Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Drie gemeentes het in 1950 tegelyk van dié Moedergemeente afgestig, naamlik: Uitenhage­-Oos, Uitenhage-Noord en Uitenhage-De Mist. Nou, 75 jaar later, het die gemeentes saamgespan om fees te vier. Foto's: Le Roux Schoeman.

’n Oos-Kaapse gemeente herdenk die snelle groei van destyds te midde van onsekere tye

Meer as 800 mense van regoor Kariega (Uitenhage) in die Oos-Kaap het op ’n onlangse Sondagoggend by Moedergemeente se banke ingeskuif, ’n saamgestelde koor het met “Soli Deo Gloria” die dak gelig en ’n orkes het, teen die agtergrond van orrelpype en die verhoog waarop vyf dominees om die beurt tydens die erediens verskyn het, deel van die lofspan gevorm.

Die geleentheid: ’n Viering van daardie dag, 75 jaar gelede, waarop drie nuwe gemeentes tegelyk uit hierdie gemeente onstpring het te midde van die groot groei wat die NG Kerk rondom 1950 beleef het. Maar alles is nie wel nie, en in elke roos ’n dowwe blaar … Nuus van die Goodyear-aanleg se sluiting hang soos dood in die familie op die bandedorp. Vrees vir verdere werksverlies in ’n provinsie wat dit kwalik kan bekostig, dien as suigkrag na vandag: die hier en nou van Suid-Afrika, ons reënboogkruitvat. Kerkbode doen verslag in drie dele. 

Kerkgangers drom saam voor die deure Sondag oopmaak.

Deel 1 | Uitenhage: Só is Moedergemeente se mypaal gevier 

Thandokazi Gaba staan buite die deur van die Uitenhage Moedergemeente. Haar dogtertjie, Langelihle, is deel van die koor wat vandag sal optree by die herdenking en viering van die dag – 75 jaar gelede – wat drie gemeentes tegelyk vanuit hierdie gemeente afgestig het en sodoende dié Oos-Kaapse dorp oornag met vier NG gemeentes pleks van een gelaat het.

“I don’t know anything about this church. Honestly … I’ve seen it when we go to McDonald’s,” sê die 34-jarige ma glimlaggend. “I’m here for my daughter. It’s her first time singing in the choir. She is not a stage person, but she has been really excited because she loves singing.”

Koffie en happies is ná die diens bedien, maar het ure se voorbereiding gekos.

 

Wanneer die deure op ’n koel wintersoggend oopswaai vorm kerkgangers ’n tou by die hoofingang aan Kerkstraat se kant. Oues met Zimmer Frames, jonges met Toughees. Op die verhoog voor die kansel staan ’n tromstel en orkeslede wat laat waai teen die agtergrond van orrelpype waarteen koorlede op die boonste galery vaskyk. Hier word sowat 800 mense verwag by ’n gemeente wat min mense al vol gesien het. Die lidmaattal staan tans by 100, met Sondagbywoning heelwat laer.

 

Uitenhage se storie is vele gemeentes se storie

Maar die storie waarop leiers en lidmate fokus, is die veranderende verband tussen die einste gemeentes wat in 1950 te midde van groot groei afgestig het. Dit heet “geïntegreerde bediening”. Dit verwys na iets minder as samesmelting en meer as samewerking. En dit is, op grondvlak, dié groot storie van die hele NG Kerk in vandag se Suid-Afrika. Variasies op die temas wat ’n mens op Uitenhage hoor, hoor jy regoor die land tussen NG gemeentes namate lidmaatskap van die kerkverband daal en demografies wegskuif van die monokultuur wat dit oor dekades gevestig en help instandhou het.

Só dink jongeres oor NG Kerk

Peilingsdata onder (NG) gelegitimeerdes jonger as 40 jaar toon die verwagting is dat die NG Kerk sal bly voortbestaan, maar “as ’n losser netwerk wat meer verweef is met ander denominasies,” volgens prof Cobus van Wyngaard, die voorsitter van die NG Kerk se Algemene Taakspan Navorsing. “Gemeentes sal in terme van ras en kultuur ’n meer diverse karakter hê en Afrikaans as taal sal waarskynlik ’n kleiner rol speel,” verduidelik hy die respondente se terugvoer. “Maar by ’n beduidende hoeveelheid jong gelegitimeerdes leef die vermoede dat die NG Kerk uiteindelik op baie plekke deure gaan toemaak,” voeg Van Wyngaard by in ’n hoofstuk van die boek Bakengemeentes – Nagedink oor roeping en getrouheid (deur Lourens Bosman, Marelize Maritz en Mias van Jaarsveld), CLF-Uitgewers, 2024.

