Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Brief | Richard Rohr en die hermeneutiese onstuimigheid in die NGK Namibië

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

André Mouton van Otavi skryf: Die onlangse verbreking van die NG Kerk in Namibië (NGKN) se bande met die NGK-familie het my persoonlik diep gewond gelaat en dringende vrae by my laat opkom.

In die sentrum van hierdie skeiding lê die kwessie van hermeneutiek oor hoe ons die Skrif lees, vertolk en uitleef in ’n veranderende wêreld.

In hierdie oomblik van verwarring het ek die geskrifte van Richard Rohr ontdek, verrassend verrykend en uitdagend. Al is hy ’n Fransiskaanse priester wat ver buite ons gereformeerde tradisie is, bied sy insigte nuwe horisonne wat ons in ons huidige vasgelooptheid kan help om te herbesin. Hy wys daarop dat ons debatte maklik verval in binêre kategorieë van konserwatief teenoor liberaal, getrou teenoor ontrou en reg en verkeerd.

VIDEO: Reaksie onder afgevaardigdes ná NG Kerk in Namibië bande losmaak met Algemene Sinode

Rohr waarsku ons dat sulke dualistiese denke ons kan verblind vir die dieper misterie van Christus. Hy beklemtoon dat die werklike toets van die Skrif nie is of ons eksegese ’n argument wen nie, maar of dit ons verander na Christusgelykvormigheid. Ek voel dat dit uitstekend aansluit by ons gereformeerde oortuiging dat die Woord lewend en kragtig is wat ons telkens opnuut konfronteer.

LEES OOK: NG Kerk Namibië tree ná jarelange proses uit verband met NG Kerk se Algemene Sinode

Wat ek verder raakgelees het is dat Rohr ons wil herinner daaraan dat ’n ware ontmoeting met God altyd dogmatiese verstaan voorafgaan. Hermeneutiek kan dus nooit net teorie wees nie, maar dit moet altyd verbind wees aan ’n konkrete belewing van die Gees se teenwoordigheid. Calvyn se sensus divinitatis en Barth wat praat van die Woord wat ons ontmoet, verwys vir my hierna. Hier is nou waar die lig vir my opgegaan het. Die gesag van die Skrif lê nie in logiese redenasies nie, maar in die Skrif se vermoë om die Lewende Christus te openbaar. Jesus het gesê: “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken.” Die vraag wat Rohr aan ons stel, is eenvoudig: “Dra ons manier van Skriflees die vrug van liefde, geregtigheid en versoening?” As ons debatte slegs verdeeldheid verdiep, vrees versterk en harte verhard dan het ons hermeneutiek gefaal, ongeag hoe ortodoks ons dink ons klink.

Rohr beskryf dat ons persoonlike geloof ’n reis is wat deur verskillende fases gaan en dat ons nie almal op dieselfde tyd in dieselfde fase is nie. Sommige leef binne die sekuriteit van vaste grense terwyl ander weer geroep word tot die riskante openheid tot die Gees se leiding. Dit wys daarop dat in plaas daarvan dat ons mekaar as “liberaal” of “fundamentalisties” etiketteer, ons eerder kan erken dat ons op verskillende plekke staan in dieselfde pelgrimstog na volwassenheid in Christus.

Die NGKN se krisis gaan dus nie bloot oor hermeneutiese interpretasies nie, maar oor die getuienis wat ons lewer. Rohr daag ons uit om te vra of ons manier van Skrifhantering ons meer soos Christus maak, of maak dit ons meer soos beskermers van ons eie vrese? Deur na stemme soos syne te luister kan ons op ons pad van genesing, sonder om ons gereformeerde wortels te versaak, nederigheid en hoop hierin vind.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top