Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Brief: ‘Eenheid kan nie bestaan sonder onderskeiding nie’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Julian Olivier van Groblersdal skryf: Dr Nadia Marais se rubriek oor “Die geskenk van eenheid” herinner ons daaraan dat ware eenheid ’n gawe van God is. Dit is nie iets wat ons self bewerk nie, maar wat ons ontvang in Christus. Haar verwysings na Bonhoeffer en haar oproep tot “gemeenskaplike gehoorsaamheid” is prysenswaardig.

Maar ’n vraag het by my bly spook: Maak die postmoderne wêreld waarin ons leef, nog ruimte vir iets soos dwaalleer?

In die gees van postmodernisme, waar alles ruimte kry, word dit al moeiliker om onderskeid te tref tussen waarheid en vervalsing. Indien elke geloofsbelewenis as ewe geldig aanvaar word, wat doen ons dan met Jesus en die apostels se ernstige waarskuwings teen valse leraars, ander evangelies en misleiding? (Matt 7:15; Gal 1:6-9; 1 Joh 4:1).

Ek vermoed deel van die rede vir ons huiwering lê in die NG Kerk se eie hartseer geskiedenis. Omdat grense in die verlede gebruik is om apartheid te regverdig, bestaan daar vandag ’n verstaanbare vrees om weer te “onderskei” of mense uit te sluit. Hierdie sensitiwiteit het egter ’n nuwe versoeking gebring: die oorkorreksie van alles probeer inklusief maak – selfs leer wat nie getrou aan Christus is nie.

Maar die Bybel roep ons nie tot ’n eenheid sonder waarheid nie. Die eenheid waarvoor Jesus bid in Johannes 17 is gewortel in die waarheid van God se Woord (Joh 17:17-21). Die apostels roep die kerk op om valse leer te weerstaan en te toets wie werklik in Christus is (1 Joh 2:19; 2 Tim 4:3-4).

Die Reformatoriese belydenis het nog altyd volgehou dat ware eenheid gebou word op drie merktekens:

  1. Suiwere verkondiging van die Woord,
  2. Regte bediening van die sakramente, en
  3. Geestelike tug.

Eenheid kan dus nie bestaan sonder onderskeiding nie. Dit is nie liefdeloos om dwaalleer uit te wys nie – dit is juis omdat ons liefhet dat ons die kudde teen misleiding beskerm (Hand 20:28-30).

Ek skryf nie om verdeeldheid te saai nie, maar om ’n broederlike gesprek aan te moedig. In ons poging om liefde te betoon, mag ons nie die waarheid versaak nie. Wanneer die Gees van postmodernisme ons leer dat “alle sienings” ruimte moet geniet – selfs dié wat openlik teen God se Woord draai – is ons in gevaar om die gemeenskap van die heiliges te vervang met ’n konfederasie van menings.

Mag ons die eenheid van die Gees bewaar – sonder om die onderskeiding van die Gees prys te gee.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top