellastraat of Groote Kerk.
Daar is beslis enorme winste verbonde aan aanlyn eredienste. Ek glo nie dit is nodig dat die liturgiese polisie met loeiende sirenes en blou ligte moet opdaag nie, maar ’n klein oudit wat uitmond in liturgiese kategese is dalk nodig.
Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

Dis ongelukkig so dat baie predikante se preke die dienste oorheers. En om dan nog te luister na ‘n kapstok preek (wat seker gou die vorige aand aanmekaar geflans is|), is om van naar te word.