Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Drukgroep bekommerd: ‘Hoe kan staat dan kerke voorskryf?’

Terwyl die regering probeer om wanpraktyke in godsdiensinstellings hok te slaan, is die reg van elke persoon op vryheid van godsdiens, geloof, gewete, oortuiging en opinie op die spel, meen prof Rassie Malherbe, die waarnemende sameroeper: Suid-Afrikaanse Raad vir die Beskerming en Bevordering van Godsdiensregte en -Vryhede. Kerkbode wou by hom hoor:

 

Kerkbode (KB): Hoe sou jy die Kommissie vir Kulturele, Godsdienstige en Taalregte se jongste voorstel kernagtig opsom? Val dit volgens jou buite dié kommissie se mandaat en rol?

Rassie Malherbe (RM): Die voorsitter van die kommissie, Mkhwanazi Xaluva, het die voorstel dat die staat ’n wet moet aanneem om godsdiens te reguleer dadelik op die tafel geplaas nadat sy heraangestel is. Uit ’n voorlopige verslag wat onlangs gepubliseer is, lyk dit of dit veral teen Christelike kerke gemik is. Toe die kommissie die voorstel die eerste keer in 2018 in ’n amptelike verslag gemaak het, het die betrokke staande komitee van die Parlement, na talle vertoë en getuienis deur kerke en ander organisasies, besluit om die voorstel nie verder te voer nie. Die oorspronklike voorstel het sogenaamde staatsaangestelde “peer review committees” behels wat die kriteria en vereistes sou neerlê vir die registrasie van kerke en geestelike bedienaars. Die kommissie sou die finale arbiter wees in alle geskille. So ’n sisteem kom op niks anders neer as staatsbeheer oor godsdiens nie en is direk in stryd met die reg op godsdiensvryheid. Sulke sisteme bestaan nie in demokratiese lande nie. So ’n sisteem hoort daarom ook nie tuis in ’n oop en demokratiese samelewing soos Suid-Afrika nie en sal sonder meer ongrondwetlik wees, eerstens omdat dit indruis teen die reg op godsdiensvryheid in artikel 15 van die Grondwet en tweedens omdat dit ingevolge artikel 9 diskriminerend teen die Christelike godsdiens sal wees.

KB: Hoewel jy vergrype en wanpraktyke by godsdiensinstellings veroordeel, duur dit voort in sommige gevalle. Wat is jou teenvoorstel tot die kommissie s’n? En watter weg staan die beste kans om die geïdentifiseerde probleem aan te spreek?

RM: Natuurlik keur ons enige vergrype en wanpraktyke wat in die naam van godsdiens gepleeg word, ten sterkste af en ons distansieer ons daarvan. Maar vir sover dit voorkom in ’n klein minderheid van gevalle, moet ons net duidelikheid kry oor wat ons met “vergrype en wanpraktyke” bedoel. As daar misdade gepleeg word, soos aanranding, seksuele misdrywe en bedrog, is almal, ook kerke en geestelike bedienaars, onderworpe aan ons uitgebreide regstelsel waarvolgens sulke oortredings vervolg kan word. Daar was al suksesvolle vervolgings op hierdie basis en ons sien nie watter méér magte die kommissie oordeel dat die staat nodig het nie. As ons egter verwys na praktyke wat na ons mening bloot afkeurenswaardig is, maar nie op misdade neerkom nie (die voorlopige verslag verwys vaagweg na “spiritual abuse”, “spiritual exploitation”, “dissemination of deceptive beliefs propagated by unethical leaders”, “spread of misleading teachings”, ensovoorts), mag daar ’n opvoedingstaak onder belanghebbendes nodig wees, maar beslis nie nog ’n wet nie.

Hoe kan die staat dit op hom neem om aan godsdienste voor te skryf wat aanvaarbaar is en wat nie? En volgens wie se siening? Die staat sal in ’n mynveld beland wanneer dit by leerstellige kwessies betrokke raak. Dit is juis waarom die oeroue regsreël van nie-inmenging ontstaan het waarvolgens die staat, insluitende die howe, hulle nie uitspreek oor godsdienstige leerstellings nie. Dit sou dwaas wees om aan hierdie beproefde reël te torring. (Ons argumenteer hier geensins dat godsdiensinstellings verhewe bo die reg is nie. Kerke is onderworpe aan wette oor eiendomsreg, kontraktereg, administratiefreg, strafreg, gesondheids- en veiligheidsregulasies, ensovoorts.) Die kommissie se argument van destyds dat die komitees uit godsdiensverteenwoordigers sou bestaan en daarom nie staatsinstellings sou wees nie, hou nie water nie. Hulle sou ingevolge die wet bestaan en optree en kan daarom niks anders as staatsinstellings wees nie.

Daarom het ons destyds van die raad se kant af onmiddellik die teenvooorstel gemaak dat waar dit nodig is, kerke hulle eie huis in orde moet kry deur ’n gedragskode op te stel waaraan godsdienste, kerke en geestelike bedienaars hulleself vrywillig verbind. Die kommissie was nie daarvoor te vinde nie, maar die raad het voortgegaan en so ’n gedragskode ontwikkel wat daarna deur talle kerke en instellings onderskryf is. Ons glo steeds die gedragskode is ’n deurdagte dokument wat groot potensiaal inhou om regmatige en gesonde praktyke in godsdiensinstellings te bevorder. Ons sal hieroor graag met die kommissie wil saamwerk want die kommissie het volgens artikel 5 van sy Wet ’n opvoedingstaak. Ons begryp nie waarom die kommissie nooit die hand wou vat wat ons uitgesteek het nie.

 

KB: Op watter manier kan lidmate by hierdie kwessie betrokke raak en ’n sinvolle bydrae lewer?

RM: Dit is ’n raaisel waarom die kommissie hierdie ongevraagde en onvanpaste voorstel vir ’n tweede keer maak. Ons maak weer op ’n hoflike maar besliste manier ernstig kapsie daarteen. Maar ons wil alle belanghebbendes hierdie keer oproep om hulle stem so luid as moontlik te laat hoor. Die godsdiensvryheid van alle kerke, geestelike bedienaars en lidmate word deur hierdie voorstel geraak en behoort die kommissie, die parlement, die regering en ander politieke verteenwoordigers te oorval met ’n vloedgolf van besware. Dit kan wees by wyse van briewe, e-posse, petisies, boodskappe en enige ander medium wat die boodskap kan oordra. Laat ons as Suid-Afrikaners eenparig opruk om hierdie dwase voorstel vinnig dood te smoor. Kragtige gesamentlike optrede sal die kommissie en die regering twee keer laat dink voordat sulke ondemokratiese wetgewing verder gevoer word.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Drukgroep bekommerd: ‘Hoe kan staat dan kerke voorskryf?’”

  1. japie swanepoel

    Goeie insig Rassie, baie dankie dat jy ons Christen waardes hoog hou en verteenwoordig.

Comments are closed.

Scroll to Top