Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Vanaf 1935 tot 1937 werk die Duitse teoloog Dietrich Bonhoeffer aan sy boek Life together (in 1939 gepubliseer), terwyl hy verantwoordelik is vir die teologiese opleiding van predikante in die Belydende Kerk aan die ondergrondse Finkenwalde Seminarium – wat uiteindelik deur die Gestapo gesluit sou word.
In daardie onstuimige jare, kort na die aanvaarding van die Barmenverklaring (in 1934) wat bely dat die kerk slegs een hoof en Here, Jesus Christus, het, vra Bonhoeffer na die aard van (kerklike) gemeenskap.
Wat beteken dit om saam te leef? Waarin word die eenheid van die kerk gesetel?
Geen aanspraak op genadeskenk
Dit behoort nie as vanselfsprekend geneem te word dat Christene die voorreg het om saam met ander Christene te (kan) leef nie, skryf Bonhoeffer. Jesus Christus was immers omring deur vyande, en aan die einde van sy lewe deur sy dissipels agtergelaat om alleen aan die kruis te sterf. Die fisiese teenwoordigheid van ander Christene en sigbare gemeenskap is ’n geskenk van genade, ’n seën, en ’n bron van vreugde. Dit is nie ’n gegewe nie, argumenteer Bonhoeffer, want dit kan enige oomblik van ons af weggeneem word. Ons kan nie aanspraak maak op ’n genadeskenk nie.
Vir Bonhoeffer beteken ’n gelowige lewe om in gemeenskap deur Jesus Christus en in Jesus Christus te leef. Geen Christelike gemeenskap is meer óf minder as hierdie nie, en ons behoort aan mekaar alléénlik deur en in Jesus Christus.
Kerk as goddelike gemeenskap
Die implikasies hiervan, vir Bonhoeffer, is dat (1) ’n Christen ander benodig as gevolg van Jesus Christus, dat (2) ’n Christen na ander kom (slegs) deur Jesus Christus, en dat (3) ons in Jesus Christus verkies en verenig is met mekaar – vir ewig. Christelike gemeenskap beteken gemeenskap deur en in Jesus Christus.
Die kerk is ’n goddelike gemeenskap, maar nie ’n ideale gemeenskap nie.
Trouens, Bonhoeffer waarsku in die sterkste terme moontlik téén ’n gemeenskap wat gebore word uit wat hy noem ’n ‘wensdroom’. Ernstige gelowiges het baie sterk, baie definitiewe idees van hoe ’n Christelike lewe saam – ’n Christelike gemeenskap – lyk, en probeer uitvoering daaraan gee. Gelukkig verbrysel Godsgenade sulke drome, skryf Bonhoeffer, omdat God ons nie toelaat om selfs vir ’n oomblik in ’n droomwêreld te leef nie. Meer nog: God haat visioenêre drome, argumenteer Bonhoeffer, omdat dit selftrots en eielof by die dromer kweek – so asof ons drome mense saambind in die kerk.
Eenheid nie produk van leierskap
Kerkeenheid is nie die produk van visioenêre leierskap, goeie strategieë, of selfs die slim formulerings van die besluite van ’n kerk nie. Dit is God wat alrééds die fondasie van ons saamwees gelê het, as diegene wat deur God saamgebind en ingebind word in een liggaam met ander Christene in Jesus Christus, wat ’n lewe saam moontlik maak.
Daarom word ons deel van daardie gemeenskaplike lewe nie as diegene met allerweë eise nie, maar as dankbare ontvangers. Ons dank God vir alles wat ons uit Godshand ontvang, insluitend die gawe van susters en broers in Christus, skryf Bonhoeffer. Ons kla nie oor dit wat God ons nie gee nie, maar ontvang eerder met dank – selfs op die moeilikste dae, selfs wanneer sonde en misverstand ons gemeenskaplike lewe belas – die geskenk van ’n lewe wat saam geleef kán word, aldus Bonhoeffer.
Hierdie saamwees is nie ’n ideaal wat ons moet nastreef of láát realiseer nie, maar eerder ’n gegewe realiteit – geskep en gegee deur God in Christus, ’n lewe onder die Woord – waaraan ons bloot kan deelhê.
Die lewe saam onder die Woord sal egter slegs gesond kan bly waar dit ditself nié omskep in ’n beweging, ’n orde, ’n samelewing, of ’n gemeenskap van vromes nie, maar eerder deel vorm van die een, heilige, algemene, Christelike kerk – waar dit deel in die swaarkry en worstelinge asook die hoop en belofte van die hele kerk, skryf Bonhoeffer.
Die gevaar van uitsluiting
Hierdie is veral belangrik wanneer ons sekere groepe mense uit die kerk wil uitsluit – want dit sou kon beteken dat ons daarmee Christus sélf uitsluit, waarsku Bonhoeffer. Jesus Christus alléén is die fondasie en bron van ons eenheid, en deur Christus alléén het ons toegang tot mekaar, vreugde in mekaar, en gemeenskap met mekaar, skryf Bonhoeffer.
In hierdie dae, waarin daar opnuut sprake is van kerkskeuring in die NG Kerk, is dit dalk weer tyd om sommige van Bonhoeffer se insigte en vrae oor kerkeenheid te herbesoek.
Vir Bonhoeffer is dit in Christus alleen – en daarmee buite elke poging wat ons kan aanwend om die kerk na aanleiding van ons ideale en ‘wensdrome’ in te rig en te bestuur – wat ons lewe saam gesetel is. Al hou ons ook by tye niks van mekaar nie, en wil ons soms ook niks met mekaar te make hê nie, behoort ons aan Jesus Christus – en daarmee onherroeplik ook aan mekaar.
Hoe jammer sou dit nie wees as ons hierdie geskenk nie wou ontvang nie …
Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch en is as predikant gekoppel aan die NG Kerk Stellenbosch-Welgelegen.

