Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Brief | Hofsaak teen kerk: ‘Aansoek sal wel binne enkele maande op nie-dringende basis aangehoor word’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Johann Ernst van Centurion skryf: Dit het tyd geword om af te vra watter gees die sterkste in die NG Kerk waai: die Gees van die Waarheid of die Leuengees? 

In Kerkbode van 5 Augustus 2025 verskyn ‘n amptelike persverklaring uitgereik deur ds Charl Stander namens die respondente oor ‘n dringende aansoek deur ‘n “voormalige leraar van die NG Kerk sowel as die gemeente waar hy in diens staan” wat in die hooggeregshof in Kaapstad aangehoor is. 

Terwyl die regter slegs beslis het dat die aansoek nie dringend is nie, voer die respondente, waaronder die Sinode van Wes-Kaapland, die betrokke ring en die Algemene Sinode misleidend en valslik aan dat die regter in die guns van die NG Kerk beslis het en die dringende aansoek om die verlies van bevoegdheid ter syde te stel, van die hand gewys het. 

Die waarheid is dat die hof nie oor die meriete van die saak beslis is nie. In die verklaring word ook vals en misleidend aangevoer dat die regter bevestig het dat die ooreengekome Kerkorde die amptelike rigsnoer vir kerklike sake is nie. Die hof het geen sodanige uitspraak gelewer nie. Inteendeel, geen uitspraak is gelewer nie en die aansoek sal binne enkele maande op ‘n nie-dringende basis aangehoor word. Dit word goedskiks verswyg.

Op dieselfde dag gee ds Heerden van Niekerk, voorsitter van Wes-Kaap se Diensgroep Toerusting en Navorsing (SDTN) “meer konteks” oor die nuwe LGBTQI+ Taakspan wat onlangs uit die Diensgroep ontstaan het. Op ‘n vraag van Kerkbode of hierdie “groep” ‘n opdrag het om aan die diensgroep of sinode verslag te doen, antwoord Van Niekerk dat die opdrag is om aan die diensgroep verslag te doen en dat die diensgroep aan die moderamen/sinode verslag doen. Dit geskied sekerlik nadat daar kritiek uitgespreek is oor die ontstaan en funksionering van hierdie taakspan. Van Niekerk probeer die onderskeid handhaaf tussen ‘n sinodale taakspan en ‘n taakspan van die diensgroep, maar wat hy sê is nie waar nie. In die reglement vir die diensgroep staan: “Die SDTN se taakspanne doen van hulle spesifieke werksaamhede direk verslag aan die moderamen en die sinode.” Ken Van Niekerk nie die bepalings van die reglement vir die diensgroep waarvan hy die voorsitter is nie of probeer hy die lesers van Kerkbode ‘n rat voor die oë draai?

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top