Die Miga 6:8 Taakspan: Vir versoenig en geregtigheid, het ’n preekreeks geskryf en beskikbaar gestel vir gebruik in Koninkrykstyd 2025. Die tweede tema in die reeks is “Een in Christus” en is geskryf aan die hand van Psalm 122 deur Sarizé Retief van Aggeneys Familiekerk. Sy het die preek as volg opgesom:
In ’n land soos Suid-Afrika, met ’n geskiedenis van verdeeldheid en voortdurende sosiale spanning, bly die vraag na ware eenheid ’n dringende en aktuele saak. Hierdie preek fokus op die eenheid wat Christus bring en hoe dit prakties beliggaam kan word in die konteks van ons land.
LEES OOK: Teologiese Toerusting: ‘So ook op die aarde’-preekreeks
Jesus Christus self het gebid dat sy volgelinge een sal wees, net soos Hy en die Vader een is (Johannes 17). Hierdie eenheid is nie net ’n innerlike geloofskwessie nie, maar ’n sigbare getuienis aan die wêreld van God se liefde en teenwoordigheid. Dit verplig ons as gelowiges om aktief eenheid te bevorder, nie net in die kerk nie, maar ook in die samelewing.
In ons Suid-Afrikaanse konteks is die behoefte aan versoening en geregtigheid steeds groot. Die impak van apartheid, ekonomiese ongelykheid en sosiale verdeeldheid is steeds sigbaar. Die skeuring tussen gemeenskappe is nie net polities of histories nie, maar ook emosioneel en geestelik. Daarom is dit belangrik dat die kerk as ruimte van hoop optree – waar mense van verskillende agtergronde mekaar in veiligheid kan ontmoet, luister, en saam kan bou aan ’n gemeenskap van liefde, vrede en geregtigheid.

LEES OOK: Geseënd is die vredemakers: ’n Gesprek wat vrede bring – by die put met Jesus
Psalm 122 bied ’n ryk beeld van pelgrims wat op reis is na Jerusalem – ’n stad van vrede en gemeenskap. Hoewel Jerusalem dikwels as ideaal besing word, was dit in werklikheid ’n plek van onreg en konflik. Net so sien ons dat ons eie samelewing nie die ideaal van vrede en eenheid weerspieël nie. Hierdie ontnugtering moet ons egter nie laat moed opgee nie, maar juis aanspoor tot aksie: om Jesus se voorbeeld na te volg en eenheid prakties uit te leef.
Die simboliese betekenis van Jerusalem as ’n “vesting van vrede” en plek van God se teenwoordigheid vind nuwe vervulling in Christus. Jesus is die Vredevors, wat gekom het om vrede, geregtigheid en versoening te bring. Sy koms en uiteindelike wederkoms vestig die nuwe Jerusalem – die stad van God se koninkryk waar almal welkom is. Hierdie nuwe Jerusalem is nie beperk tot ’n geografiese plek nie, maar word vergestalt in elke gemeenskap waar Christus se vrede regeer.
Die kerk is dus geroep om hierdie nuwe Jerusalem in die hede te beliggaam – ’n plek van saamwees, regspraak, lof en gebed. Dit beteken om profeties op te tree, onreg aan te spreek, en aktief vrede te bevorder. Wanneer die kerk verdeeld is, spoel daardie verdeeldheid oor na die samelewing. Maar waar die kerk een is, kan dit genesing en hoop bring.
Efesiërs 4 herinner ons ook dat ware eenheid die werk van die Gees is, maar dat ons dit aktief moet bewaar: deur nederigheid, saggeaardheid, geduld en liefde. Ons roeping is om saam op reis te wees na God se volmaakte stad, terwyl ons reeds nou leef as burgers van die nuwe Jerusalem.
In Christus, ons hoop, vind ons rigting en roeping om eenheid in ons gebroke land uit te leef.
.
