Gasvryheid was aan die orde van die dag tydens WRK-lede se besoeke aan plaaslike NG Kerke op Sondag 22 Junie 2025, skryf Hendrien van Vliet.
Dit is partykeer angswekkend wanneer nuwe mense na jou gemeente toe kom, maar selfs nog meer so wanneer hierdie mense vreemdelinge is, nie net van die gemeente of die onmiddellike area nie, maar van die land. Vier plaaslike Oosrand-gemeentes het wel hulle deure oopgemaak vir meer as 20 afgevaardigdes van die die Wêreldraad van Kerke se Sentrale Komitee.

LEES OOK: Die Sondag toe 4 000 God in Soweto (ook) in Afrikaans prys
Ek dink niemand kan die NG Kerk verdink daarvan om mense weg te stuur sonder dat ons eers ’n geselsie aangeknoop het, of die mense darem iets te ete gegee het nie. Dit is so ’n bietjie in ons DNS. My man moes tydens Pinksterweek in Welkom rondry vir werk, en hy het nogal gegrap en gesê hy is 100% seker daar is ’n NG Kerk op die dorp wat elke aand sal sop hê tydens Pinkster. Dit is deel van wie ons is: om saam te eet.

En Sondag was geen uitsondering nie. Gemeentes het uit hulle pad uitgegaan om vreemdelinge te verwelkom. Waar hulle honger was, is hulle gevoed. Waar hulle moeg was, is hulle versterk. Waar hulle gesels het, is horisonne verbreed. By my eie gemeente, waar ek byna nooit in Engels preek of aanbid nie, het baie lidmate heerlike gesprekke aangeknoop en moeite gedoen om seker te maak die gaste bly nie vreemdelinge nie.*

LEES OOK | WRK: Deelname is NGK se geleentheid om te getuig, genees en te verbind
NG Kempton-Kruin in Kemptonpark het agt afgevaardigdes verwelkom, waar eerw Karin van den Broeke van die Protestantse Kerk in Nederland die diens gelei het. Na die diens het hulle deelgeneem aan die gemeente se “Doen Goed”-uitreik na ’n plaaslike ouetehuis waar komberse en wintersokkies uitgedeel is en lekker hamburgers saam geëet is. NG Kempton-Hoogland, ook in Kemptonpark, het drie gaste verwelkom en het na die erediens biblioteekrakkies geverf en lekker gebraai met pap en sous onder die winterson (die gaste het baie koud gekry!). Jubilaté-gemeente in Boksburg het vier gaste verwelkom waar ds Nicole Ashwood van Jamaika en die Kaaimaneilande gepreek het en die gemeente die afgevaardigdes geseën het met die Afrikaanse weergawe van “Die Seën”-lied. Later is hulle bederf met braaivleis, braaibroodjies en melktert! NG Impalapark het sewe gaste verwelkom en geluister na eerw Brian Muyungu van die Anglikaanse kerk van Uganda, met heerlike tee en verversings later.

LEES OOK: ‘Ons moet ’n ánder boodskap dra’ | 10 Vrae aan Jan Lubbe
Elke gemeente het iets beleef van die koninkryk van God op hierdie Sondag. Dat ons nie besig is met God se werk op ’n eiland nie, maar dat ons deel is van iets veel groter, en dat ons eintlik nie vreemdelinge is nie, want ons beleef in ons verskillende kontekste unieke uitdagings, maar ons word bemoedig met stories van hoop, van God wat werk in die wêreld.
Uiteindelik het ek beleef dat ons soveel in gemeen het. Daar is so baie wat ons saambind as gelowiges rondom die wêreld, veel meer as wat ons verdeel. En in ’n wêreld wat al meer gepolariseer lyk, gee dit vir my baie hoop. Ds Michelle van Tonder van NG Kempton-Kruin verwoord dit dalk die beste: “Wat werklik wonderlik was, was om te besef dat die groot verskeidenheid van gelowiges ’n getuienis van God se grootheid is, en ons is dankbaar om deel van daardie getuienis te wees.”
* Hierdie paragraaf is ná publikasie vir akkuraatheid publikasie aangepas.
Ds Hendrien van Vliet is predikant by die NG Kempton-Hoogland.
