Dit is meer gletser as aardbewing, berig Le Roux Schoeman oor tydsame teologiese skuiwe soos dit blyk uit ’n onlangse bestekopname vanuit die NG Kerk se tien streeksinodes.
Nie alle lidmate in die NG Kerk glo dit is in hulle belang om in verband te bly met diegene wat die Bybel anders as hulle lees nie.
Hulle verskil dus van ds Jan Lubbe wat in sy Februarie-pastorale brief as voorsitter van die Algemene Sinode Moderamen (ASM) skryf: “Wat ons saambind en wie ons is, is groter as dit waaroor ons nou mag verskil.”
Want waar sommige wil “vashou” en “aanhou praat”, wil ander nie. Hulle lees dalk ’n teks soos Romeine 16:17 (“Pas op vir dié wat verdeeldheid veroorsaak en die mense afvallig maak van die leer wat julle ontvang het. Bly weg van hulle af”) en hoor ’n opdrag wat in stryd is met pogings om eenheid te behou.
Min energie vir SGV-debat
En dan is daar doodgewone vermoeidheid. “Die ring langs my het, ek dink, vyf of ses gemeentes, hulle het op hierdie stadium een dominee … En sy is swanger,” sê ds Rudi Janse van Vuuren onlangs namens die afvaardiging wat lidmate uit NG Kerk Noord-Kaapland by die ASM-vergadering verteenwoordig. “Weet julle waaroor praat daai gemeentes? Wie gaan kom nagmaal hou by ons? Dit is die gesprek,” vertel die leraar tydens ’n terugvoersessie in die siersteen-Peace Hall van die Emseni-oord in Benoni waar Februarie se sitting van die ASM oor twee en ’n half dae plaasgevind het.
LEES OOK: ‘Neem tyd en wees versigtig’: Jan Lubbe oor kerkverband en kerkskeuring
Janse van Vuuren was een van tien verteenwoordigers wat elk deur Lubbe, as voorsitter van die vergadering, gevra is om te vertel wat in hulle geweste “aan die gang is” oor die besluit rondom SGV wat afgevaardigdes by Oktober 2023 se sitting van die Algemene Sinode geneem het. As gespreksmatige bestekopname was dit insiggewende luisterstof.
“Ons kom agter daar is nie baie energie vir gesprek oor selfdegeslagverbintenisse nie,” het Janse van Vuuren saamgevat.


Uit die Sinode Oos-Kaapland het dr Chris van Wyk gesê dié streeksinode het die onderwerp in 2022 deeglik deurgegaan. Die uitslag van ’n vraelys staan vir hom uit. Dit toon dat 69% van predikante “probleme van een of ander aard met SGV het en 31% nie”. “Maar net 43% van leraars in die Oos-Kaap staan daarby dat almal moet dink soos hulle dink. En obviously 57% is ten gunste van die 2019-besluit.” Daar is ses gemeentes wat doleer (treur) in dié streeksinode, as aanduiding van ongelukkigheid met die teologiese besluite van die Algemene Sinode. Van hulle oorweeg ’n akte van opskorting met kerkverband, ’n nuwe stap wat kerk- en gemeneregkenners tans verdeel oor die legitimiteit en praktiese implikasies daarvan en die kerk dalk weldra in die hof sal laat beland.
LEES OOK: Spanning binne kerkverband: Kerkorde moenie stok wees, maar herderstaf
“Binne gemeentes is daar ook woelinge wat nie noodwendig tot aksie oorgaan nie,” voeg Van Wyk by. “Maar dis relatief min probleme,” sê die leraar van die Baai.

Kommunikasie is moeilik
Dr Grant du Plessis praat oor Goudland waar 15 uit 141 gemeentes doleer. “Ons het ná (die Algemene Sinode van) 2019 twee spesiale sinodesittings en daarna nog een gehad. “Een gemeente het alle bande met AS verbreek, maar is steeds deel van Goudland,” berig Du Plessis en noem dat daar weer op 12 Maart op sinodale vlak vergader word.
By Noordelike Sinode se sitting in September 2022 was daar ’n beskrywingspunt oor SGV, berig dr Dewyk Ungerer. Daar is ses gemeentes wat formeel doleer. Een het intussen ontdoleer. Tans is daar g’n aktes van opskorting nie.
Dr Leon Foot praat oor gemeentes in NG Kerk Vrystaat. “Die saak is maar op die tafel,” sê hy. Nog ’n buitengewone sinode word oorweeg om verder daaroor te gesels. “Ons het 19 gemeentes wat doleer. Soms klink dit of daar meer is, soms minder. Ons het gemeentes al gaan sien, maar dit bly moeilik.”
Drie van die gemeentes het ’n akte van opskorting ingedien, volgens Foot. Gemeentes soos die een op Vanstadensrus (74 belydende lidmate), tussen Wepener en Zastron. Asook die kerkraad op Kestell.

