Die Miga 6:8 Taakspan: Vir versoenig en geregtigheid, het ’n preekreeks geskryf en beskikbaar gestel vir gebruik in Koninkrykstyd 2025. Die eerste tema “Geseënd is die vredemakers: ’n Gesprek wat vrede bring – by die put met Jesus” is geskryf deur Anje Zeeman van Parke gemeente. Hier volg ’n opsomming van die preek.
Kan die ware dissipels van Jesus asseblief opstaan?
In ’n wêreld waar rusiemakers geprys en vredemakers verwerp word, roep Jesus se woorde ons op tot iets radikaal anders. Die wêreld het dringend mense nodig wat nie net die Naam van Christus dra nie, maar wat die kruis opneem en die pad van vrede stap – al kos dit iets.
LEES OOK: Teologiese Toerusting: ‘So ook op die aarde’-preekreeks
’n Kollega van my sê graag: hierdie Koninkrykstyd, of Ordinary Time, gaan oor gewone mense wat in gewone dae probeer uitvind wat dit beteken om dissipels van Jesus te wees. En dalk is dit juis hoekom dit die langste tydperk in die kerklike kalender is – want dit is hier, in die gewone, dat ware dissipelskap sigbaar word.
Maar 2025 voel allesbehalwe gewoon. Die wêreld voel deurmekaar. Wat ons vir jare as goed en reg beskou het, lyk of dit saam met die badwater by die deur uitgegooi is. Mense wat onrus saai word vereer, en vredemakers… gekruisig.
“Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.” (Matt. 5:9)
Hierdie saligspreking herinner ons: vredemakers is nie bloot vredeliewende mense wat konflik vermy nie. Inteendeel. Hulle is mense wat – vanuit ’n plek van geloof en afhanklikheid van God – aktief werk aan versoening én geregtigheid: tussen individue, binne gemeenskappe, en op die vlak van samelewings en strukture. Hulle glo nie vrede gebeur vanself nie. Vrede moet geskep word. En dit kos iets – dikwels jou trots, jou eie belang, selfs jou gemak, jou vriendskappe, jou bande met familie.
Die pad van ’n vredemaker loop oor grense
In Johannes 4:1–26 lees ons hoe Jesus ’n Samaritaanse vrou by ’n put ontmoet. Hierdie ontmoeting is allesbehalwe toevallig. Jesus – ’n Joodse man – praat met ’n Samaritaanse vrou. Hy kruis nie net een nie, maar verskeie grense: etnies, geslagtelik, godsdienstig en sosiaal. En dit is juis hier, aan hierdie put, waar die werk van vrede begin: met ’n gesprek.
Wat maak van jou en my vredemakers?
Dalk is dit wanneer ons – soos Jesus – leer om eerste te sien, eerder as om te oordeel. Wanneer ons kies om nederig iemand met minder mag of invloed as ons, vir hulp te vra – en só die geleentheid vir verhouding en heling oopmaak.
Ware vredemakers sien eerste die mens – dan eers die verskille.
Vrede begin by gesprek
In ’n land soos Suid-Afrika, waar rasseverhoudinge steeds gelaai is, roep hierdie ontmoeting tussen Jesus en die Samaritaanse vrou ons op:
- Om te luister voordat ons oordeel.
- Om eerste die hand van vrede uit te steek, selfs teen die agtergrond van historiese pyn.
- Om te glo dat versoening dikwels begin by een opregte gesprek.
Die vrou was nie op soek na versoening nie. Sy was net dors. Maar Jesus bring vrede – tussen ras, geslag, kultuur en spiritualiteit – deur met haar te praat. En sy? Sy word self ’n vredemaker in haar gemeenskap. ’n Getuie. ’n Boodskapper van ’n nuwe begin.
Die prys van vrede
Egte vredeswerk is nie maklik nie. Dit vra lyding. Dit vra volharding. Christus het die vyandskap tussen God en mens oorkom deur sy lewe te gee. Sy volgelinge word geroep om nie terug te veg nie, maar om die swaard neer te lê, die ander wang te draai. Dis hoekom die vredemakers – volgens die saligsprekings – ook dié is wat treur, en wat daarna beledig, beskinder en vervolg word.
Ons eie geskiedenis bied merkwaardige voorbeelde van vredemakers: Desmond Tutu, Beyers Naudé… mense wat in die naam van geregtigheid en geloof grense oorgesteek het. Walter Brueggemann het Tutu een van die moderne profete genoem – en dit is nie ligtelik nie.
Mag ons Tutu se woorde ter harte neem, en daarmee die waagmoed vind om ons eie “vrou by die put” te groet, en ’n gesprek te begin: “If you want peace, you do not talk to your friends. You talk to your enemies.”

Baie insiggewend. Dit noop my om ook n vredemsker te wees. Dankie vir die pragtige woorde