Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die sanger Piet Smit het vanjaar die Andrew Murray-FAK-toekenning ontvang as erkenning vir sy jarelange musiekbediening. Foto: Verskaf

Die sanger met die salf in sy lirieke

Die Andrew Murray-FAK-Toekenning

Die Andrew Murray-FAK-toekenning is gegee aan die sanger Piet Smit. In die aanbeveling vir die toekenning aan hom, word gewys op sy jarelange voltydse  musiekbediening, sy vyf albums wat goue status bereik het, en “Heer U maak my nuut” wat platinum-status verkry het – ‘n prestasie wat nog deur geen ander oorspronklike geestelike album in Suid-Afrika nagedoen kon word nie. Vir meer as 30 jaar word Suid-Afrika geseën met die warm, volronde stem van Piet Smit en sy helende lirieke, skryf Nico Bezuidenhout.

 

Smit se liedere vertel stories van heel word en bemoediging vir dié wat dalk moeg geraak het langs die pad. Elke keer wanneer jy die voorreg het om na hom te luister, is dit asof hy hier langs jou kom sit en iets van homself deel.

 

Hierdie bekende liedjieskrywer, sanger en kunstenaar het vanjaar die Andrew Murray-FAK-toekenning ontvang vir sy jarelange voltydse musiekbediening, sy vyf albums wat goue status bereik het, en Heer, U maak my nuut wat platinumstatus verkry het – ’n prestasie wat nog deur geen ander oorspronklike geestelike album in Suid-Afrika nagedoen kon word nie. Sy musiek is gewortel in die “Country & Folk”-styl in die vertellende luisterliedjie-genre.

 

Reeds in sy kinderjare is Smit blootgestel aan musiek waar sy pa musieklesse op hulle vleuelklavier gegee het. Dit is egter eers op hoërskool waar hy begin het om homself te leer kitaar speel (op sy broer se kitaar … nie seker of sy broer dit geweet het nie!).

 

Smit se openbare musiekoptredes het in die laat 1970’s begin as agtergrondsanger in Pretoria se kroeë en restaurante. In 1989 kom hy tot bekering en begin hom toespits op die skryf en uitvoering van geestelike liedere. Die fokus van sy bediening is veral toegespits op innerlike genesing en hy het ’n passie vir stukkende mense wat uitgesak het in die lewe. Op die verhoog put hy uit sy eie persoonlike geestelike neerlae en oorwinnings en verweef dit, saam met sy liedjies, in ’n storie waarmee die meeste luisteraars kan vereenselwig. Al sy liedere word gebore uit eie ervaring, sowel as uit sy eie verhouding met die Here Jesus. Sy opregte begeerte is om sy talent uitsluitlik tot eer van God te gebruik.

 

Oor die toekoms van Afrikaanse, geestelike musiek in Suid-Afrika is Smit tog ’n bietjie besorg. Volgens hom is daar briljante musikante en musiekverwerkers in ons land, maar daar is ’n tekort aan goeie geloofsinhoud en teologie in die lirieke van nuwe Afrikaanse geestelike liedere.

 

Piet Smit, mag jou nalatenskap van ryk, pastorale lirieke, diep gewortel in die evangelie, dien as inspirasie vir jong liedjieskrywers om hierdie kosbare bediening van helende en besielende musiek voort te sit.

 

  • Ds Nico Bezuidenhout is liedjieskrywer, musikant en leraar by Oos-Londen Moedergemeente.

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top