Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

In memoriam | Hartseer Karoodorp groet kaalvoet-dominee Muller Oosthuizen

Muller Oosthuizen, die kaalvoet-dominee van Williston, is vroeg op 2 Julie oorlede, enkele maande sedert sy gemeente gehoor het hy het breinkanker. Hy sou op 8 Julie 65 word.

Louise Burger, skriba by die gemeente, vertel hy was ’n gemeenskapsmens. “Hy was baie lief vir die Here en vir mense … hy sou enige iets doen om ander te help, maak nie saak of hulle NG lidmate is of nie,” vertel sy.

“Hy was altyd besorg oor die randfigure” onthou sy klasmaat en vriend dr Frederick Marais. Foto: Verskaf

Met sy liefde vir kaalvoet met ’n kortbroek loop (wat sy tatoeëermerk op sy kuit wys) was hy vir haar kinders en ander dalk “die ondomineeste dominee wat hulle nog gesien het”, maar sy sê hulle ervaring van hom was dat hy eers ’n mens en dán ’n dominee was.

Dit is ook hoe sy klasmaat en vriend dr Frederick Marais hom onthou. Hulle is saam in 1985 by Stellenbosch gelegitimeer. Marais, toevallig ’n boorling van Williston, vertel oor Muller dat hy “geen erg aan amptelikhede gehad (het) wat in die pad staan van egte interaksie tussen mense nie. Hy was altyd besorg oor die randfigure, of dit nou in die gemeente of in kerklike debatte was”.

Hy het niemand veroordeel wat ’n fout gemaak het nie, vertel lidmaat en vriend Surita Bruwer.

Williston sy laaste gemeente

In April was dit nege jaar sedert Muller predikant geword het op hierdie Noord-Kaapse dorp. In droogtetyd. Hy het die kerk se droogtehulppogings voluit ondersteun. Tydens die RSG Red ’n Plaas-camino van 2023 was sy wit kerkbakkie ’n bekende gesig soos hy die stofpaaie op en af gery het om moeë stappers op te tel of iets wat nodig is te gaan haal. Selfs Kerkbode kon ’n rusdag of twee neem met ’n rybeurt in sy bakkie.

Muller Oosthuizen se wit bakkie was ’n bekende gesig tydens die RSG Red ’n Plaas-camino van 2023. By hom is Sarel Marais en Surita Bruwer, ook van Williston wat saamgestap het. Foto: Helene Meissenheimer

In die droogte se nadraai het die gemeente se geldelike nood hom genoop om ’n verminderde salaris te vat en hy het op die laaste sinodesitting hard baklei dat die gemeente se sinodale skuld afgeskryf moes word.

Williston was sy laaste gemeente. Sy eerste gemeente was NG Gemeente Welkom-Suid in die Vrystaat waar hy tot 1995 predikant was. Hierna was hy ook by Heilbron-Suid, Thaba Nchu-Tweespruit en Roodekrans voor hy in 2016 na Williston beroep is. Hy het twee keer demissie geneem in die tyd voor Williston.

In Mei vanjaar het hy en sy gemeente gehoor hy het breinkanker. Marais vertel hy kon die liefdevolle besorgdheid van gemeentelede aanvoel toe hy op Williston was tydens sy vriend se siekte. Hy het hom ook op Stellenbosch besoek waar hy bestraling ontvang het.

Hy vertel tydens so ’n besoek het hy vir Muller verseker “dat Christus voor ons uitloop op ons lewenspad soos ’n herder voor sy skape, waarop Muller met ’n spontane “natuurlik” geantwoord het. “Ons is as klasmaats geskok in sy skielike afsterwe en ons meegevoel aan Eureka en die res van die familie,” het hy afgesluit.

Oosthuizen en sy vrou, Eureka, het drie volwasse dogters Li-La, Karla en An-Mari, almal getroud. Daar is vyf kleinkinders. Begrafnisreëlings was met die publikasie van die berig nog nie gefinaliseer nie.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top