Ds Llewellyn Oliver
Irene Julies, ‘n lidmaat by De Mist, en ds Trunette de Jongh, die leraar daar.

Leraars bereik draaipunt by wegbreeksessie

“In 2021 het dit vir ons duidelik geword dat ons ’n geïntegreerde bediening daar moet stel,” verduidelik ds Tobie van Schoor van Uitenhage-Noord. Hy is deel van die predikantespan wat Uitenhage se feesdiens lei. “Samewerking beteken ek dink iets uit by Noord-gemeente en ek vra die ander om daarby betrokke te raak. Die geïntegreerde benadering behels iets anders en dit is wat ons by hierdie feesdiens doen,” verduidelik Van Schoor en beskryf basies ’n benadering wat van meet af aan en enduit inklusief is.

Ds Nico Lochner van Uitenhage-Oos op die Saterdag voor die feesdiens wat op 22 Junie plaasgevind het.
Ds Llewellyn Oliver se vrou Lizé het Sondagoggend bystand verleen met al die reëlings in en om die kerkgebou. Hier wissel sy en ds Trunette van De Mist ‘n woord of wat voor die diens begin.

Dié wending kom al jare aan. “In 2019 het ons klomp dominees (van die Ring van Uitenhage) met ons voete in die water gesit daar in die Baviaanskloof by so ’n spanbou en net besef ons kan nie aanhou soos ons aanhou nie. Ons dorp is besig om so ’n bietjie leeg te loop van NG lidmate en ons gaan ’n bediening moet probeer ontwerp wat meer koste-effektief is en gemeentelede bemagtig vir hulle dienswerk,” aldus Van Schoor. “Ons het gesê ons het nie ’n eindprentjie nie. Dit is ’n pad wat organies gaan ontwikkel,” verduidelik Van Schoor, wat sedert 1990 op die dorp predikant is en oor twee jaar aftree.

Thandokazi Gaba en haar dogter Langelihle, wat in die koor gesing het.

Voorgangers se finansiële voorsorg

Ds Llewellyn Oliver beaam wat Van Schoor sê oor samewerking en gaan ietwat verder: “Ons begin al hoe meer, en ons het dit nog nie so gedefinieer nie, maar ons begin meer funksioneer soos een gemeente met verskillende kampusse wat op verskillende maniere bedien.”

Ná 12 jaar se kerkverwante werk in Mosambiek het Oliver en sy vrou Lizé ’n jaar gelede by die groot pastorie in Cannonstraat kom vestig. Ná ervaring met Maputo se uitdagings met elektrisiteit het Oliver tjoeftjaf sowat 20 sonpanele hier opgesit en hy laai selfs sy GWM Ora, ’n elektriese motor, met die oorskotkrag. “Ons het vier batterye en drie inverters,” verduidelik Oliver. “Toe hulle my beroep het, was een van die vereistes dat ek bestuursvaardighede het omdat die gemeente eiendomme het,” verduidelik dié leraar wat oorspronklik van Kaapstad is en op Stellenbosch studeer het. “Ons is bevoorreg dat mense meer as 100 jaar gelede vooruit gedink het,” sê hy oor die gemeente se sterk stel bates in die vorm van middestadeiendomme. “(Dit) maak dat ons ’n bietjie meer administrasie het en ander tipe personeel en ’n ander bestuurstyl nodig het, maar dit maak dat die gemeente kan voortbestaan op hierdie stadium.” Karige deurkollekte word dus aangevul deur die passiewe inkomste uit 20 woonsteleenhede en 10 sakepersele wat in 1937 opgerig is. “Ons het so 120 huurders waarvan 100 residensieel is en die res sakepersele,” verduidelik Oliver.

Kariega is nie sonder maatskaplik en ekonomiese uitdagings nie.

