Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief: ‘Laat ons by die binêre hou’ 

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Malan Meyer van Kaapstad skryf: André Mouton se brief oor wat hy met sy lees van Richard Rohr geleer het, het ’n paar vrae by my laat opkom. André skryf die volgende van Rohr:

“Hy wys daarop dat ons debatte maklik verval in binêre kategorieë van konserwatief teenoor liberaal, getrou teenoor ontrou en reg en verkeerd.”

Is dit goed of sleg om te dink in binêre kategorieë van konserwatief teenoor liberaal, getrou teenoor ontrou en reg en verkeerd? En hoe kan iemand sê dat nie-binêre denke beter is as binêre denke sonder om self weer ’n binêre oordeel te maak?
André maak dan die volgende stellings wat noodsaak dat ’n binêre kategorie van goed en sleg voorveronderstel moet word:

“…die werklike toets van die Skrif nie is of ons eksegese ’n argument wen nie, maar of dit ons verander na Christusgelykvormigheid.”

“…’n ware ontmoeting met God altyd dogmatiese verstaan voorafgaan.” (Hierdie is baie dogmaties gestel).

“Hermeneutiek…MOET ALTYD verbind wees aan ’n konkrete belewing van die Gees se teenwoordigheid.” (Beklemtoning my eie).

Binêre kategorieë is daarom (selfs vir Richard Rohr) onvermydelik. Die vraag is daarom nie OF ons binêre kategorieë gaan gebruik nie maar WATTER binêre kategorieë ons gaan erken. Wat is die standaard, norm of reël wat ons binêre kategorieë gaan bepaal?
Hou ons vandag by die Standaard wat die binêre kategorieë soos man en vrou, waarheid en leuen, gehoorsaam teenoor wetteloos vir ons gee?

Hierdie vraag bring ons na die volgende stelling van André:
“Die gesag van die Skrif lê nie in logiese redenasies nie, maar in die Skrif se vermoë om die Lewende Christus te openbaar.”

Ek sal vir André aanmoedig om die oorsprong van die woord “logies” na te vors, aangesien dit moontlik ’n verband het met die Lewende Christus in Johannes 1.

Behoudendes sal beslis saamstem dat die krag van die Skrif daarin lê dat dit die Lewende Christus openbaar, maar nie dat dit die bron van die Skrif se gesag is nie. Die gesag van die Woord van God lê eerder in die gesag van die Een wat self aan die woord is. 

Laat ons daarom by die binêre hou: Jesus het ons nie net pienk gewas nie; ons was skarlakenrooi, maar nou is ons so wit soos sneeu!

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

2 thoughts on “Brief: ‘Laat ons by die binêre hou’ ”

  1. Francois Deyzel

    Ek was nog altyd stomgeslaan dat die “elkeen se waarheid is die waarheid” afgedwing word as die enigste waarheid.

Comments are closed.

Scroll to Top