LEES OOK: Dié Vrystaatse dominees gooi wal teen verdagmakery, beskuldigings
Foot het ook verwys na die “getuienis” wat in Januarie vanjaar uitgestuur is deur 45 leraars wat sê dat hulle onder meer die aanklag verwerp “dat ons nie meer getrou is aan die belydenisgrondslag van die NG Kerk nie”.
‘Vrygemaakte’ gemeente
Uit Oostelike Sinode sê dr Tertius Erasmus SGV is ’n saak wat baie aandag gekry het. “Ons gaan als in ons vermoë doen dat gemeentes wat anders dink steeds veilig voel.”
In Hoëveld Sinode het drie gemeentes hulleself as “vrygemaak verklaar”, berig ds Johan Botha. “Kommunikasie is moeilik,” meen Botha.
Uit die sinode van Wes-Kaapland (224 gemeentes, 24 ringe), maak ds Marinus Theron die opmerking dat SGV nie op die agenda van dié streek se afgelope streeksinodesitting op Goudini was nie. “Uit die vorige termyn (2019 tot 2023) was daar nege gemeentes wat gedoleer het. Dit het maar oor die besluit van SGV gegaan. Vyf was in die ring van Oudtshoorn.”
’n Gemeente in Kaapstad, Tafelberg, was intussen taamlik in die nuus en bestempel hulleself as vrygemaak. “Vrye Gemeente Tafelberg is ’n onverbonde Nederduitse Gereformeerde gemeente. Die eerste van hopelik baie wat nog sal volg!,” luidens hulle webwerf). “Dis vir ons sleg, maar ons beskou hulle as deel van die familie,” het Theron in ’n kort verwysing na dié steeds voortdurende saak gesê.
Namens die NG Kerk in KwaZulu-Natal (KZN), berig dr Barry Tolmay dat die gesprek rondom SGV “rerig ’n periferie-ding is.” Daar is twee gemeentes wat doleer. Kokstad en Hluhluwe.


Onpeilbare polarisasie?
Met meer as ’n 1 000 gemeentes in tien streeksinodes oor (hoofsaaklik) twee lande heen, is dit na twee dekades se debat, steeds moeilik vir die nuuskierige waarnemer om te peil of hy/sy die algemene polarisasie onder lidmate binne die NG Kerk oorskat of onderskat? En, meer spesifiek, hoe verdeeld lidmate is oor Skrifgebruik wat ruimte bied vir verskillende standpunte oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag – die sogenaamde SGV-debat – ’n kapstok vir die meeste besware.

Drie verdere komplikasies naas die grootte en losse aard van die groepering om te pols, is sosiale media se eggo-kamers, wat nie help om die spieël wat ’n mens wil ophou meer “plat” te kry nie. Nes met politiek hoor ’n mens die pole juig en die middel swyg.
Tweedens figureer ’n ons-en-hulle lewensuitkyk steeds sterk binne kerke, tesame met die soort, sielkundig gesproke, naïewe realisme wat blyk uit die oortuiging dat jy op enige dag met net ’n webkamera en 40 minute tot jou beskikking enige regdenkende mens tot nuwe insig sal kan bring. En derdens het teologiese skuiwe ’n tempo wat werknemers wat in nuussiklusse gekluister is uitermatig frustreer. Hoe berig jy Sondag na Sondag of RSG-oggend na RSG-oggend oor iets wat meer van ’n gletser is wat bestudeer moet word as aardskudding wat amok saai en dramatiese foto’s en klankgrepe oplewer?

