Wat kan ons konkreet doen om lyding te verlig? Dít is die vraag, sê Jan Lubbe in dié onderhoud met Kerkbode.
Kerkbode (KB): Beskryf hoe jy te werk gaan wanneer jy gekonfronteer word met ’n teologiese of etiese vraagstuk waarvoor daar nie ’n duidelike, reguit antwoord is nie. Wat is jou proses van deurwerk?
Jan Lubbe (JL): Die ideaal sou wees om stil te word, tyd te neem, ’n teksgedeelte of twee na te slaan, die “Dogmatiek” of “Etiek” van Heyns, Jonker en Durand van die rak te haal, perspektiewe te weeg, te wag vóór jy antwoord. Die werklikheid is egter anders: ’n lidmaat, kollega of vergadering vra en wil dadelik weet, en voeg dikwels ook by, “gee my net ’n ‘ja’ of ’n ‘nee’; is dit sonde, of nie?” Dan moet ’n mens ín die oomblik diep delf in die teologie waarin jy opgelei is, jou verwysingsraamwerk deur jare opgebou, en wat in die gemeentelike bediening en lewe met medemense gelouter is. Maar ons is nie die eerstes, bestes of laastes om op die vrae na God en ’n regverdige lewe te antwoord nie. Daarom lê daar op my lessenaar naas my Bybel (2020-vertaling), ook ’n belydenis soos dié van Nicea (vanjaar ontdek ons weer die aangrypende dieptes van daardie formuleringe oor God; Vader, Seun en Gees) en die Heidelbergse Kategismus, waarvan die derde deel oor etiek – die Tien Woorde vir ’n geseënde lewe en Jesus se radikale uitleg van die Wet – steeds ons tydsgewrig besonder omvattend en aktueel aanspreek. Ek’s versigtig vir al te kreatiewe “nuwe antwoorde”. En ek sal die vraagsteller eintlik wil laat ontdek dat sy of haar vraag oor méér as net ’n kitsantwoord gaan. Dat ons liewer ’n entjie op die pad saam kan loop en daaroor gesels, skepsels voor die aangesig van hulle Maker, luisterend en só saam te vorder in die rigting van lig en vrede.
KB: Hoe hanteer jy dit wanneer jy twee waardes of beginsels teëkom wat albei belangrik is, maar wat met mekaar bots? Kan jy ’n voorbeeld gee van so ’n situasie en hoe jy daaroor gedink het?
JL: Die vrae waarmee gelowiges worstel, is ook óns vrae; in eie hart, familie of gemeente. Daarom is dit tegelyk makliker én moeiliker wanneer só ’n vraag na jou kom in ’n pastorale spreekkamer, want daar kom soek ’n lidmaat opreg na lig; meestal nie om te twis nie, maar om te hoor of jý dalk ’n woord van God hieroor het wat hulle sou kon help? Byvoorbeeld, oor die begin en einde van lewe – in die taal van ons kerkdebatte en sinodeverslae: oor “aborsie” en “genadedood”, twee kante van dieselfde vraag. En dit is heilige grond: Wie beskik oor lewe en sterwe? God alleen, genadiglik en wys, òf dra ons ook ’n menslike verantwoordelikheid en hoe ver? Is alles wat (medies) kán, noodwendig “reg” of “goed”? Vir my is dit belangrik: Wie sit hier vraend voor my – ’n bang jong meisie; ’n ontstelde ouerpaar; ’n vervreemde familielid; ’n eensame bejaarde; ’n getraumatiseerde lewensmaat langs die ISE-bed? Om dan óók te luister na wat die Christen-dokter of -terapeut sê; húlle is eksegete van God se skeppingsopenbaring in die biologie of psige van die mens (Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 2). Omdat daar in hierdie eksistensiële vrae dikwels teenoorstaande beginsels in spel kom, is Salomo se gebed ook myne: “Here, ek weet nie hoe om tussen goed of kwaad te onderskei nie, maar gee my ’n hart wat luister” (1 Konings 3:9). Of soos wat Paulus vir die gemeente in Efese bid: “Dat die oë van julle harte verlig mag wees” (Efesiërs 1:18). ’n Nederlands-gereformeerde etikus het eens vir my gesê: “Ethische conclusies maken wij niet, wij ontvangen het.” Dít is waarop geloofsonderskeiding neerkom.
KB: Vertel my van ’n keer toe jy jou mening oor iets belangriks moes verander. Wat het daartoe gelei, en hoe het jou denkproses tydens daardie oorgang gelyk?
