Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Chris Smith van Westonaria skryf: Ek reageer op die brief van André Mouton oor “Richard Rohr en die onstuimigheid in die NGK Namibië.
Die brief verwys dikwels na “Christus gelykvormigheid”. Dit is inderdaad ons roeping. Die vraag is egter: Hoe weet ons wat is Christus gelykvormigheid? Daar is net een bron en dit is die geskrewe Woord self wat getuig oor die vleesgeworde Woord.
Sy aanhaling “Dra ons manier van Skrif lees die vrug van liefde, geregtigheid en versoening” moet ons egter vra of dit die Bybelse definisie van liefde en geregtigheid en versoening is, of is dit die wêreld se definisie. Vra dan eerder wat sê die Woord is liefde en geregtigheid, ook binne God se heiligheid.
Daar word ’n ook ’n kontras gestel tussen die wat vashou aan die “sekuriteit van vaste grense” teenoor die wat hulle stel onder “die riskante openheid van die Gees se leiding”. Elke gelowige se vaste grense behoort die riglyne van die Woord te wees. Die Woord is tog ons rigsnoer. Om eerder jouself te laat gaan tot die openheid van die Gees se leiding, sonder die vaste grense van die Woord, kan maak dat jy dan die gees (met ’n kleinletter) se leiding volg, dus jou eie begeertes of wêreldse begeertes. Alles raak dan subjektief.
Die artikel is ook veroordelend oor die “ortodokse” denkrigting as ’n mens sien hoe hy skryf: “debatte slegs verdeeldheid verdiep, vrees versterk en harte verhard dan het ons hermeneutiek gefaal, ongeag hoe ortodoks ons dink”. Dit is ’n baie swak veroordelende beskrywing van persone wat “ortodoks” dink. Hy stel hy ook die kontras tussen teenoor die wat beskermers is van eie vrese (Sy siening van die ortodokse) teenoor die wat “meer soos Christus maak”.
Ek vermoed dat die “Liberale” groep – sy term, dalk eerder ’n vrees het vir verwerping vanaf die wêreld. Dit word ook duidelik in die sin “die krisis gaan dus nie bloot oor hermeneutiese interpretasies nie, maar oor die getuienis wat ons lewer.” Ons getuienis hoef nie aanvaarbaar gemaak te word vir die wêreld nie, maar eerder getrou bly aan die Woord.
Die enigste uitweg is om werklik meer tyd te spandeer en saam te soek in die Woord, en net in die Woord, oor wat die wil van God is. Daar word te maklik oorgegaan in “vasgelopenheid” en “aanvaar verskille maar net”.