Nuus uit Namibië
Tog is daar draaipunte. Ds Johannes Maritz staan by die terugvoersessie op vir die NG Kerk in Namibië. Sy vorige gemeente (Gobabis) se grense was groter as die hele Vrystaat en – soos dikwels met die Namibiërs met wie ’n mens hier gesels – is die maniere waarop dié nasie ánders as ander streke is, voorop in hulle denke. Die 16 000 lidmate daar beleef volgens Maritz sedert 2015 die saak van SGV as ’n krisis in die kerk. “Die gemeentetjie waarby ek nou die laaste vier jaar is, het na 2015 se besluit letterlik almal onder 50 die gemeente verlaat. Wat beteken dat die gemeente nou bestaan uit 75% pensionarisse,” vertel Maritz.
Waar ’n mens dikwels die pleidooi vir gesprek en luister na mekaar hoor, getuig Namibië van hoe dit aan die einde van so ’n proses kan lyk. “Daar is baie na Namibië geluister en ons is baie dankbaar vir die gesindheid waarin ons ontvang is en waarin die gesprekke dan kon plaasvind,” het Maritz gesê. “Ná verlede jaar se (algemene) sinodesitting het ons afgvaardigdes met (die Namibiese) moderamen bymekaar gekom en is daar besluit dat ons ons verhouding met die AS herdefinieer, verduidelik Maritz.
“Ons konteks is net heeltemal anders omdat ons in ’n ander land bly en ons bedieninge net heeltemal anders is. Ons bly in ’n ander land. Ons het ’n roeping daar. Waarmee die Algemene Sinode ons ongelukkig nie kan help nie. Daardie roeping en uitlewing daarvan is die Namibiërs se verantwoordelikheid.”
Maritz het gaan sit en die vergadering van die ASM het voortgeduur.
Uit Namibië hoor ons dat ná die 2015 AS verg. letterlik almal onder 50 ‘n gemeente verlaat het! Raak dit nie die ASM nie? Laat dit jou nie nagte wakker lê nie. En pla dit jou nie dat by al drie jou universiteite waar jy jou dominees vir 1,000 gemeentes oplei daar vir 2024 slegs vier eerstejaars vir teoligie geregistreer het nie. By Namibië se terugvoer dat hulle “in ‘n ander land” woon moet waarskynlik ook bygevoeg word dat hulle in ‘n ander Bybel glo; die Bybel wat steeds die onfeilbare Woord van God is, en nie ‘n ou boek met sg. absolute waarhede en wat “nie ‘n ‘cooking clue’ het oor moderne meningsverskille nie. Namibië glo nog dat die Bybel God se Woord in mensetaal is, en nie bloot kortsigtige mense se woorde oor God nie.
M.b.t die min ingeskrewe studente. Daar is nie genoeg werk in die kerk vir almal nie. Daar is talle proponente en predikante wat nie tans in gemeentes is nie wat sukkel om werk te kry. Mense hoor daar is nie werk nie en kies dan om eerder iets anders te swot.
Annarie se reaksie beskou ek as ‘n dekmantel wat die feit wil wegsteek dat die Sinode se besluit (wat hulle namens God gemaak het), naamlik dat, onder andere, homoseksualiteit nie meer as ‘n sonde gesien word nie, die getroue lidmate van die NG Kerk in so ‘n mate ontstel het, dat groot getalle ‘n ander heenkome gaan soek het!
Die arrogansie van die NG Kerk se huidige bestuur om namens God te besluit dat iets wat ‘n gruwel in God se oë was, nou skielik nie meer as sonde geag word nie, skree ten hemele!
Die rede dat daar nie genoeg werk in die kerk is nie, is duidelik die gevolg van ‘n krimpende getal lidmate wat veroorsaak word deur dwaalleringe deur ons leraars wat die Bybel verdraai om mense ter wille te wees.
Dankie Annari dat jy die saak rondom studente reg opsom. Baie gemeentes kan weens ekonomiese druk ook nie meer predikante bekostig nie en daar is ‘n vreeslike groot mark vir afgetrede predikante wat meer bekostigbaar is vir gemeentes. Die min studente het helaas niks te doen met die AS se besluite nie.
Baie kerkrade wil ongelukkig nie die AS se besluit(e) rondom SGV verstaan nie. Daar word duidelik gesê dat daar mense is wat verskillend dink oor dit en elke groep beroep hulle op die Bybel. Dis egter niks nuuts nie. Deur die eeue het mense die Bybel verskillend verstaan. Ons het al gesê: Waar daar 2 Afrikaners bymekaar is, stig hulle klaar 3 kerke. Die AS het verder besluit – vanweë die verskil in opinie – dat elke gemeente die reg het om oor die saak te besluit soos wat hulle dit verstaan. Gun elke gemeente die reg om volgens hulle oortuiging te besluit en leef in vrede voort sonder om jou standpunt te probeer afdwing op andere of andere te ettiketeer as mense wat dwaal of vrysinnig is. Gaan lees weer Romeine 14.