Gesoek: Tekens van lewe

Die geesdrif vir die feesdiens tril deur Oliver se lyf tydens voorbereiding vir die geleentheid die Saterdagmiddag, waar hy op die kerkbanke staan en middelman speel tussen die band en die koor. Hy is in logistieke vyfde rat met reëlings, alles van koor tot karwag, van tydsberekening vir ’n beplande radio-uitsending tot uitdrukstukke en live streams beplan hy tesame met die reëlingskomitee. Laat Saterdagmiddag, voor die diens, staan hy vir ’n oomblik stil in die kinderkamer agter in die kerkgebou en sê: “My hoop vir môre is om weer hierdie magtige gebou, wat ’n besonderse geskiedenis het, vol te sien. Ons hoop dat die massa mense weer vir mense nuwe energie sal gee om te sê die kerk is nie dood nie.”

Saterdag …
Sondag …

Soms stief behandel

Dit is ds Van Schoor wat Sondag die preek behartig, met ander dorpsdominees wat elk ’n aspek van die diens behartig voor die byna volgepakte kerk. Vanuit Efesiërs 2:19 praat Van Schoor oor mense wat ander as bywoners, tweedeklasburgers, inkommers of stiefkinders behandel. “Vriende, kom ons wees nou maar eerlik, dat ook binne ons gemeentes en dalk soms tussen gemeentes en tussen Christelike kerke behandel ons soms mekaar ook, vir een of ander rede, op so ’n manier. En is daar medegelowiges wat voel ek is minderwaardig, ek is nie goed genoeg nie. Ek is ’n tweedeklaslidmaat of stiefkind. Paulus sê, in Christus het dit verander.”

Ds Tobie van Schoor

Die Afrikaanse erediens word ook aanlyn uitgesaai en ’n week later trek dit by 750 kyke met twee kommentare onderaan die video van net onder die twee ure. “Dit was so ’n voorreg om weer in jou ou kerk te wees waar jy vir 33 jaar lidmaat was,” skryf ene Marie Erasmus (Alberts) op die gemeente se YouTube-kanaal. “As jong vrou daar getrou … drie kinders gedoop. Moeder en vader ter aarde neergelê. Goeie vriende en werksaamhede gehad … Was lekker om in konsistorie weer te gaan kyk na ons oud-predikante. Van ds Malan tot by ds Gouws. Wat ’n voorreg was dit om saam met my dogter, skoonseun en twee kleinkinders te sit op dieselfde plek as toe hulle nog klein was. Dankie Jesus vir die geleentheid en voorreg,” skryf sy.

De Mist verwelkom ds Trunette

Ook ds Trunette de Jongh deel dié Sondag die verhoog met haar mede-Uitenhage-dominees. Ná ’n gemeentejaar in 2022 by NG Gemeente Patmos in Port Elizabeth, is sy na NG Kerk De Mist beroep. “Sy bring so lekker baie hernuwing in en die gemeente is verskriklik lief vir haar,” vertel Irene Julies, ’n jarelange lidmaat en leiersfiguur in dié gemeente, wat volgens Julies lank voor ander gemeentes reeds die rasseverdeling in Suid-Afrika geïgnoreer het. “Dit was vir ons histories om ’n eerste vrouepredikant te kon hê en dat sy ingehuldig is deur haar eie man (Danie de Jongh is leraar by NG Gemeente De Duin op Port Elizabeth),” vertel sy. Julies, ’n bruin vrou wat rondom 1989 op Uitenhage kom woon het, sê sy het lank voor 1994, die jaar van Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing, ’n inklusiewe gemeente in De Mist gevind. “Ons was mos nou maar gewoond elke kerk het bruin en wit en swart apart, so dit was iets vreemd vir ons, maar omdat De Mist so ’n gemaklike gemeente was, het dit natuurlik gekom. Ons is ’n baie gemaklike gemeente,” vertel Julies.

‘Nostalgie is verleiding’

Maar multikulturele gemeentes wat werklik in terme van bediening, aanbidding en leierskap ’n diverse karakter kon vorm sonder om ’n vinnige onttrekking van wit lidmate te sien, is beperk,” skryf Van Wyngaard in Bakengemeentes. In dieselfde boek wy prof Erwin Schwella en dr Frederick Marais ’n slothoofstuk aan nadenke oor gevallestudies in dié prominente (in NG geledere) publikasie. Hulle merk op dat gemeenteleiers nie altyd ’n “koherente teoretiese raamwerk” het om verandering te konseptualiseer en te bestuur nie. “As hierdie leiers die taal en konsepte van sosiale innovasie bemeester, kan dit hulle vermoë verbeter om bestaande pogings te ondersteun en meer suksesvol te wees,” meen die skrywers. Hulle stel enkele stappe voor, waaronder die aanvaarding van die feit dat die “VUCA-realiteit (volatile, uncertain, complex, ambiguous) sal voortduur, en sosiale innovasie die nuwe normaal (sal) word. Nostalgie en verlange na die verlede is ’n verleiding, nie ’n roeping nie.”

