Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Preekreeks: Hoekom het ons mekaar nodig?

In ‘n wêreld wat al hoe meer individualisties raak, en waar nasionalisme toenemend mense laat terugtrek na “my en my mense” herinner Paulus ons in 1 Korintiërs 12:12-31 aan ‘n ander werklikheid: die liggaam van Christus. Hierdie liggaam, wat uit baie lede bestaan, is God se meesterstuk van verbondenheid. Só skryf Aneleh Fourie-le Roux in die vyfde preek van die reeks So ook op die aarde, geskryf deur die Miga 6:8 Taakspan: Vir Versoening en geregtigheid.

 

Ons word geroep om hande te vat – nie net omdat dit prakties is nie, maar omdat dit ’n opdrag van God is en God se naam en koninkryk daardeur verheerlik word.

Ons is deur dieselfde Gees in dieselfde liggaam opgeneem (v13), en die liggaam is só saamgestel dat sy lede gelyke sorg vir mekaar dra (v25). Hierdie eenheid is nie opsioneel nie – dit is fundamenteel tot die uitlewing of beliggaming van ons geloof.

Paulus se metafoor sluit nie net ons plaaslike gemeente in nie. Die liggaam van Christus is veel groter – oor kerke, denominasies, en landsgrense heen. Van Sioniste tot Anglikane, van groot katedrale tot klein huiskerke – almal vorm deel van hierdie liggaam. En wanneer ons mekaar oor hierdie grense heen kan vind en saam werk, word Christus sigbaar in sy volheid.

LEES OOK: Preekreeks | Om te leef as ambassadeurs van hoop eerder as slagoffers van onreg

2 Korintiërs 5:18 herinner ons dat God ons versoen het deur Christus – en aan ons die bediening van versoening toevertrou het. Versoening begin nie by groot gebare of politieke inisiatiewe nie. Dit begin by liefde. Jesus sê: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matt. 22:39). Dit beteken ons moet nader beweeg aan “die ander.“ En hierdie “ander” strek veel verder as familie, vriende en mense met wie ons gemaklik en in ons eie taal omgaan.

Paulus draai die wêreld se logika om: die lede wat ons as swak of minder eerbaar beskou, is juis noodsaaklik (v22-23). In God se oë dra almal waarde. Ons word dus genooi – nie belas – om met ander saam te leef. As een lid ly, ly almal; as een bly is, is almal bly (v26). Of, dít is hoe dit behoort te wees in ‘n gesonde liggaam.

Ons leef vandag steeds in die oorblyfsels van ‘n land waar fisiese en geestelike afstand doelbewus en sistematies tussen mense van verskillende rasse geskep is. Baie van ons leef en aanbid steeds vandag ver van mense wat ons as anders beskou. En terwyl ons hierdie afstand hou, beweeg ons ook nie naby genoeg om om mekaar se pyn en vreugdes te deel nie, en verloor ons die krag van die liggaam. ‘n Liggaam wat nie pyn voel nie, is siek.

Let’s take hands. Dit is letterlik en figuurlik net moontlik as ‘n mens bereid is om ‘n paar treë nader aan ander mense te gee. So kom ons vra biddend dat God ons sal wys hoe om die eerste treë nader te begin gee aan mense by wie ek gewoonlik sou verbystap of aan wie ek nie sommer sou gedink het nie.
Neem vandag doelbewus iemand se hand – letterlik of figuurlik – wat jy as “anders” as jy beskou. Mag jy ontdek dat daardie persoon ook iets van God openbaar wat jy nog nie gesien of beleef het nie.

Let’s take hands – ter wille van Christus en sy Kerk, ter wille van mekaar, en ter wille van die wêreld wat God liefhet.

  • Aneleh is ‘n diensleraar-proponent verbonde aan CABSA (Christian AIDS Bureau for Southern Africa) en ‘n lidmaat van NG Helderberg.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top