JL: Ek kan nie nou dink aan ’n etiese of teologiese kwessie waaroor ek regtig “my mening (wesenlik) moes verander” het nie, maar dat ek deur drie dekades in die bediening tot ’n groter begrip en dieper verbintenis aan ’n basiese vertrekpunt en benadering gegroei het, is beslis so. Philip Yancey het op ’n keer James KA Smith aangehaal: “When you’re young, it’s easy to confuse strength with dominance; when you’re older, you realize the feat of character it takes to be meek. I used to imagine my calling was to defend the Truth. Now I’m just trying to figure out how to love the way Jesus called us to love. Analysis won’t save us. And the Truth of the Gospel is less a message to be taught and defend, than a mystery to enact and live by.” Ek het baie in dié proses geleer, en soos Lied 511 bid: “Ja, ek was dwaas, verlei deur ydelheid. Vergeef tog Heer, daardie tyd!”
KB: Hoe dink jy oor die spanning tussen wat jy glo ideaal sou wees en wat prakties werkbaar is in die werklike wêreld? Hoe beïnvloed dit jou besluitneming?
JL: Dáárdie spanningslyn loop dwarsdeur die Bybel en is eie aan wat geloof is, naamlik “die sien van die Onsienlike” – Hebreërs 11:1, en daardie hele hoofstuk se “heldegalery”. Dat ek téén my eie gebreke en daaglikse stryd in, die stad van God (Augustinus se De Civitate Dei) in die verte sal bly sien, en hardnekkig bly hoop dat Hy my dit sal laat haal. In sy boek oor geestelike dissipline het Richard Foster geskryf: “One of the fruits of silence, is the freedom to let our justification rest entirely with God. Silence is intimately related to trust.” Hou net aan en doen wat jou hand vind om vandag te doen.
KB: Gereelde lesers van jou Kerkbode-rubriek sal weet hoeveel tyd jy op pad deurbring. Wat het jou die afgelope jaar of twee die meeste verras rondom die interaksies wat jy met die mense van Suid-Afrika het uit hoofde van jou posisie as moderator van die NG Kerk?
JL: Die opregte liefde van lidmate vir die NG Kerk as hulle geestelike moeder, en daarom ook hulle diep versugting na vrede en lewe in hulle gemeentes; na die bediening van Woord en brood sodat dit in hulle dorp en ons land beter kan gaan met almal.
KB: Op meer persoonlike vlak, watter projeksies kom gereeld na jou kant toe, hoe hanteer jy dit, en watter aspekte van jou rol verstaan mense heel dikwels verkeerd?
JL: Toe die termyn begin het – Maart 2022 in die Vrystaat, Oktober 2023 by die Algemene Sinode – het ek talle oproepe, boodskappe en e-posse van lidmate, kollegas en gemeentes gekry met versoeke om hulle probleme te help oplos. En ek het baie deernis daarmee. Maar in daardie tyd het ’n vriend ook ’n aanhaling van die vorige aartsbiskop van Kantelberg, Rowan Williams, aangestuur: “You’re always on display; you’re always out there to be interpreted, you’re always being told by competing voices to become an echochamber for their positions. What people really want from you, is for you to say what they say, only louder. Maintaining any kind of balance or perspective, even integrity, is just hard work.” Daarom is ek as voorsitter van ons Algemene Sinode Moderamen (ASM) ontsaglik dankbaar vir die span van ongeveer sestig verkose verteenwoordigers oral uit ons land, wat sáám help luister na die Gees en die Woord. Vir die benaming “kerkleier” (enkelvoud) is ek ietwat lugtig.
KB: Eerw Alan Storey het by die jaarlikse Andrew Murray-Desmond Tutu-prysegeleentheid einde Mei die NG Kerk se stilte oor die bewerings van ’n volksmoord in Suid-Afrika as “oorverdowend” beskryf. Het hy ’n punt beet dat die NG Kerk goed geplaas sou wees om ook in internasionale konteks iets oor die saak te sê?
JL: Bewerings oor ’n “wit volksmoord in Suid-Afrika” is oordrewe en tewens onsensitief in dieselfde jaar dat ons ’n volksmoord in Gasa sien afspeel. Wat ons móét sê, is dat die geweld waarmee boere en plaaswerkers aangeval en deurlopend bedreig word, onaanvaarbaar is! Waarteen ons ons stem móét verhef is die skreiende tien moorde per dag op vroue in ons land en die molestering en ontvoering van kinders. Geseënd is die vredemakers; geseënd is dié wat honger en dors na geregtigheid – dít is wat die NG Kerk moet sê. En daarvoor vind ons nou maar eers weer ons stem post-apartheid in die breër ekumeniese familie in ons land, en leer ons nog maar stamelend in ’n internasionale konteks om te sê wat gesê moet word.