Gesigte in die konsistorie

Loop ’n mens deur die konsistorie in by die Moederkerk, hang die domineegesigte waarna die lidmaat in die kommentaarafdeling op die YouTube-kanaal verwys inderdaad op gebruiklike wyse reg rondom die vertrek, hoog teen die muur. Kommissaris-generaal De Mist, landdros Cuyler, ds Mol en dan die rits dominees tot net kort van die hede. Smith, Steytler, Hofmeyr, Pienaar ens. Onder hulle tel ook mense soos dr JS Gericke, die “besielende kerkman” wat in die blaaie van Kerkbode onder meer vir sy boodskap tydens die teraardebestelling van “ons ontslape Eerste Minister”, HF Verwoerd, gehuldig word.

Mooi gesing

Ná die feesdiens tree Gaba tussen ’n magdom ander kerkgangers by een van ’n paar koffiestasies aan. Die meerderheid van mense vertoef vir ’n oomblik van samesyn en gratis kospakkies onder die bome in die kerk se ruim agterplaas. Dit woel. ’n Springkasteel skud, staaltafels dra klein pizzatjies en ander eetgoed wat ’n groep gemeentevroue voorberei het en kinders neem deel aan ’n aktiwiteit waar hulle hulle hande wit kan verf en dit teen ’n muur kan afdruk om die dag te gedenk.

Gaba vertel sy het toe onder die galery beland waarop Langelihle en haar medekoorlede gesit het en laat in die diens ’n dawerende weergawe van Soli Deo Gloria gesing het. “I couldn’t see them, but I could hear them. And they sang so beautifully. It was worth it.” 


Deel 2: Ekonomie druk op Kariega: ‘Blomme is ’n luxury

Drie woorde klap soos ’n skoot deur die strate van Uitenhage: Goodyear maak toe. Sowat 907 werknemers sal waarskynlik hulle werk verloor in ’n provinsie met, volgens StatsSA, ’n werkloosheidsyfer van 41,9%.

“It is becoming a ghost town given that ContiTech, which is part of Continental, closed down and it is also in the same tyre and rubber industry,” sê die vakbond Numsa in ’n verklaring ná die aankondiging.

“Maak Goodyear toe, gaan dit my ook affect. Want blomme is eintlik ’n luxury.” – Maria le Grange. Foto: Le Roux Schoeman vir Kerkbode

Die uitvoerende burgemeester van die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit, Babalwa Lobishe, voer inderhaas gesprek met Goodyear om te probeer red wat daar te redde is. “Goodyear management acknowledged the municipality’s support and explained that global economic challenges remain the primary cause behind the anticipated closure,” het die UD Express oor Lobishe en kollegas se ontmoeting met die bandebase berig.

Die opposisieparty in die provinsie bepleit ingrype by die “jobs bloodbath” en vra vir debat oor “the collapse of the automotive sector, the delay in holding a promised Economic Summit, and the urgent policy, budgetary, and intergovernmental interventions required to prevent further economic decline,” het dr Vicky Knoetze van die DA in ’n verklaring gesê.

En in haar bloemistewinkel in Kerkstraat wys Maria le Grange die brief wat haar man van sy werkgewer ontvang het. “Daar is ’n workshop in Goodyear en ’n workshop buite Goodyear. My man is buite, maar hy doen meestal van Goodyear se werk, so dit raak hom,” het Maria onlangs verduidelik. “Hy is ’n mould maker, gekwalifiseerde mould maker. Hy doen die moulds van Goodyear. Die tyres word mos in ’n mould gemaak … Soos daai wat daar staan ‘Goodyear’, dít print hulle uit en so.”

LEES OOK: Geniet jy Kerkbode se (gratis) digitale inhoud en aanslag tot kerknuus?

