Piet Smit se splinternuwe enkelsnit “Way Above the Sky”, wat dié bekroonde gospelsanger se eerste nuwe lied in tien jaar is, is pas uit. Anita van Niekerk het vir die tydskrif LiG met hom gesels.
Die gospelsanger Piet Smit is ’n vriendelike, gemoedelike mens wat maklik glimlag. Maar soms gaan die lag met ’n traan gepaard.
Reeds meer as drie dekades lank is hy ’n storievertel-evangelis wat met sy kitaar, warm stem en poëtiese lirieke, hoop en inspirasie aan gebrokenes bring. ’n Man wat met digterlike vernuf God se liefde vir die mensdom besing, maar ook ’n stem gee aan die mens se groot geloofsvrae en diepste kwellings. Want dié vrae is ook Piet se vrae.
Wanneer die éintlike geloofspad begin
Op ’n Dinsdagoggend in ’n besige restaurant in Pretoria waag Piet dit om die dinge te sê wat baie volwasse Christene ervaar, maar waaroor hulle nie sommer praat nie. Hy bely: “My geloofspad saam met die Here is nie maklik nie. Soms is dit ook nie lekker nie. Tog sal ek dit vir niks in die wêreld verruil nie.”
Hy verduidelik: “’n Tipiese getuienis handel oor hoe donker jou lewe eens was, dan neem jy Jesus aan as jou Verlosser, en van daar af loop alles net reg en jou lewe is vol vrede.
“Maar die werklikheid is anders. As die euforie eers verby is – noem dit maar die wittebroodfase saam met die Here – begin jou eintlike geloofspad. Dan moet jy jou kruis opneem, aan jouself sterf en Hom elke dag volg. En dís nie altyd maklik nie. Jesus het ons immers in Johannes 16:33 gewaarsku: ‘In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.’”
Piet sê hy het baie deernis vir mense wat voel dat hulle hulle in ’n doodloopstraat bevind. “Ek het ’n hart vir die uitgesaktes in die lewe. Ek wil hulle moed inpraat.”
Met sy splinternuwe enkelsnit “Way Above the Sky”, wat sy eerste nuwe lied in tien jaar is, is dit presies wat hy doen. Dié lied se woorde is ’n vrye verwerking van Jesaja 40:12-33. Piet vertel: “God se grootheid teenoor ons nietigheid het my diep getref, en met die lied probeer ek sê: Dalk voel dit asof jy in die modder vassit en daar geen uitkoms is nie. Maar hou moed. As jy bly opkyk en bly glo, sál jy krag ontvang.”
Lees meer op LiG se webtuiste: Piet Smit oor sy lig en donker: ‘My geloofspad is nie altyd maklik nie, maar ek sal dit vir niks verruil nie’
- Die Christelike tydskrif LiG is ‘n susterpublikasie van Kerkbode. Beide word deur Bybel-Media uitgegee.