KB: Wat is die maniere waarop die besluit wat die Algemene Sinode in 2023 oor Israel en Palestina geneem het, lidmate vandag help wanneer hulle oor die lewensverlies aan alle kante van hierdie konflik besin?
JL: Die besluit van AS 2023 oor Israel/Palestina, is geneem skaars tien dae ná die aanvalle van 7 Oktober. By elke vergadering van die ASM sedertdien het ons geloofsonderskeidend na berigte hieroor en die komplekse geskiedenis daaragter gekyk, na mekaar geluister en saam gebid. Intussen het onnoembare lyding in daardie landstreek afgespeel, het die dodetal tot meer as 60 000 gestyg en is die Midde-Ooste op ’n mespunt … Ons 2023-besluit is steeds rigtinggewend en beklemtoon die beginsel dat “alle mense na die beeld van God geskape is en dat die Woord van God ‘n bron van lewe is, nie ’n bron van dood nie.” Maar ons móét nou in sterker terme en met ’n groter dringendheid die geweld daar afkeur; gemeentes en lidmate oproep tot ’n gebed vir vrede; saam met Christelike kerke wêreldwyd pleit vir ’n onmiddellike skietstilstand, die verlening en toelating van humanitêre hulp in Gasa, en vir die onderhandeling van ’n regverdige en volhoubare sosio-politieke skikking vir Palestina en Israel. En onsself afvra: Wat kan ons konkreet doen om lyding te verlig?
KB: Wat is die goed wat jou tans opgewonde maak van die gemeentes waarmee jy kontak het?
JL: ’n Eerlikheid en realisme onder lidmate om die werklike uitdagings van ons land in die oë te kyk. ’n Verlange om met groter deernis na mekaar te kyk, hande te vat en saam te bedien. ’n Groeiende besef in gemeentes dat ons mekaar nodig het om sigbaar liggaam van Christus te wees. ’n Erkenning dat niks goeie teologie (en opleiding daarin) kan vervang nie, en dat ons gereformeerde tradisie van Nicea af al, ons juis help om die Bybel ín en vír ons tyd te lees.
KB: Wat is die goed wat jou bekommer oor waar ons land tans is?
JL: Dit wat mense hoop laat verloor: armoede en werkloosheid, misdaad en mafioso, korrupsie, geweld, polisie en justisie wat struikel – dit word ál erger. ’n Regering wat nie die regte planne gemaak en gedoen kry nie. Toenemende polarisasie. In só ’n tyd of konteks verrys maklik die afgod van ’n totalitêre staat of een of ander magtige messiasfiguur “wat dit kan regruk”, en kry die ideologieë van ras, volk of nasie ’n verblindende greep op die massas. Tien jaar gelede al, het Richard Rohr geskryf: “The world is afraid of reconciliation. We prefer to live in a world of black and white, where we create enemies because that keeps our own group together.” Ons is as NG Kerk geroep om ’n ánder boodskap te dra.

Ds Lubbe, mag ons ook gemeentes en lidmate oproep tot ’n gebed en saam pleit vir die onmiddelike teruggawe van gyselaars, of mag ons net bid en vra vir dit wat Hamas wil hê?
Dis nie ons taak om kant te kies nie, maar om beide kante te oortuig dat vrede slegs moontlik is waar liefde, vergifnis en rasionele denke bestaan. Ons is almal goddelike skepsels, en daarom moet die Goue Reël geld: doen aan die ander soos jy aan jouself gedoen wil hê. Die oordeel kom nie die mens toe nie; vertrou God daarmee
Ek is hartseer oor ons moderator. Hy praat al hoe meer van emosionele en fiktiewe goed asof hy ‘n KI (kunsmatige intelligensie) kursus agter die blad het. Die vrae word tog so liefdevol en deernisvol beantwoord terwyl die NGK agteraf mense op outokratiese maniere hanteer. (Ek hoef nie voorbeelde te noem nie).
Die een punt: Hy se daar is geen “volksmoord” nie. Het hy dan nie geskiedenis geleer nie? Weet hy waardeur boere elke aand gaan wat agter elektriese heinings wag vir die moordenaars/ skelms? Weet hy van die EFF en trawante se sameswerings? Weet hy van die kriminaliteit in die veiligheidpolisie? En die subtiele samewerking met plaasdiewe? (Teen die tyd dat julle hierdie lees is ‘n paar arrestasies al gedoen – maar ds Jan Lubbe sal dit seker ook ontken?)
Plaasmoorde = volksmoorde = vernietiging van ‘n kultuurgroep in ons land. Punt.