Maria is bekommerd oor die dorp se ekonomie en dorpsmense se koopkrag. “Maak Goodyear toe, gaan dit my ook affect. Want blomme is eintlik ’n luxury,” sê sy. “Al wat ons aan die gang hou, is ons begrafnisplekke. Ons doen die blomme vir die mense wat doodgaan en so aan. Afgelope drie weke het ons tien, twintig, afgelope week twee. Maar ons kry darem troues en daai goedjies ook. My swaertjie werk vir Goodyear en hulle het ’n gestremde seuntjie, húlle kry ek jammer.”

‘Ek huil nie …’

Maria het grootgeword in hierdie dorp, sowat 20 minute buite Gqeberha in die Oos-Kaap. Die spoorwegwerkplaas en fabrieke vir die montering van motors was, tesame met die vervaardiging van bande, mettertyd die groot besighede in dié dorp, wat in 1804 gestig, so 30 jaar voor die Amerikaner Charles Goodyear ’n baie spesifieke gebruik vir rubber begin ontwikkel het. Uitenhage is vernoem na Jacob Abraham Uitenhage De Mist, kommissaris-generaal tydens die bewind van die Bataafse Republiek. Maria is 48. “Ek het helfte skool gemaak toe raak ek swanger. Toe trou ek toe (haar seun) drie was. Ek het eers vir De Mist-kerk gewerk as ’n cleaner en toe op ’n plaas gewerk tussen die blomme. Toe begin ek by Frost and Violet Florist en toe vat nuwe eienaars oor en toe maak ek my eie bloemiste oop.” Nou is Maria bang dat sy die enigste broodwinner sal word. Die egpaar betaal nog af aan hulle huis. Haar man word 50.

“Ek huil nie!” sê sy glimlaggend en verduidelik dat die tranerigheid in haar oë verkoue is.

Haar seun werk oorsee, South Dakota. Nege maande per jaar en dan drie maande tuis, verduidelik Maria. In die hoek van die winkel staan ’n bed. Haar kleindogter (5) kom vat “ná skooltjie” haar middagslapies hier. “Sy is ’n bloemiste-baba. Want ek het nooit eintlik my kind help grootmaak nie. Hy was twee weke oud toe het ek begin werk. Ek het nooit bábatjie gehad met hom nie. So, ek geniet nou my kleinkind.”

Maria glimlag graag, dit is byna ’n handelsmerk. “Ek het ’n kliënt-omie hierso, hy kom twee keer per jaar vir sy vrou blomme (koop). Net nou die dag sê hy vir my, ‘weet jy, jy het nie probleme nie.’ Toe sê ek: Hoekom, oom? ‘Want jy smile altyd.’ Toe sê ek, ‘my huisgoed is my huisgoed en my werk is my werk’.” 


Deel 3: Die NG Kerk van die 1950’s, deur die lens van Kerkbode

 

Die NG Kerk het in 1950 uit 560 gemeentes en 558 000 lidmate in die destydse vier landsprovinsies bestaan en, wat bywoning betref, was die probleem die teenoorgestelde van die hedendaagse probleem. Daar was te veel lidmate.

 

Die Kerkbode-argief toon volop stories van groei en uitbreiding rondom die jaar 1950 en daarna.

Groeiende gemeentes op dorpe en in stede stig eenvoudig af en vorm nuwes, dikwels enkele kilometers van mekaar. In 1950, op George, baar die gemeente ’n tweeling. Op Uitenhage, in dieselfde jaar, ’n drieling.

Kerknuus was wat ons deesdae hiperlokaal sal noem: “Daniëlskuil stig Jongdogtersbond”, “Vosburg verloor ’n Moeder”. En Die Kerkbode se argief leer ’n mens meer oor die tydsgees en wêreldbeskouing wat binne die NG Kerk van die 1950’s geheers het. En in Die Kerkbode van destyds lees ’n mens in die “beknopte verslag” van die nou bekende gebeure op Uitenhage die volgende: “Die elfde vergadering van die Ring van Uitenhage is gehou te Kareedouw op 3 Oktober 1950 en volgende dae.” Vier nuwe gemeentes is inderwaarheid verwelkom, lees ’n mens. Te wete Joubertina (uit die Ring van George) en die drie dogtergemeentes van Uitenhage naamlik: Uitenhage­Oos, Uitenhage-Noord en Uitenhage-De Mist.

So staan dit opgeteken en so is dit in Junie 2025 onthou.

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top